Mense en grense
2005

  • 0

Verraaiers en profete: Afrikanerdissidente intussen

Gerrit Brand se uitnodiging aan my om deel te neem aan dié gesprek eindig so:

Hoe voel dit om 'n dissident te wees? Wat dryf 'n mens daartoe? En is dit die moeite werd? Hoe dink die Afrikanerdissidente van destyds oor die nuwe Suid-Afrika van vandag? Hoe sien hierdie mense die nuwe grense tussen meelopers en buitestaanders? Drie oudstryders is aan die woord.

Die woord oudstryders moet maar met 'n knippie sout geneem word. Ons is al getipeer as grys skoene met pasaangeërs!

Ek wil die gesprek begin met drie vrae:

1. Hoe begin dissidensie - maw, wat gebeur in jou lewe dat jy 'n dissident - en vir baie ander 'n verraaier - word?

2. Dan: Is daar 'n verband tussen dissidensie en die profetiese?

3. En, kortliks, die derde: Is daar verraad in Suid-Afrika met betrekking tot taal?

Ek sou sê dissidensie ontstaan binne 'n verhouding van mag - as verset, opstand teen mag; maar dan word dit natuurlik self ook 'n vorm van mag, wat dan uiteindelik ook beheer moet word. Wanneer die hegemonie waarteen dit in verset was, heengegaan het, moet die dissident haar/sy waaksaamheid behou, maar dan eerder 'n diskoers van kritiese meningsverskil voorstaan.

My belangstelling en my passie is letterkunde - om die estetiese wat deel daarvan kan wees, veral by die poësie, maar meer nog: om die bewuswordingsfunksie wat dit vervul. Soos jy deur filosofie, teologie, kuns - byvoorbeeld - bewus raak van mens en samelewing, só word jou ontvanklikheid gevorm deur die letterkunde. Dis wat letterkunde en taal vir my beteken, en nóg beteken.

Ek wil nie oor myself praat nie. Al die ego's wat ronddwaal in en om ons letterkunde, en taal, skrik my af. Maar in die bespiegeling oor dissidensie moet ek ongelukkig vir 'n oomblik myself as subjek neem.

Vanaf 1956 tot 1964, tussen my jare 17 en 23, het daar in Afrikaans verskyn die eerste werke van Jan Rabie, André P Brink, Etienne Leroux, Breyten Breytenbach. Groot gedeeltes van hierdie tekste het ek nie verstaan nie (van Jan Rabie, Breyten, Leroux), en Lobola vir die Lewe van Brink het my as 'n vrome NG Kerk-gedoopte en -aangeneemde verskrik, en ongemaklike plesier gegee. Maar hierdie tekste het ontugtering gebring: oor die politiek, die maatskappy, die seksuele, en die estetiese.

En wat gebeur toe met hierdie tekste?

Kortliks: WEG Louw het in 1961 getwyfel of Lobola vir die lewe publiseerbaar is. Hy het gesê hy "aarsel om aan te beveel dat hulle so in Afrikaans en (deur Nasionale Pers) gepubliseer word", want dit kan die firma "in 'n verleentheid bring"; en alhoewel Koos Human die manuskrip aanvaar het, het hy probleme ondervind om 'n drukker te kry (Kannemeyer, 2:390). Toe die Hertzogprys aan Sewe dae by die Silbersteins toegeken word in 1964, was die Akademieraad vóór die toekenning in twee oor moontlike morele en godsdienstige besware. Dit sou pornografies en onwelvoeglik wees.

Op hierdie huiwering om vernuwing in die letterkunde te ondersteun, het Van Wyk Louw gereageer met: dit "... kan alleen daarop uitloop dat 'n volk teen sy beste skrywers in twee aparte, vyandige kampe beland: 'n ware vernietigingsoorlog, geestelik" (Kannemeyer, 2:355). Let op die besorgdheid oor die verhouding letterkunde en volk.

Teen Die Ysterkoei moet sweet is die besware van gesiene letterkundiges (soos FIJ van Rensburg en AP Grové) onder andere dat daarin 'n "volgehoue ekshibisionisme (is) ... die degradering van die skryfdaad … die neiging om te skok ... 'n uitmekaarheid van die vers … die oornemery uit die Franse letterkunde". En dan ook openbaar die bundel "'n byna sieklike belangstelling in en vertoning van ... eie anatomie" (Kannemeyer, 2:467). Daar is baie mense van my generasie wat nog so voel oor Breyten. Die skade wat professore kan aanrig!

Toe gebeur die ergste: in 1974 word Kennis van die aand verbied. Die eerste literêre werk in Afrikaans. Verbied omdat dit 'n "valse geheelbeeld" (in die woorde van die regter-president) skep van die blanke, en dat dit in swak lig stel "die polisie en die metodes wat die polisie aanwend" (Kannemeyer 2:407).

Die Groot Verbod was op ons (om lank te bly); direkte verset moes toe kom.

Die groot protesvergadering oor dié gebeurtenis van skrywers, studente en ander belangstellendes vind plaas op Wits se kampus - en 'n fonds word begin vir die hofsaak. Maar dit lei tot veel meer - wat mens sou kon noem "literêre dissidensie". Ons het toe geweet van die Russiese ondergrondse uitgewery, die samizdat. En toe André ons meedeel dat Human en Rousseau en Perskor uit vrees vir moontlike optrede deur die staat se agente nie sy volgende roman, 'n Oomblik in die wind, kan uitgee nie, besluit ek en John Miles en Ernst Lindenberg om 'n "ondergrondse" uitgewery te begin - Taurus.

Die storie van dié manuskrip en die wyse waarop ons geld gekry het vir die publikasie, die geheimhouding, die soektog na 'n drukker wat nie eintlik Afrikaans kon lees nie (die drukker kon ook vervolg word) - dit en die latere wel en wee van Taurus - is nog nie vertel nie. Soos die verbod op 'n kinderboek wat John geskryf het, en van Dan Roodt se Sonneskyn en Chevrolet. En die groot oomblikke wat ons ervaar het: ons het uitgegee onder andere Brink, Breyten, Gordimer - en ook Prison letters to a daughter deur Mosiuoa Patrick (Terror) Lekota. Nietemin: Oomblik is uitgegee in 'n beperkte oplaag van 1 000 eksemplare, geteken deur André (myne is nr 2!).

Maar intussen was ander, erger, dinge aan die broei op die politieke vlak. Verset teen apartheid het sterker en meer gefokus geraak; en die regering het meer aggressief geraak.

Toe bars Soweto 1976 los. En Afrikaans word die middelpunt, die oog van die storm, die oorsaak van geweld en dood.

Wat doen ons nou? Ons wat ons stryd teen die hegemonie voer met as wapen die letterkunde, en taal. En dis die taal waarin nou gruwelike dade gepleeg word. Een van die grootste - en sekerlik wat politieke optrede betref die mees onsuksesvolle - dissidente van alle Afrikaners, Breyten Breytenbach, sit in die gevangenis; maar in 1976 skryf hy die gedig "Taalstryd".

Dit bring my by die tweede vraag wat ek aan die begin gevra het: Is daar 'n verband tussen dissidensie en die profetiese?

Ek moet vir u die gedig "Taalstryd" lees. Baie ken dit nie, en dis ook nie in die groot-Groot Verseboek nie.

Taalstryd

Clean as the conscience of a gun - Miroslav Holub

Ons is oud
Ons taal is 'n grys reserwis van meer dan honderd jaar
met die vingers styf om die snellers -
en wie sal soos óns kan sing
wanneer ons nie meer daar is nie?
Soos in ons lewe sal ons die aarde verwerp
en die wonderwerke van die vlees wat groei
soos woorde spoel en klop -
Júlle sal die liggame vir ons gedagtes wees
en lewe om ons sterwe te herdenk
en die wysies uit ons beenfluite tower ...

Van die struktuur van ons gewete
en uit die skure van ons liefdadigheid
het ons vir julle swart konstruksies laat bou, bliksems -
skole, klinieke, poskantore, polisiestasies -
en nou waai die pluime swart rook
met die klop en die spoel van 'n hart.

Maar julle het nie mooi verstaan nie.
Die Taal moet julle nog bemeester.
Ons sal julle die ABC van vooraf voorsê
ons sal julle tou-wys-maak
met die riglyne van ons Christelike Nasionale Opvoeding ...

Julle sal leer om gehoorsaam te wees,
gehoorsaam en onderdanig.
En julle sal die Taal leer gebruik
onderdanig sal julle dit gebruik
want in óns lê die monde
met die gif in die klop en die spoel van die hart.

Júlle is die sout van die aarde -
waarmee sal ons ons sterwe smaak kan gee
as julle nie daar is nie?
Julle sal die aarde bitter en brak en glinsterend maak
van die klank van ons lippe ...

Want ons is Christus se laksmanne.
Ons is op die mure om die lokasies
met die geweer in die een hand
en die masjiengeweer in die ander.
Ons, sendelinge van die Beskawing.

Ons bring vir julle die grammatika van geweld
en die sinsbou van verwoesting -
uit die tradisie van ons vuurwapens
sal julle die werkwoorde van vergelding hoor
stotter.

Kyk, ons gee vir julle monde pasella -
rooi ore om mee te hoor rooi oë om mee te sien al
polsende, rooi monde
om die geheime van ons vrees te mag spuit:
daar waar iedere loodpuntwoord vlieg
sal 'n spraakorgaan oopgebreek word ...

En julle sal die Taal asseblief leer gebruik,
gehoorsaam sal julle dit gebruik, breek ...
want ons lê reeds met die doodsroggel
se klop en se spoel
aan die lippe ...

Ons, ons is oud.

'n Gekompliseerde gedig; maar die aanklag is duidelik: die "loodpuntwoord", Afrikaanse woord - en "ons" - die Afrikaanse taal - "lê reeds met die doodsroggel". Tegelyk ondermynend, dissidensie, maar ook profeties.

Desnieteenstaande skryf Breytenbach ná "Taalstryd" nog nege digbundels, en essays en twee toneelstukke. Dus: "Taalstryd" was net dissidensie, en nie profeties nie? Of kan 'n profeet nie help wat sy/hy sê nie? En dit hoef nie noodwendig onprofeties te wees nie. Daar's nog tyd; miskien binnekort!

'n Ruk gelede sê hierdie selfde digter aan my: "Ons is in die onbenydenswaardige posisie dat ons in ons leeftyd 'n taal sal sien sterf."

Nou is dit nodig om te kyk wat intussen in ons tyd aan die gebeur is ten opsigte van Afrikaans in terme van dissidensie en profesie.

Ek dink daar is 'n korrelasie tussen waarneming, dissidensie en profesie wanneer daar in die politieke/sosiale milieu 'n negatiewe diskoers aan die gang kom. Ek wil graag vir u probeer inlig watter faktore lei tot die begin van 'n nuwe dissidensie in die geval van taal - met bietjie profesie, en met die uitwys van die begin van verraad. Voordat ons - inheemsetaalsprekers - ineenstort in 'n katatoniese verlamming.

In 1987 was die Universiteit van Wes-Kaapland 'n Afrikaansmedium-universiteit. Toe was daar 1 000 eerstejaarstudente in die Departement Afrikaans en Nederlands. Toe het dié universiteit begin verengels. Nou is dit 'n Engelstalige universiteit. Ek verneem daar is nou ongeveer 20-30 studente in die eerstejaar Afrikaans en Nederlands-module (dis nou sonder Afrikaans taalverwerwing-studente - van wie sommige Afrikaanssprekend is!). Die Universiteit van die Witwatersrand het die mees gedugte Afrikaans-Nederlands-departement in Suid-Afrika gehad: NP van Wyk Louw, Ernst van Heerden, PG du Plessis - en later John Miles, Gerrit Olivier. Die departement bestaan vandag nie meer nie. Daar bestaan ook nie 'n afsonderlike Afrikaans-departement by die Universiteit van Kaapstad nie - en ek twyfel of enige ander Engelstalige universiteit (behalwe Wes-Kaapland) nog sulke departemente het. En dis bekend dat die "voorheen bevoorregte" Afrikaanse universiteite besig is om te verengels. Byvoorbeeld: RAU het geword University of Johannesburg.

Afrikaans as taal van tersiêre onderrig het dus alreeds 'n ernstige knou gekry. Dink wat doen dit aan denke in die moedertaal; aan denke - want sonder taal, spesifiek skrif, is daar geen denke nie. (Nie ek sê so nie, dis Jacques Derrida).

En wat doen dit aan letterkunde in Afrikaans? Skryf in Engels - soos die meeste toonaangewende Afrika-skrywers in voorheen Britse gekoloniseerde lande in elk geval doen. En as dit gebeur, is die opbou en voortsetting van 'n literêre tradisie verby.

In 'n lesing by Wits - "Africa and its interpreters" - in 1997 sê die Keniaanse skrywer Ngugi wa Thiong'o:

The vehemence with which leading African writers, even those most critical of the post-colonial distortions, have reacted to the possibility of their return to African languages has been remarkable in its unanimity. If some of the best and most articulate of the interpreters of Africa's total being insist on doing so in languages not understood by the subject of interpretation, where lies the hope of African deliverance?'

En wat van 'n akademiese en intellektuele lewe in Afrikaans of enige ander inheemse taal in hierdie land - as daar geen universiteite in hierdie tale is nie? Dit help nie om - byvoorbeeld - te praat oor die daarstelling van 'n nuwe "Akademie vir Afrikaans" (Gerwel, Rapport, 13 Maart) as daar geen noemenswaardige Afrikaanse akademici gaan wees nie.

Daar was onlangs 'n berig in Die Burger (16 Maart) onder die opskrif "Universiteite moet elk 2de SA taal kies en uitbou". Dit is gebaseer op die bevindings van 'n komitee onder leiding van prof Njabulo Ndebele om die minister van onderwys oor die ontwikkeling van Afrika-tale as tersiêre-onderrigtale te adviseer. Daarvolgens is daar 'n dreigende krisis in die land wat betref Afrika-tale, en die krisis word toegeskryf aan die voorkeur vir Engels; en daarby is die aantal studente wat 'n Afrika-taal wil studeer, besig om te daal. Soos ek genoem het: die afname van Afrikaans as studierigting op tersiêre vlak is 'n feit.

'n Paar jaar gelede het 'n groep van ons hier in Oudtshoorn, onder aanstigting van Nic Barrow, begin gesels en beplan vir 'n Afrikaanse universiteit hier. 'n Prominente ANC-hoge het aan my gesê ons is besig om 'n "Afrikaner-ghetto" te begin (waar twee of drie in die naam van Afrikaans vergader, beplan hulle 'n ghetto!). Daar het niks van gekom nie.

Johan Crous, voorsitter van die Wes-Kaap (Suid-Afrikaanse Onderwys-unie) vra onlangs aan Cameron Dugmore: "Hoeveel Afrikaansmediumskole het verlede jaar oorgeskakel na dubbelmedium en hoeveel Afrikaansmediumskole bestaan nog in die Wes-Kaap? Hoeveel Engelsmediumskole het dubbelmediumskole geword deur Afrikaans toe te laat en hoeveel Engelsmediumskole is daar tans in die Wes-Kaap? In watter mater is voormalige swart en bruin skole geïntegreer?".

Dugmore antwoord; die statistiek wat hy gee is: Daar is 1 471 skole in die Wes-Kaap; 704 is Afrikaansmedium, 19 het parallelmedium geword, en daar is 239 Engelsmediumskole. Hy raak verder polemies en sê onder andere "die toekoms van Afrikaans is nie hier ter sprake nie ..."; wat wel is, "is die akkommodasie van 'n bietjie Engels en veral Xhosa ..." en dan sê hy "praktyke van eksklusiwiteit moet tot 'n einde kom" (Die Burger, 23 Februarie). Met ander woorde, om Afrikaans as moedertaal te wil hê, is 'n praktyk van eksklusiwiteit.

Maar Afrikaans is natuurlik hoegenaamd nie meer eksklusief nie! Dis "histories eksklusief", "histories bevoorreg". Die eintlike statistiek, wat Dugmore nie noem nie, omdat die res van sy antwoord polemies is, is dat die meeste skole in die Wes-Kaap Afrikaansmediumskole is - nie Engels nie, nie Xhosa nie. Die subteks, dink ek, is duidelik: Afrikaanse skole moet verminder word ter wille van transformasie.

Nou wil ek graag dr Neville Alexander se statistiek oor die kwessie van moedertaalonderwys noem. Die fundamentele feit is, volgens hom, of ons die opvoedingstelsel op moedertaalonderwys baseer, of op Engels. Engels is die moedertaal van minder as nege persent van die bevolking van die land, en dit word "begryp/verstaan" deur minder as 50 persent. (Ek vertrou natuurlik nie statistiek nie; maar as Neville Alexander syfers noem, dan glo ek hom, want hy weet meer van hierdie kwessies as enigiemand ander in die land.)

Dit lyk asof die neiging onder beleidmakers meer en meer weg van moedertaalonderrig beweeg, na die vermoë om die gebruik van Engels by leerders aan te moedig en te verbeter. Dit sou natuurlik verklaarbaar wees - en dit is my eie afleiding - as mens onlangse uitings van ministers Naledi Pandor en Pallo Jordan reg gelees het: dat Engels die enigste taal van geleerdheid is.

Dit klink na 'n reeks treurmares. En politici sal alles toesmeer. Maar net nog twee onlangse uitings binne hierdie diskoers - net om te bewys dat die tyd van ernstige dissidensie nader kom.

Daar is studente van die University of Johannesburg wat ontevrede is oor die gebruik van Afrikaans in die administrasie van die universiteit. Hulle plakkate lees: ONS KAN NIE AFRIKAK PRAAT NIE. Hulle weet natuurlik nie van Soweto '76 nie. Want al wat ek hiervan kan sê is: dis nou kak soek. Nie van die staat nie; maar daar is baie Afrikaners waar kumulatiewe irritasie net meer word. En nou praat ek nie van literêre en beskaafde dissidensie nie.

Dan, 'n laaste geval: In 'n brief in die Cape Argus van 23 Februarie skryf 'n ene Jovial Rantao onder die opskrif "Government should do away with Afrikaans" dat dié taal niks spesiaals is nie, behalwe dat dit die amptelike taal van 'n rassistiese regime was wat die taal in almal se kele wou afdwing. En die ander realiteit is … (ek haal liewer aan - dis te veel moeite om dié onsin te vertaal):

The other reality, of course, is that the existence of Afrikaans-only schools is detrimental to children from Afrikaans families. These children will find it easier to do al the subjects in their mother tongue ... However, in 2005 and beyond, where can these children use Afrikaans?
Of course they can use it in SA but it will not help them enjoy the advantages of our being part of the massive global village. Their careers, their future will be stunted.

Dis natuurlik ook waar vir al die ander inheemse tale. Dus: Engels.

Gelukkig het Christo Viljoen effektief daarop geantwoord in dieselfde koerant (op 7 Maart).

My laaste vraag. Oor verraad.

Ek moet weer verwys na Ngugi se lesing "Africa and its interpreters", waar hy praat oor die skrywer/intellektueel wat postkolonisasie vir haar/sy mense moet interpreteer - omdat dit in dié roeping nodig is om die taal van die koloniseerder te bemeester. Maar dan:

But at the moment of triumph something tragically wrong had happened. The interpreter had become captive of the very mastery of the language of the former coloniser. He forgot that his power of accurate articulation came from those black people [die gekoloniseerdes]; and he came to attribute his power to the means of articulation. Holding the reins of power of the post-colonial state, he turned what at best had been a temporary expedient into a permanent necessity. He now stood behind the English and French screens haranguing his people to come out of the darkness of their language into the light of European tongues. He also started talking to them through interpreters.

Is ouers wat hulle kinders, uit onkunde, se primêre onderrig in 'n ander taal as hulle moedertaal wil hê, nie verraaiers nie? Een taal by die huis, 'n ander taal op skool. Al is die ander taal Engels.

En sal Afrikaners, défaitisties en so beswaard deur die skuld van die verlede, nie ook maar uiteindelik abdikeer en hulleself verraai nie? Of miskien is dit die rol van die oudstryder: om Afrikaners voor te berei vir hulle sterfte, ter wille van transformasie?

Gelukkig is daar darem hoop. Ons hóéf nie dissidente te word nie. Die boodskap van die premier van die Wes-Kaap, Ebrahim Rasool, is bemoedigend:

Ek vra ernstig dat Afrikaanssprekendes nie sal toelaat dat hulle mislei word nie. Moet asseblief nie toelaat dat onnodige vrese en onsekerheid aangewakker word nie (Die Burger, 12 Maart: "Ons taal skrik nie").

Hierdie lesing maak deel uit van Oopgesprek, die KKNK 2005 se lesingreeks ondersteun deur Die Burger

Eerste publikasie op LitNet: 26 April 2005

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top