Miskien Eendag
Miskien eendag
sal jou soene weer
my liggaam kneus
Sal jou soene weer
my liggaam skroei
Miskien eendag
sal jy weer
my hart in jou hande hou
En dalk sal jy sê
ek kan terugkom na jou
REFREIN:
Hartseer se asem is swart
Verlies se oë blou
Grou is die aura van smart
Roet se mantel hang om berou
Rooi is my verlange, my verlange na jou
Miskien eendag
sal jou spore weer
deur my dae loop
Sal jou woorde weer
die twyfel van my stroop
Miskien eendag
sal jy weer
my kop teen jou bors lê
En dalk sal jy sê
dis al wat jy nog ooit wou hê
REFREIN
Miskien eendag
sal ons besluit
ons het genoeg
van hierdie lewe gehad
saam die aarde verlaat
Miskien eendag
sal ons onbevange
tussen sterre verdwaal
en verwonderd toekyk
hoe die heelal asemhaal
REFREIN
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.


