Met Retoer maak Andries Bezuidenhout 'n stewige toetrede tot die poësie

  • 0

Titel: Retoer
Outeur: Bezuidenhout, Andries
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN
: 978-1-86919-182-5
Prys: R120, 00
Aantal bladsye: 104
Bestel jou kopie nou by dirkprotea@gmail.com

Andries Bezuidenhout sal vir die luisteraars van Afrikaanse rockmusiek bekend wees as die Roof in die Brixton Moord en Roof Orkes. Hulle het twee suksesvolle CD’s geproduseer (Spergebied en Terug in skubbe) voordat Bezuidenhout die solo-CD Insomniak se droomalmanak gemaak het. In ’n stadium is daar gesê dat Brixton Moord en Roof klink soos wat Koos du Plessis sou geklink het indien hy die musiek van Nirvana geken het. Maar dit was toe. Nou het Andries Bezuidenhout (wat ook rubriekskrywer en sosiologiedosent is) ‘n digbundel met die titel Retoer gepubliseer by Protea.

Daar was nog altyd ’n interessante wisselwerking tussen Afrikaanse rocksangers en die Afrikaanse letterkunde. Aan die een kant gee die rocksangers met hulle verwysings na skrywers soos Van Wyk Louw en Breytenbach aan die Afrikaanse literêre tradisie ’n mate van aansien en geloofwaardigheid by hulle aanhangers. Aan die ander kant gee die konneksie met daardie literêre tradisie weer aan die rocksangers iets respektabels in die oë van die literêre establishment (alhoewel dit nie noodwendig iets is wat jy wil hê as jy ’n rocker is nie).

Met die verskyning van Retoer is dit duidelik dat Bezuidenhout homself nou binne die literêre tradisie wil plaas. Dit is ’n bundel wat op talle vlakke aansluit by dit wat binne daardie tradisie van ’n netjies en goed-gekonstrueerde bundel verwag word. Die titel en voorbladfoto suggereer reeds dat daar gefokus sal word op die idee van reis. ’n Retoer is ’n oënskynlik beplande reis wat impliseer dat jy sal terugkeer na die plek waarvandaan jy vertrek het. Die bundel wys egter herhaaldelik daarop dat die idee van ’n retoer ironies opgeneem moet word: daar is talle afwykings, ingrepe en oponthoude wat veroorsaak dat die patroon hom nie so netjies uitspeel as wat jy verwag het nie. Verder word die bundel saamgebind deur twee deurlopende verwysings, naamlik dié na die wag op ‘n Kaptein wat rekenskap gaan eis (ingegee deur Elsa Joubert se 1963-roman Ons wag op die kaptein) en die Bybelse geskiedenis van Lot in die sondige stede Sodom en Gomorra.

Die eerste van die bundel se vyf afdelings, “Spronge”, fokus veral op die proses van kuns maak. In die eerste gedig, “Pleidooi”, word die onheilspellende “Kaptein” saam met die leser aangespreek en probeer die ek sy eie projek met die bundel regverdig. In ’n toespeling op Breytenbach se bekende gedig “Bedreiging van die siekes” sê hy:

Al is ons waarskynlik
taamlik
skadelik
wees ons tog genadig.

Verskillende fasette van die kreatiewe proses kom in hierdie afdeling aan bod, onder andere die idee dat dit wat onder elke skepping uitbeur, telkens “nog ’n ingenome selfportret” is (vergelyk die gedig “Jy het my gemaak” met sy toespeling op Jan Rabie se kortverhaal).

Die tweede afdeling, “Reise”, is die mees omvangryke in die bundel en bevat die siklus “Retoer” wat die geskiedenis van die Europese setlaars in Suid-Afrika vertel. In aansluiting by die tradisionele patroon in Afrikaner-geskiedskrywing begin dit in ’n gedig getitel “(Genesis)” met die aankoms van Van Riebeeck se drie skepe. Hierna word die Afrikaner-geskiedenis dan in ’n aantal vlugtige grepe vertel totdat dit in die gedig “(Eksodus)” eindig met die vraag: “Skepe van ver het ons hier gelaat;/ sal ’n vliegtuig ons eendag kom haal?” Een van die sterkste gedigte in hierdie afdeling bestaan uit slegs een kriptiese, maar suggestiewe reël: “Baie dinge laat ons koud.” Alhoewel die spreker in hierdie afdeling homself deel ag van die Afrikaner-groep wie se geskiedenis vertel word, problematiseer hy in die gedig “Ons” die oënskynlike samehorigheid van hierdie groep. Hier distansieer die spreker hom van ’n ouer geslag Afrikaners se nostalgie oor die verlede en ook van dié wat idealisties is oor die toekoms. Volgens die laaste reëls van die gedig is die nuwe geslag volkome onsentimenteel gerig op oorlewing:

Ons het geen nostalgie oor dae toe dit nog goed gegaan het nie.
Ons wil nog steeds net oorleef, dankie.
Ons is burgers van die wêreld,
kinders van Afrika.
Dis ons wat in Angola en in Wimpy Bars moes vrek.

Dié afdeling bevat ook gedigte oor die ervarings van ’n soldaat in die apartheidsjare en Afrikaners wat Suid-Afrika verlaat het om in lande soos Kanada of Australië te gaan woon. Hiernaas ontmasker ’n gedig soos “Ons ry iewers naby Ottersfontein verby” die verknogtheid aan die grond van Afrika as ’n illusie wat op stories en vae herinneringe berus.

Die volgende twee afdelings, “Sodom” en “Gomorra”, handel oor Pretoria en Johannesburg onderskeidelik. Hierdie gelykstelling trek die lyn deur na die Afrikaanse literêre tradisie waarin digters soos Totius en Opperman die stad as bron van morele verval geteken het, maar ook na die rock-lirieke van Valiant Swart wat verwys na die wettelose stede in die Noorde as “te lekker vir woorde”. Die afdelings werp ’n genadelose, maar tog ook deernisvolle, blik op hierdie twee stede. Pretoria is die stad van verbeeldinglose stadsbeplanning (“Garsfontein Uitbreiding 176”), ’n staatsdiens gehuisves in kantoorblokke wat soos “leggerkabinette/ langs Kerkstraat staan” (“Administreer”) en waar die wit kinders van Afrika op acid trip (“Afrika se wit kinders” en “Acid”). Hiernaas is Johannesburg die stad wat jou konfronteer met die gaping tussen ryk en arm. Dit is ’n stad waar die reuk van “aangebrande rys” en “macaroni-en-kaas” in Brixton hang, terwyl die sushi bars in Mellville oopmaak (“Aandete in Brixton”), waar die Brixton- en Hillbrow-torings die “polse van die inligtingseeu” deur die ruimte stuur bokant mense wat toustaan vir staatspensioene (“Brixton, Johannesburg”) en waar die rykes vanaf die vroegste dae van die stad se ontwikkeling probeer om van die armes te ontsnap (“Villa Arcadia” en “Hopscotch”). Dit is duidelik dat die fokuspunt en meelewing van hierdie gedigte lê by die gewone stedelinge wat soos “bloed by die trein uit [loop]/ sodat die stad se are op hul arbeid kan teer” (“Acid”) en in Oosblok-styl woonstelle woon (“Hok”).

In die slotafdeling, wat veelseggend genoeg “Vertrekke” eerder as “Aankomste” heet, word daar teruggekeer na die motief van die Kaptein wat in die eerste gedig aangeroer is, sodat die bundel op ’n nogal gespanne noot eindig. Die laaste vraag wat in die lug bly hang, is dié oor die wyse waarop alles gaan eindig.

In die geheel gesien is Retoer ’n bundel wat ’n besondere gevoeligheid toon vir hedendaagse aktualiteite tesame met ’n bewustheid van die historiese lae wat daaronder lê. Interessant genoeg vir ’n rock-musikant en liriekskrywer is Bezuidenhout se poësie inhoudelik en tegnies nogal tradisioneel, alhoewel hy tref met sy skerp waarnemings en verrassende beelde van die stadsomgewing. Die tekeninge in die bundel dra myns insiens weinig by tot die gedigte en doen selfs op sekere punte afbreuk daaraan deurdat dit ’n amateuragtige indruk skep (veral dié by die gedig “Mirage”). Ook opvallend is die digter se doelbewuste opheffing van die liriese element in sommige van die gedigte ten einde iets van die brutale realiteit van sy leefwêreld op te vang. Die digter skryf in die gedig “Ek ry met ’n knop in my keel” hoe graag hy ’n netjiese vers wou maak, maar moet dan tot die slotsom kom:

Maar my woorde is krom, my note is vals
en ek is nie ’n koormeester se gat nie.

Ten spyte van hierdie selfverminderende uitspraak maak Bezuidenhout met Retoer ’n stewige toetrede tot die Afrikaanse poësie. Dit is ’n bundel wat heelwat bied om aan te herkou.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top