Merwe Scholtz: 12 gedigte uit die nagelate manuskrip Van Sater tot Sondag

  • 0

Tuiskoms
Pasiënt
Dagbreek
Epifanie
Voorspelling
Musiek
R.i.p.
Blompot
Aan stille waters
Seisoene
Jou-jou
Mozart se droom

Tuiskoms
 
Daar is vannag iets wat haper,
iets skort, iets skiet te kort
in my verlange na
nog ’n geliefde dode, my jagmaat wat my
naby Thabazimbi met lantern
en ’n halwe beker Klipdrift
inwag in ons koue tentjie.
Dieselfde geld vir my verlange na
die ene met die bene en
glansryk die malse openbare dye wat
diep in die kussings wag op herhaald
die reperkussies.
Waarom haper daar hardnekkigs iets aan
die jag, die jags verlede van die skedes en gewere?
Is dit omdat al lankal alles, ook diegene
waarna hy soms ontydig, driftig verlang het
lankal reeds heeltyds rustig tuis was waar twee saans
aangesit, soms outyds opgesit het en soms dikwels,
nogmaals nota bene, snags
sterflik saam kon aanlê op, hemels,
aardskuddings van, ook ouderwets,
die rinkelende koperkatel.
 
 
Pasiënt
 
As jy weer hierlanges kom, kom kuier,
help my om die verveling weg te luier.
Dis mooi weer buite, die kamer is gesluier.
Ek hoop as jy kom die blomme blom.
’n Enkele vlinder knipper met sy vlerke om ’n enkele roos,
oop en toe, oop en toe.
Dis maar soos dit in die lewe gaan,
oop en toe. Hy sal besluit wanneer ek my oë sluit.
As dit so ver is, hoop ek jy is nog betyds hier
solank die roos se geur
nog in die kamer is
as hulle my in my kis toehamer.
 
 
Dagbreek
 
As hy so terugdink aan
’n ganse lewe louter
gewy aan rinkink dink,
aan drink, bemin,
aan kinders wat rinkink,
aan haar wat steeds veraf
bly wink van ver verder
tot by die môrester,
totdat die oog en dag
uiteindelig uiteindelik
breek.
 
 
Epifanie
 
Hy luister, luister,
hoor die klank verdwyn,
hoor niks, en
luister fyn,
sien Hom verskyn
as hoor en sien vergaan.
 
 
Voorspelling
 
Dit gaan vannag reën,
het sy vandag voorspel:
en nou koes die duiwe,
hoes die gryses
en lê die boere en die bloeisels wakker.
 
 
Musiek
 
Skakel Beethoven en Mozart af,
ek wil luister na die wind,
na die kinders wat op die werf speel.
Die wind ruik na die see
en na bamboes, dis beter
as wie ook al se opus twee.
Almal kan gratis ruik en hoor
na die Skepping se soet rumoer
soos na die duif wat op die dak
hier langsaan koer.
 
 
R.i.p.
 
but that was in another country,
and besides
the wench is dead
 
Gister se mense doen dit anders
en eergister s’n as hulle s’n
en so vorder die dans
want elkeen woon in ’n ander land
as gister s’n
en ’n paspoort soontoe
kan jy nooit kry nie,
wel ’n droompaspoort
na gister en eergister se mense.
Daarmee kan jy gaan kuier
by Krisjan de Wet & Van Wyk Louw
maar jy kan nie vir hulle sê
wat is reg of verkeerd nie
want hulle is nie meer hier nie
en ons is nie werklik dáár nie
en ons is redelik op ons eie.
So houd den bek,
behalwe oor wat werklik joune is
om oor te gis en te beslis.
Een troos, ou pel, is:
gaan kerkhof toe,
gaan stort jou trane
of trek moer.
Hulle sal hul dit nie aantrek nie
want almal hier is
duidelik dodelik afgesterf
en moet hul bek hou, dus
speel die “game”
en doen die sym.
Soos ek gesê het, een troos:
môre, oormôre lê jy ook hier en,
wie weet, kan jy met
Krisjan en Wyk en al die ander
onder vier oë gesels.
Net, ek dink dit kan vrek
vervelig raak
want almal weet
al die saamstem en die stry
is hier grondig verby.
 
 
Blompot
 
In my dodekamer
blomme asseblief, en bloeisels,
maar geeneen wat wit is.
Perskebloeisels is nader
aan die kleur
aan die geur
van my begeertes.
 
 
Aan stille waters
 
1. Bloemfontein
 
Op byna tagtig is my dors geles:
ek drink nie uit ’n fles,
maar water uit ’n skoon fontein
soos lank gelee in Bloemfontein.
 
 
2. Wie’s wie?
 
Chuang Tzu het in die tuin
’n skoenlapper sien sit.
Die filosoof het ingeslaap, gedroom
hy is die skoenlapper.
Toe hy weer wakker word
toe wonder Tzu, nog deur die slaap:
wie het van wie gedroom?
Hy van die skoenlapper of
die skoenlapper van hom.
 
 
Seisoene
 
Ek moet nou vertrek
maar sal terugkeer na jou
sodra die winter kom, die blare val
en die sneeu wit op Matroosberg lê.
As jy my nog wil hê.
 
 
Jou-jou
 
Ek tel die treë tot by jou
om jou te sê ek hou van jou.
Ek glimlag op die treë
weg van jou
omdat ek weet ons
speel jóú-jóú.
 
 
Mozart se droom
 
Mozart skryf aan sy vader: liewe Vader,
wat beteken dit, “rose-drome”?
Ek kan nie ophou droom nie,
daar is geen mens op aarde
wat nie droom nie.
Maar “rose-drome”,
serene, verfrissende “soete-drome”,
wat as hulle waar is?
Hierdie “soete-drome” sal my dan
treuriger stem, my lewe ondraaglik maak.
 
 

Klik hier vir Louise Viljoen se huldeblyk aan Merwe Scholtz in Tydskrif vir Letterkunde .

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top