Madiba, Tutu, Boesak, Gerwel praat,
selle taal as dié vannie Vorstergesin,
vannie Botha’s, Zaaymans, Havgards,
van daai dronkie by Stellenbosse meul,
Bibault se ma was slavin, hý “Africaander”,
selle taal as martelaar, baas, galgwasser,
selle taal as Van Oudtshoorn, Van Plet,
Ansela van de Caab, Krotoa Havgard,
van Hendrik Coetzee, van Elton Jantjes,
van Oom Dawid, van Tant Anna, Petoors,
vannie tronkbandiet, vannie hawewerker,
alle tale is gelyk, nie een beter of sterker
kanti, hierie verwysing na haar, my Moeder,
as “Boer s’n”, maak my verskriklik moer in,
was diegene dan ook daar, UDF-stigtingstyd,
vir oud-soldate was daar altyd nogge stryd,
selfs vir PTS was daar nog soms genesing
vir eeue praat Rapport-lesers al Afrika-taal,
op geen anner Kontinent, so Kontinentaal,
so prominent, sosio-histories-linguisties,
pas, soos Moeder-taal, plaaslik, in Afrika,
sing Mens nie verniet “Nkosi Sikelela...”,
sorg Moeder vir Mens, sedert Gondwana,
sedert tyd van plein naïef-onskuldigheid
heers daar g’n beswaar, versus Waarheid,
versus uitbeelding van Moeder se dra-tyd,
hoe Afrikaans in slawehuis tuisgemaak is,
was slaaf, Eerste Mens, almal, oppie plaas,
moes Mens, ter wille van gewilligheid, suiwerheid,
alles wat afdwingbaar was, by situasie aan-, inpas,
eers later begin verwys na onvanpas “ras”-’n-“klas”
is tug uitgeoefen, straf uitgedien, in Afrikaans,
voorman gewoonlik uit werkers uit gekeur,
glad van tong, tog voorbeeldig-submissief,
goeie een, vir baas, om aan sy kant te hê,
veral as hy nog by baas se eie dogter lê
is samelewing dus oor eeue, Afrikaans-gerig,
net innie stad waar Afrikaans minner gewild,
minner oppie mêp is, nie orals altyd ewe nca,
wou sy toe nie idillies, rustig ontspan, phola
in Moeder Afrika’s Afrika-taal-status-toets,
eeue gelede al deur Afrika-taal geslaag,
net Afrikaanses, sprekers van “isiBhulu”,
sal van struikelblokke, hindernisse, laste,
soos onkunde-ontkenning, Self-destruksie,
in murgessens, van struktuurgeweldstelsel,
in handel-’n-wandel, leef-’n-beef s’n, ja,
op hul eie-uniek’ wyse ontslae kan raak
Millennium Drie Homo Sapiens Kwadraat,
so ampertjies al bereid, uit sjatansgreep,
uit als wat Mens so submissief hou,
los te kom, Self te bevry, waarlik,
skoon te kom, m’t als wat Mens kort,
veral, van Visie, Missie, van Skepper,
Heiligdom, van Hulpbron Nommer Een,
waarop Homo Sapiens Sapiens, Mens,
vir Oorlewing, Bevryding, sal moet steun,
oor grense heen heel duid’lik bos moet los:
so super-ultra-anti-Boeriaans,
suiwer, geraffineerd Afrikaans,
hoe mooi haar konsonantgeklengel,
roep-’n-antwoord van al haar vokale
Jacobus Faasen

