Middernagblues

  • 1

Foto: Canva

Middernagblues

Vandat ek ouer en gryser en niks wyser is,
word ek weerloos ... en onmiskenbaar: wees.
Stilweg steel die skemer dit wat ek ken –
verruil sy flambojante baadjie vir fesblou vodde.
Snags worstel weesheid heelnag met my
en ek word wakker met my kop op ’n klip
net daar waar my ma se volvrou ma-skoot was.

Die wysheid het vir my kom jok:
ek’t haar toegelaat om halwe waarhede –
hegpleisterwoorde –
te laat plak,
haar toegelaat om fluisterend
my te kom verseker dat seer heel word,
maar die pleister se gom bly klou en klou ...

Die grysheid het by my kom intrek
elke uitgehuurde kamer kom opeis
my binnekant buitekant kom dop
my leeg gesuig en uitgeblerts.

Is dit dan hoe dit is?
Dié twee word eind’lik één.

Lewe en dood.

Dié rondomtalie laat my verwese, gehawend agter,
druk sy vuil vingers teen my lewensbril
vreet my waardevolle vrede
slurp slordig – sonder om te vra –
my hele lewe op
tot niks van my oor is nie
en ek self my mense en later my eie doodlas moet dra.

  • 1

Kommentaar

  • Johan van der Merwe

    WOW, Dit is presies hoe dit voel, daardie gejaag na wind maak skielik 'n kilometer sin as die einde eindelik begin, die swaardra begin sy tol eis en daardie bed wat so kort is in daardie lang nagte wat te lank word. Baie baie mooi en ek voel sommer nou meer waardeer met die gedig.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top