Megaboere: ’n resensie

  • 1

Megaboere
Wynand Dreyer
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776090822

1. Inleiding

In Megaboere neem Wynand Dreyer, die vervaardiger van die TV-reeks, die leser tot op die voorstoep van 19 merkwaardige boere. Dis visionêre individue wat ’n ongelooflike ondernemingsgees openbaar en nie konformeer tot middelmatigheid of hulle omstandighede nie. Die suksesverhaal van elkeen is uniek, maar tog is daar sentrale temas, eienskappe en uitdagings.

2. Grond

Elke boer ken die geskiedenis van sy plaas. Soos onder andere die Schoemans, Du Toits en Retiefs is daar dié wat die grond vir ’n tweede of derde generasie in hulle besit het. Karel Schoeman, Kallie se oupa, het hom reeds in 1919 op Moosrivier gevestig. Karel was die pionier; Hendrik, Kallie se pa en ’n voormalige minister van vervoer en landbou, die ekspansionis; en Kallie die konsolideerder. Die Du Toits het hulle reeds in 1893 op Kromfontein gevestig en die Retiefs het die grond sedert 1937, en dis tans die oudste familiewynplaas in die land.

Die tweede groep besit die grond vir ’n enkele generasie. Dis boere soos Piet Karsten, wat ’n klein stukkie grond gekoop het en aan die begin in ’n woonwa binne-in ’n skuur gewoon het. Die R85 wat sy onderwyseres-vrou verdien het, is gebruik om die lone te betaal. Sedertdien het hy ’n internasionale sakeryk opgebou. David Osborne, Louis de Kock en onder andere Casper Badenhorst, wat ook self hulle grond gekoop het, met min begin het en self indrukwekkende ondernemings ontwikkel het, val ook in dié groep. Osborne se Number Two Piggeries verteenwoordig meer as 20% van die nasionale vleismark. Badenhorst is die grootste pynappeluitvoerder in Suid-Afrika. De Kock is die grootste eierprodusent in die land.

Die derde groep is Ralph Swart en André Cloete, wat opkomende kommersiële boere is. André het grootgeword op ’n plaas naby Grabouw, waar sy ma ’n plaasarbeider was. Hy huur tans 871 ha grond by die staat en is in onderhandeling met die staat om sy huurkontrak tot 30 jaar te verleng. Hy sien selfs kans vir 99 jaar en glo dit sal hom die nodige gemak gee om aan te hou belê. Hy glo dat sonder grondbesit boere soos hy bloot opkomend sal bly. Ralph Swart het 37 jaar gelede begin boer met 10 skape en ’n bees op twee hektaar. Vandag besit hy en sy vrou, Preline, twee plase in die Overberg en huur boonop 1 280 ha by die Morawiese Kerk op Elim.

3. Belangrike rol in gemeenskappe

Karsten wys op die onmeetbaar groot rol wat landbou in plattelandse gemeenskappe speel, en regdeur Megaboere is dié rol en welwillendheid van boere sigbaar. Die meeste van die megaboere het skole, klinieke en nasorgsentrums op hulle grond en baie verskaf ook beurse aan verdienstelike plaaskinders. Megaboere is ook groot werkgewers in landelike gebiede. Schoeman-boerdery het 4 000 tydelike en 900 permanente werkers. Kallie vertel dat die goue draad wat sedert sy oupa se dae deur die onderneming loop, is “om ’n seën te wees vir jou mense, die gemeenskap en die land”. BP Greyling het 132 permanente werkers wat sowat ’n 1 500 ha van sy grond bewoon. Die Van Reenens van die Vrystaat het 1 300 mense in diens. Die meeste is ook betrokke by bemagtigingsprojekte. Charl Senekal het 300 ha suikerriet van omtrent R15 m vir plaaswerkers wat vyf jaar en langer by hom werk, gegee. BP Greyling is by nege bemagtigingsprojekte betrokke en het in die verlede reeds R32 m se bates en insette op sy risiko gefinansier. Casper Badenhorst het al 1 800 huise vir mense op Mkhuze gebou. Die Du Toits het reeds in 2005 die De Goree-projek met hulle plaaswerkers begin. Van Loveren besit 48% aandeel en die plaaswerkers die res. Sedert 2006 is hulle in ’n posisie om jaarliks ’n dividend aan hulle werkers te betaal. De Kock en sy vrou, Cora, het ’n sportakademie op Barkly-Wes begin en hulle borg ook die Wildeklawer-skolerugby- en –netbal-toernooi.

4. Belangrike ekonomiese beginsels

’n Verdere sentrale tema wat ter sprake is in Megaboere is die feit dat boer as besigheid benader word. Sukses verleg die effektiewe bestuur van grond, produksie, finansies, bemarking, verkope en menslike hulpbronne. Die meeste boere het deesdae spesialiste wat hulle help om elke faset te bestuur. Die rol van die megaboer in sy boerdery kan, soos wat Dreyer na Estelle van Reenen verwys, beskryf word as ’n dirigent wat voor ’n orkes staan. Die boer hoef nie noodwendig elke instrument te kan bespeel nie, maar moet weet hoe die melodie behoort te klink, moet daarna streef om dit ten beste na vore te bring en moet ook die orkes bymekaar hou.

Verskeie boere, soos Francis Visagie, maak ook melding van die belangrikheid van skaalbesparings, beheer oor die waardeketting en die toevoeg van waarde. Die Van Reenens van Sparta is ’n sprekende voorbeeld van beheer oor die totale waardeketting. Buiten die 12 000 ha-plaas met voerkrale, besit hulle ook ’n abattoir op Welkom. Hulle het ook hulle eie trokke. Nog ’n voorbeeld is die Retief-neefs se groot aandeel in ’n bottelary-aanleg op Worcester wat hulle in staat stel om tot aan die einde van die waardeketting beheer te hou.

Die belangrikheid van diversifikasie as strategie om risiko’s te verminder blyk ook duidelik. Barries Snijman, wat intussen tragies oorlede is, het buiten sy angorabokke ook merino’s aangehou. Fynproewer-boer Jean Engelbrecht het grond in die Kalahari en in Namibië gekoop en het net soos die Retiefs en Charl Senekal ook die waarde van agritoerisme ingesien. Kobie Fourie en Piet Warren het belê in wild. Piet du Toit het ook plase in Namibië. Die Du Toits en Piet Karsten het ook plase in verskeie dele van die land. Na die Retief-neefs se sukses met hulle 1,5 liter Four Cousins-bottelwyn is nog ’n handelsmerk, Tangled Tree, gevestig. Hierdie wyn word in PET-plastiekbottels gebottel wat herwinbaar is; PET word as een van die groenste plastieksoorte op die planeet beskou.

5. Gefokus op die gehalte van eindproduk en produksie

Elke boer poog om die beste produk vir die verbruiker te produseer en elkeen het sy eie resep hiervoor. Snijman het geglo dat die gehalte van sy sybokhaar te danke is aan die spesifieke karoobossies wat op Vleikuil groei. Hy het ook Bonsmaras aangehou om die ruigtes waar die skape wei, skoon te wei van dorings ten einde besoedeling van die sybokhare te voorkom en sodoende die gehalte van sy produk te verbeter. Jean Engelbrecht glo ook dis die terroir van sy plaas wat die gehalte van sy wyn verseker. De Kock verhoog ook die gehalte van sy produk deur ’n vanggewas wat insekte verkies tussen boerderygewasse aan te plant. Hy bespuit dan die vanggewas en het nie nodig om soveel op die boerderygewas te spuit nie. Die feit dat hy sy landerye ook laag vir laag self oorbou, verbeter ook die gehalte van sy produkte.

Kobus Hendricks en Francis Visagie glo dat genetika die belangrikste rol speel. Hendricks benader sy boerdery wetenskaplik en het ’n paar jaar gelede daarin geslaag om 13 000 kg melk binne 300 dae te lewer – die resultaat van noukeurige navorsing. Francis Visagie glo weer dat die dorperskaap, ’n Suid-Afrikaans-ontwikkelde ras, uitstekend aangepas is vir die dor omstandighede op Nanibees en deurslaggewend is in sy sukses.

6. Familie in die onderneming

Die bestudering van elke boer se verhaal gee mens ook die idee dat Megaboere daarin slaag om ’n balans te vind tussen familielede as werknemers en die aanstel van eksterne kundiges. Jean Engelbrecht voer aan dat dit die gebruik van kundiges is wat sukses verseker. Hy omring hom met mense wat sy passie vir die wynbedryf deel. By Sparta word familielede eers vanaf 28-jarige ouderdom in diens geneem en skroom hulle nie om kundiges van buite in te roep nie. Estelle van Reenen glo dis belangrik om nie eienaarskap en bestuur in ’n onderneming te verwar nie. Die aanstel van familielede moet dus nie bestuur belemmer nie. Die Schoemans werk volgens ’n familiegrondwet wat berus op die beginsel dat niks wat hulle het, hulle eie is nie; hulle is bloot rentmeesters vir komende generasies. Hier en by die Badenhorsts, Du Toits en Fouries is daar egter genoeg ruimte vir ’n verskeidenheid van rigtings waarin familielede hulleself kan uitleef.

7. Gedeelde uitdagings en die toekoms

Buiten die uitdagings wat veldbrande, misdaad en roofdiere bied, meld die meeste boere die onsekerheid rondom grondhervorming as die grootste uitdaging en dit blyk veral duidelik uit die verhale van Ralph Swart en André Cloete. Swart: “Daar is hulp beskikbaar, maar as dit ’n jaar of twee gaan vat, dan gaan hy maar baie swaar op sy bene bly.” Cloete glo dat opkomende boere by hulle ervare kollegas moet leer en hy beklemtoon opleiding in landbou. Greyling stem saam en voer aan dat die oordra van kennis en vaardighede parallel met grondhervorming moet loop. Senekal glo die staat moet markverwante pryse vir grond betaal. De Kock glo dat duidelikheid en teikens die boere meer gefokus sal maak. Hy wil nie hê sy nageslag moet vir ewig met onsekerheid saamleef nie. Visagie glo dat mense wat op plase bly, bemagtig moet word met grondbesit. Verskeie boere noem ook dat hulle bereid is om as mentors op te tree. ’n Hele paar is reeds mentors. 

Mens kry die idee dat daar gevra word na ’n algehele konsensus oor landbou en grondhervorming. Na ’n plan wat nie historiese onreg met nuwe onreg beantwoord nie, maar ’n doelgerigte, gekoördineerde poging wat boere, georganiseerde landbou en opkomende boere na een tafel toe bring. Wat nie die stabiliteit en volhoubaarheid van die land se kosprodusente ontwrig nie, maar wat opkomende boere by hoofstroom landbou laat inskakel.

Tog is die megaboere oorwegend positief oor die toekoms. Hendricks, wat onlangs die slagoffer van geweld was, voer aan dat ’n mens moet “inskakel” by die nuwe Suid-Afrika, “deel word en jou kennis ook deel”. Osborne is positief oor die toekoms en glo dat boerderye groter gaan word. Dat skaalbesparings gaan seëvier omrede klein boer te duur is; en Suid-Afrikaanse boere moet seker maak dat hulle so produktief as moontlik is. Senekal stem saam: “Ons moet dit op die goedkoopste manier moontlik, teen die hoogste kwaliteit moontlik doen.”

Die geharde aard en vasbeslotenheid van Suid-Afrikaanse boere en hulle houding teenoor die toekoms word egter die beste in Jean Engelbrecht se woorde vasgevang in antwoord op die vraag of hy gaan ophou belê in landbou: “Ek? Nee. Ek gaan nie, ek kan nie. Dis wat ek doen. Dis my werk. Dis my lewe.”

8. Slot

Dreyer se megaboere is idealistiese, visionêre persone wat nie konformeer tot die uitdagings wat oor hulle pad kom nie. Hulle neem risiko’s, sien geleenthede raak en leef in harmonie met die natuur. Elkeen is ’n meester in sy bedryf en ’n reus in sy gemeenskap. Die grootste gemene deler is dalk hulle bewustheid rondom tyd. Hulle is bewus van die nalatenskap van hulle voorvaders, die lesse wat geleer is, die planne wat beraam is en die grondslag wat dit vir hulle gelê het. Hulle is ook deurgaans bewus van die feit dat die keuses wat hulle vandag uitoefen, die potensiaal het om ’n beter lewe en geleenthede vir komende generasies te ontsluit. Hierdie pligsbesef vorm die grootsheid van elkeen se menswees. Met verwysing na Piet Karsten het Nelson Mandela eenkeer gesê: “You are the kind of farmer we need to make our country prosper.” Ek wil glo dat Mandela dit van elkeen van hierdie merkwaardige persone sou gesê het.

  • 1

Kommentaar

  • Die boek interesseer my intens. Dit sal ’n geweldige dokument wees wat die waarde van mense/boere/managers se kunde en sosiale betrokkenheid en humane aanpak illustreer. Ook vir die buitewêreld aantoon wat hierdie mense vir Suid-Afrika beteken. They are the salt of the earth and heart pulse of this country now struggling with a corrupt government.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top