"Mikroaggressie in konteks van die Suid-Afrikaanse kunswêreld– ’n speelveld vir ongelykhede" - Penveer
Die term mikroaggressie is in 1970 deur Chester M Price geskep.1
Mikroaggressie, per definisie, is die term vir algemene verbale, gedrags- of omgewingsaanslae wat gepaard gaan met afbrekende of negatiewe houdings teenoor lede van ’n gemarginaliseerde groep, verbaal of nie-verbaal en tipies outomaties. Die term het eers verwys na ras, maar het later geslag, herkoms, seksuele oriëntasie en gesondheidstatus ingesluit. Dit begin egter al hoe meer uitbrei na die “alledaagse” individue in alle sosiale geleenthede, hetsy werk of ontspanning.
Mikroaggressies breek mense af op gronde van die persepsie dat hulle aan ’n sekere groep behoort wat aan sekere “verwagtinge” tekortskiet.
Ten spyte van my ervaring van mikroaggressie, was ek onbewus van die term, totdat ’n belese vriend my attent daarop gemaak het.
Uiteindelik was ’n negatiewe persepsie nie meer ’n gevoel nie, maar ’n nare werklikheid wat geopenbaar is.
Dit is asof daar ’n paradigmaskuif is post-Covid wat die Boks van Pandora oopflerts: hoogmoed, snedigheid, in essensie ’n nasie van skaam-kwaad mense. Mense wat hul verbly in ander se leed en dit aan die sosiale media-klok hang. Klassieke sleutelbord-sluipmoordenaars wat hulself in gewone geselskap voordoen as nederig en inskiklik. Dit is ’n tasbare devolusie van medemenslikheid en beleefdheid – waardes – van ’n gesonde samelewing.
As ’n aanhanger van kunsfilms, veral Franse films, het dit my herinner aan die fliek Ridicule (1996) wat afspeel in die agtiende eeu in die koningshuis van koning Louis die 16de in Versailles. In ’n bod om ’n arm gemeenskap wat in die moerasvlaktes van die Dombes-streek bly, se lewens te verbeter en watergedraagde siektes hok te slaan, besluit baron Grégoire Ponceludon de Malavoy – ’n jong, arm aristokraat en ingenieur – om die voorstel van die skema om die moerasvlaktes te dreineer aan koning Louis die 16de voor te lê. Op pad na Versailles word die baron beroof en aangerand, maar hy word ingeneem deur die Marquis de Bellegarde, ’n geneesheer wat hom tou wysmaak in terme van die koningshof se etiket en krag van spitsvondighede wat koning Louis die 16de hoog aanslaan. Die baron sou die wyshede moes inspan, want om in gesprek te kon tree met die koning moes hy fronte voorhou om die respek van die amptenare van die koningshof te wen. Stelselmatig het die naïewe baron die korrupsie en agteraf karaktereienskappe van die edeles ontmasker: naywer en nyd, maar veral magsmisbruik van die hooggeplaastes wat ingespan is om ander “minder bekendes” te verneder.
Ek kan vereenselwig met die baron se pleidooie om erken te word vir unieke egtheid en altruïsme. Behoort die kunstewêreld nie juis ’n veilige hawe vir alle kunstenaars te wees, ten spyte van agtergrond, sosiale status en – veral – verskillende oogpunte nie? Dit is seer sekerlik die eeu van die Waterdraer (Aquarius) – almal wil ’n vrye sê hê, sonder om aanspreeklikheid vir die gevolge van hul aksies te erken en dit gerieflikheidshalwe – soos dons wat uitgeskud word in die wind – weer in ere te probeer herstel, al is die ander individu se integriteit skade berokken. Aannames word vrylik gemaak, sonder om agter die kap van die byl te kom.
Meer gevestigde kunstenaars neig om nuwelinge of minder bekende kunstenaars af te kraak. Sodra die nuwelinge of minder bekende kunstenaars hulself verweer teen die aanslae, word hulle afgemaak as “moeilik om mee te werk”, of die nuwelinge moet hul tot stilte wend om verdere spot te verduur.
Volgens Robin Evan Willis se artikel “Sour notes: confronting bullying in the performing arts”2 skuil boeliegedrag agter die skanse van kritiek, kunstenaarstemperament, of tradisie. Dit tas vertroue, veiligheid, kreatiwiteit en ’n gevoel dat hulle behoort aan die kunstewêreld aan. Neurowetenskap toon dat vrees die oorlewingsmodus van ontdekking, kreatiwiteit en ’n gevoel van verbinding aantas.
Meer kommerwekkend is die feit dat kunstenaars vir hul eie welstand moet veg, sonder die vrees van vergelding.
Die waarneming spruit nie voort uit die perspektief van ’n sogenaamde slagoffermentaliteit nie. Dit ís ’n fluister wat skree in talle kunstenaars se ore. In kort – ’n ongemaklike waarheid waaroor niemand wil praat nie.
Hier een van die voorbeelde: ’n misstap in ’n oomblik van onkunde wat goedsmoeds gebeur – sonder enige bose intensie – wat uitmekaargetorring en gedissekteer word en geïnterpreteer word as ’n persoonlike aanval. Die verontregte individu is tydelik in die geselskap van die “kwaaddoener” en daar is geen sprake van hul misnoeë nie. Dan begin die swartsmeer-veldtogte teen die onbewuste persoon: Gif word stadig in hul invloedsfeer gepomp. Die ander party is salig onbewus van hul misstap.
’n Eenvoudige aangesig tot aangesig gesprek of selfs ’n oproep kon die potensiële misverstand in die kiem smoor, maar die vonk is in die kruitvat en die geaffronteerde vermy konflikresolusie, maar verkies om skaam-kwaad hul vertoë op die internet te lig, soos ’n held op veilige veld of om die eensydige aanname in stil gesprekke met hul sosiale kring te laat sypel – hetsy by die werk of by sosiale aangeleenthede.
.........
’n Eenvoudige aangesig tot aangesig gesprek of selfs ’n oproep kon die potensiële misverstand in die kiem smoor, maar die vonk is in die kruitvat en die geaffronteerde vermy konflikresolusie, maar verkies om skaam-kwaad hul vertoë op die internet te lig, soos ’n held op veilige veld of om die eensydige aanname in stil gesprekke met hul sosiale kring te laat sypel – hetsy by die werk of by sosiale aangeleenthede.
.........
Aanmerkings word gemaak oor die onbewuste party. Sonder dat die onbewuste persoon kennis dra, word hy/sy die teiken en mikroaggressies word teen hom/haar gerig. Die “sondaar” word onder die mikroskoop geplaas en sy/haar bevoegdheid en stand in die werks- en kunstenaarshiërargie word in twyfel getrek, verag of afgemaak as minderwaardig.
Die “sondaar” word op die baadjie getrakteer. Hulle weeg die “sondaar” op in terme van gewildheid en sosiale stand. Stadig begin hulle die “sondaar” uitmekaartrek. Die “sondaar”, wat eertydse wedersydse respek en veral integriteit hoog aanslaan, se waardes word gewapeniseer en afgemaak as ’n teken van swakheid. Die “tekens van swakheid” – soos inskiklikheid, vriendelikheid en medemenslikheid wat die globale tydgees sus – word met belaglikheid bejeën. Die “sondaar” begin die subtiele mikroaggressies waar te neem en te internaliseer, want hy/sy is verward oor die oorsprong van die vyandige behandeling wat nie net voortspruit uit interaksies met die verontwaardige nie, maar as ’n kollektief van verskillende kunstenaars.
In plaas daarvan om die “sondaar” op te bou en op ’n mooi manier te vermaan, breek hulle die ander party af in die gesiglose kuberruimte en in ’n klein, bevooroordeelde gemeenskap.
Party maak hulself skuldig daaraan om venynige aanmerkings soos atoombomme op ’n reeds sensitiewe, verwarrende tyd in die wêreld te loods in die kuberruimte. Hulle het nou deel geword van die emosionele verbyry-skietgeveg-kultuur. Niemand kan dit vryspring nie, veral nie in die kunste nie.
Dit laat my met talle vrae: Is dit uit eiewaan of ’n minderwaardigheidskompleks? Of dalk ’n kombinasie van die twee? Of is dit dalk dat hulle self slagoffers was en dus volg in die boelies se skadu’s om die boelies se guns te wen en dus deel word van ’n “pakhond-mentaliteit”? Het die individue ’n sin van elitisme, omdat hulle gevestig is in cliques en hulle neerkyk op die ander individu, omdat hulle die ander party as plebs en minder ag? Of is dit die gesigloosheid wat die internet bied om hul skadukant van hul persona lewe te gee?
Die kuberboelie se gedrag het verreikende gevolge. Die slagoffer kan die volgende ervaar: fisiese simptome, soos hoofpyne; onttrekking van sosiale interaksie, omdat hulle veroordeling en verdere boeliegedrag wil vermy; angs; depressie; en ’n gevoel van wanhoop. Dit word ook verbind met ’n toename in selfdood onder tieners, en selfs volwassenes.3
In die kunstewêreld, wat nie swart en wit van aard is nie, word die vloeibare aard van kuns – wat ’n persoonlike uitdrukking van hul gawes en emosies is en dus ’n swaar gravitas vir hul selfbeeld dra – aangeval.
Die sensitiewe siele wat nie vuurvas teen hierdie uitlatings is nie, se lot is onseker: uitbranding, angs, selfs so erg dat hul hulself uit die lewe stap. ’n Voorbeeld van so ’n uitgeworpene is Vincent van Gogh. Hierdie sensitiewe siele word aangesê om ’n “dikker vel te ontwikkel”.
Die onderwerp van selfdood en alles wat daarmee saamgaan, is kompleks. Vir elke selfdood is daar meer as 20 mislukte pogings (WHO 2021). Die lae- tot middelklas-inkomstegroep verteenwoordig 77% van selfdood globaal (WHO 2021) – die inkomsteklas waarin kunstenaars juis val. Volgens die WHO (2014) is ’n geskiedenis van depressie en ander geestessiektes, wanhoop, die misbruik van middele, viktimisasie, ensovoorts van die faktore wat lei tot selfdood.
Volgens studies wat Scientific America4 uitgevoer het, neig kunstenaars en skrywers 20 maal meer om aan bipolêre gemoedsversteuring te ly as die gewone publiek, terwyl skrywers en kunstenaars ook meer as 10 maal meer neig om aan depressie te ly. Veral bipolêre lyers wat emosies meer intens ervaar as Jan Alleman, word erg geaffekteer deur sulke aanslae.
Die tipe slagoffers se name is nie onbekend aan ons nie – Van Gogh en Hemingway. Op eie bodem, Ingrid Jonker, wat die status quo bevraagteken het. Sy was een van die bome wat die meeste wind gevang het.
Dalk moet ons die spieël na onsself kantel. Die oplossing is om die narratief te verander en begin reflekteer voordat ons reageer. Kom ons vra ons af voordat ons iemand wil afkraak: Is dit wat ek sê, gaaf? Is dit wat ek sê, opbouend? Is dit wat ek sê, waar? Dit klink dalk na ’n afgewaterde respons, maar om dit die wegspringpunt te maak, ongeag hoe gering dit geag mag word, kan ’n verskil maak in iemand se lewe. Die Dalai Lama som dit goed op: “As jy dink dat jy te klein is om ’n verskil te maak, probeer in dieselfde kamer as ’n muskiet slaap.”5
Ek spreek dank uit teenoor die etlike weldoeners en altruïste wat ander kunstenaars onder hul sterk vleuels neem en alles in hul vermoë doen om onbekende skrywers hul regmatige plek in die son te gun. Ek dank die hemele vir dit. Hulle is wel ’n handjie vol, maar hul welwillende natuur bied ’n klankdigte ruimte teen die geraas van die wêreld se harde woorde. Dit doof die pyn uit, al is dit net van korte duur.
“Leef en laat leef.”
Bronne:
- Microaggressions: definition, types, and examples
- Sour notes: confronting bullying in the performing arts
- Project: cyberbullying and the increase in suicide
- What percentage of artists have mental health issues?
- 125 Famous Dalai Lama quotes to change your life


Kommentaar
Ek voel die rimpeling van die klippie tot hier op die rand. Uitmuntend.