Michel Houellebecq en die virus

  • 0

Foto van Michel Houellebecq: YouTube

In haar boek oor Michel Houellebecq, Tagtig gedigte en twee essays, maak Catherine du Toit die volgende opmerking: “In ’n wêreld van toenemende institusionele wantroue waar konkrete aktiwiteit minder gewig dra as die geslaagde verslagdoening daaroor en woorde gevolglik selfs nóg meer as in die verlede ingespan word as uitgeholde lakeie vir die kosmetiese ontwikkeling van ‘reputasiebestuur’ of ‘veranderingsfasilitering’ en selfs skrywers gedwee die weg volg van die polities korrekte en die intellektueel aanvaarbare, was Houellebecq vir my ’n roerende andersheid.”

Hierdie kontroversiële Franse skrywer en sosiale kommentator het middel Mei in die internasionale pers van hom laat hoor betreffende die huidige pandemie. Van sy kollegas het, so sê hy, via e-pos probeer vasstel of hy nog lewe, waartydens hulle ook enkele interessanthede, veral oor inperking, kwytgeraak het: dinge soos hulle siening oor ’n skrywer in afsondering, of mens op jou beste skryf as jy sit of na jy gaan stap het, en die waarde van lesers vir skrywers. Houellebecq, wat nou reeds legendaries (en berug) geword het vir sy skerp uitbeelding van en kommentaar op die spektakelsamelewing, maak in die berig sy eie opmerkings oor die huidige inperking van sosiale kontak en verhoudings, die taan van Westerse voorspoed, en die etiek van menseregte (byvoorbeeld hoe gestorwenes behandel word in die pandemie), spekuleer oor die einde van die mensheid, en kom, in teenstelling met die meerderheid van menings, tot die gevolgtrekking dat die wêreld na die pandemie nie wesenlik anders sal wees nie, maar dieselfde, net slegter as gewoonlik.

Houellebecq sluit aan by en steun blykbaar die standpunt van iemand soos Richard Haass, wat onlangs skryf dat die pandemie nie die geskiedenis sal omvorm nie, maar slegs prosesse wat reeds lank aan die gang is, sal verhaas. Haass pas hierdie stelling veral op die politiek toe (hy praat van ’n moontlik toenemende demokratiese resessie wêreldwyd), terwyl ander kommentare ook noem dat selfs globalisering nou onder verdenking staan. Houellebecq dui aan dat die belewenis van die pandemie tegelyk angswekkend en mateloos vervelig is. Die historiese prosesse wat die afstand tussen mense vergroot, is volgens hom niks nuut nie – menslike verhoudings gee trouens lank al blyke van uitgedien wees.

Mens sou graag ernstig met Houellebecq wou verskil en aandui hoe die veranderde omstandighede moontlik ’n inkering en ’n ander manier van doen sal bewerkstellig. Sodra jy dit wil doen, trek ’n opskrif, soms diep in gesaghebbende bronne, soms vanuit die pers jou aandag, en verstaan jy beter waarom hy ook op ’n stadium ’n handleiding vir oorlewing geskryf het. Gebalanseer op ’n mespunt tussen die veelbesproke hoop en die realisering van ’n tipe utopie wat ons verdien, kan ons tereg vra of ons dalk hier weer te doen het met nog ’n stuk toekoms wat ons vandag vanuit die verlede ingehaal het, en of ons wel staan in die aangesig van iets radikaal anders.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top