Hallo Wouter
Ek wil jou net op ’n paar mistastings wys in die betrokke brief (nie almal joune nie).
Jy sê Afrikaans en Engels word in die wetsontwerp uitgesonder as twee voorheen bevoordeelde tale. Die wetsontwerp vertrek vanaf ’n valse basis: Afrikaans was nooit bevoordeel deur enigiemand of –iets nie, nie gedurende die goewerneurs se tyd nie, nie gedurende NP-bewind nie, nooit nie. Afrikaans moes sedert sy ontstaan baklei vir asem en het teen geweldige weerstand en deur middel van ’n intense stryd uiteindelik ’n amptelike taal geword maar dit was net vir ’n korte tydjie, naamlik vanaf 1925 tot 1994.
Engels was ook nooit bevoordeel nie; hy’s bloot op almal afgedwing.
Afrikaans is wel ’n Germaanse taal, spesifiek ’n Dietse taal en is, soos die akkerboom, ook inheems. Nog méér inheems as selfs die akkerboom of, sê Zoeloe. Die akkerboom het nie veel verander nie (dalk niks) en Zoeloe het klaargemaak hier aangekom. Afrikaans, egter, het hier ontwikkel uit hoofsaaklik 17de eeuse Hollands.
Jy vra wat dit baat of Afrikaans inheems of uitheems is. Ek weet nie wat jy eintlik daarmee bedoel nie. Sê jy of Afrikaans nou inheems of uitheems is, dit sal niks bydra tot sy stryd om oorlewing nie? Ek sal bly wees as jy dit kan opklaar.
Jy sê die " ... gesprek oor Afrikaans het skielik ongemaklik naby aan die moontlikheid van verlies gekom hiermee." Waarmee? En watse verlies kan die gesprek oor Afrikaans ly? Ek sal dit waardeer as jy laat weet.
Jy praat van die stryd wat Engels gewen het. Dit is onmoontlik; ’n taal kan nie wen, verloor, spring of swem nie. Jy bedoel die Engelse het gewen. Op die oomblik, met die groot gros anglofiele onder ons se hulp, gaan hulle nog verder wen.
Hoekom sê jy die debat oor of Afrikaans inheems of uitheems is, is hartseer; veral in die lig van Breyten se stelling dat Afrikaans ’n bastertaal is? Dit is in elk geval ’n onsinnige stelling omdat daar geen taal vandag bestaan wat nie ’n bastertaal is nie. Die Engelse vertel eintlik met groot trots dat Engels dié bastertaal van bastertale is.
Groetnis
Jan Rap

