Meer as net koue

  • 0

Toe ek jonk was, het ek 'n hele aantal kere duimgegooi. Daar was 'n paar keer wat ek tussen Port Elizabeth en Oos-Londen gereis het op dié manier en twee keer tussen Pretoria en Oos-Londen. Ook een keer van Bloemfontein af terug Oos-Londen toe, na ek met die trein op is om vir broer Koos en sy gesin te kuier.

Ek onthou net grepies uit die reise, natuurlik daardie insidente wat 'n indruk gemaak het. So, dit was nie net die een nag toe ek amper verkluim het by Tarkastad nie.

Toe ek op Bloem gaan kuier het, was ek nog op skool, in standerd nege. Daar het niks besonders gebeur met die reis self nie, maar op Bloemfontein is ek en Koos se stiefseun uit die bioskoopteater gejaag. Dit was bloot omdat ek jeans aangehad het. Ons het ons kaartjies gekoop by die kiosk, maar toe ons wegstap sien die vrou ek dra jeans en sy roep ons kwaai terug. Hoe ek ook al pleit het dit nie gehelp nie, sy jaag ons summier uit. Ons kry toe darem ons geld terug. Dit blyk toe daar was kort tevore nog bakleiery tussen studente en eendsterte en daarom wou hulle geen "eendsterte" in die fliek toelaat nie, vir geval daar weer 'n geveg uitbreek.

Op 'n dag is my reis amper op 'n einde, ek ry saam met 'n jong man in sy Volkswagen kewer op pad na Pretoria. Skielik steek daar 'n storm op: dreigende blou-groen wolke voor ons, wat saamsmelt in 'n massa en deur die sterk wind gedryf word. Dit kom reguit na ons toe, en voor die storm uit vlieg daar 'n swerm wit voëls. Jy voel die natuur se krag en tegelyk sy skoonheid. Swaar druppels het vir 'n minuut of so neergeval in 'n stortvloed, toe is dit verby. Waarom ek hierdie onthou is die indruk wat dit op my gemaak het, 'n soort dreigement, tog gevul met skoonheid, van die wit voëls wat voor die storm uitvlieg.

Van die geval van Tarkastad moet ek net 'n entjie teruggaan, voor die ou oom en tannie my buite Bloemfontein opgelaai het. Voor dit het ek in 'n ou rammelkas van 'n kar gery, ek kan nie meer onthou waar presies hulle my opgelaai het nie. Voor sit die man en vrou en agter hul dogter, amper witblond gekleurde hare, seker so drie of vyf jaar ouer as ek. Ek sit langs haar en moet net keer soos sy my probeer vry. Maar dit word erger: ek sien gou die oom het 'n plastiekglas in sy hand, wat die tannie kort-kort opvul uit 'n wynbottel. Hy ry darem redelik stadig, maar nie so vas op die spoor nie, dis al of die kar effens sweef van kant tot kant. Gelukkig was ons gou in Bloem, waar hulle my aflaai en sê ek kan net daar wag, hulle gaan net gou kuier, dan kom hulle weer. Ek sweer hulle wou seker in 'n kroeg gaan kuier, of hul drankvoorraad aanvul by 'n winkel.

Die Oos-Kaap, so langs die kus, kry sommige jare baie reën, ook in die winter. Partykeer is dit 'n trietsige misreën wat dae lank onderbroke aanhou. So ook toe ek van Port Elizabeth af duimgooi Oos-Londen toe oor 'n naweek. Ek het gehoop dit sal ophou, en val toe maar in die pad. Maar anderkant die Sondagsrivier, waar ek afgelaai is, begin dit weer sterk val. Daar is 'n groot rondawel langs die pad anderkant 'n draadheining. Ek klim deur die draad en gaan skuil onder die rondawel se breë dakoorhang. Ek sit skaars gehurk daar, toe kom 'n oulike Thombi en beduie ek moet inkom. Binne sit die man op die vloer, sy vrou en 'n bejaarde vrou sit op kombuisstoele, 'n aantal kinders sit of staan daar rond, en hoenders loop en skrop tussen die mense. Hulle gee my 'n stoel, seker die man s'n, en ek gaan sit. Hulle eet uit blikborde en bied my ook aan - dis suurpap en ek proe daaraan, maar wou nie verder eet nie. Ek kon sien die man lyk effens afgehaal dat ek hulle kos weier, maar ek het te aardig gevoel met 'n smaak wat ek nie geniet nie en die hoenders wat tot onder my stoel rondloop. Na 'n ruk hou die reën darem op en ek kon verder, en kry gou 'n geleentheid tot net buite Grahamstad. Daar sit ek toe in die bergpas, tussen die dennebome en dit reën al weer. Ek besluit toe om maar om te draai, die naweek is te kort ek ek vorder stadig. Gelukkig word ek gou opgelaai deur 'n man en vrou in 'n stasiewa wat my tot in Port Elizabeth neem.

'n Laaste voorval waarvan ek wil vertel, was weer toe ek van Pretoria af na Oos-Londen duimgegooi het. Die tyd het my ingehaal, die donker het my oorval. In Bloemfontein is dit al laat in die aand en ek het nêrens om heen te gaan nie. So naby die einde van die stad, as ek reg onthou was dit 'n ligte nywerheidsdeel, staan 'n rooi geboutjie op 'n groot stuk gras. Die grond loop van die sypaadjie skuins af na die gebou, wat dan in 'n effens holte staan. Ek gaan lê teen die skuinste, sodat ek nie maklik van die pad af gesien kan word nie en raak van moegheid gou aan die slaap. In die nag word ek wakker, toe staan 'n groot hond aan my en ruik. Maar hy skrik toe ek beweeg en praat en hardloop weg. Die volgende oggend is ek verfris vort na 'n goeie nagrus.

Groete,

Tiens

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top