Met kitaar, kopdoek en baret

  • 3

Waar hy was
hang vermoede naklanke
nog steeds in die lug.
Mense wat simpatiseer kyk op en frons,
hul terloopse oë soek, vra woordeloos:
“Naklanke, of tone vol van hoop,
wat uit die sterreruim aanmeld,
wagtend op die kans om ingebind te word
in gerwe hemelse pitkos,
nuut gekomponeer as odes vir die lewenspel?”
Onwetend was hul egter
dat sy gerf, vir laas hier afgesekel en -gesens
vir die trapvloer
van die laaste woordryk oesjaar in sy dagboek
voortaan ikabod sal wees.
Nou word die kitaar as sy jaagbesem weggepak,
bloot ’n reliek
waaroor ’n nakroos later liefderik sal streel.
Die wanmandjies word weggegee
as memento’s van voortreflikheid;
en die laaste jaar se kafmied
as verloopte bron, met weemoed gegroet;
die laaste een op hierdie werf
met sy musiekmakelary, sy kuipery,
sy smidslokaal, dwergkwekery,
en biblioteek
waar sterre in die boekery
’n oomblik stil gaan staan
om sy bekende hand te groet.

J de J Onrus
30/12/2015

  • 3

Kommentaar

  • Paula Hartzenberg

    Dis pure lekkerte om hierdie unieke gedig te lees. Die hand aan die einde is ontroerend en stem my persoonlik tot nadenke oor Wicomb en elke mens se lewe.

  • Trudie Boverhoff

    Die jaagbesem mag weggepak wees, maar in dié gedig, en in Randall se musiek, leef hy jubelend voort.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top