ek skryf
van vroeg vanmiddag af
sien ek hoe die mis met bleek messiasvoete
die vogvoue van valsbaai se watervel aftree
skimmig aan wal sluip
en helderberg dan klip vir klip
voor my koper oë wegdra
misvingers vou tussen wingerdlote in
vat voel vryf streel
kruip dan later laag op klam knieë verder
en krul ’n wolkstert om my huis se winterhoek
’n kiewiet sluk sy tjilp
hy het niks om te sê
ek dink
van vroeg vanmiddag af
toe die mis nog ’n jong waterkiewiet was
wou ek jou helder soos ’n berg bemin
ek wou jou loot met my wintervingers
vat voel vryf streel
laag tussen jou messiasknieë inkruip
my baai oopvou en jou vogtig betree
ek wou my skimmig by jou hart inwolk
bleek woorde wou ek wegdra soos klip
totdat jy niks meer het om te sê
ek sê
van vroeg vanmiddag af
toe die berg in sy klipvel oopgevou was
het ek geweet dat my hoekhuis messiasloos
tussen winterwingerde loot en wat ek
vat voel vryf streel
’n waterwolk is wat my bleek oë skimmig sluk
dat ek ’n klipkiewiet is as die mis my binnekruip
net ek het iets daaroor te sê
ek weet
reeds van vroeg vanmiddag af
dat die mis in my sal terugloot
en al is ek met woorde uitgeklip
kan niks wat ek sê
vat voel vryf streel
hierdie skimmige sekerheid weerlê