Meer as genoeg

  • 2

Foto: Canva

Meer as genoeg

dan is daar niks behalwe om in die niet te staar
as afskeidsbriewe per spoedpos versend word
vroegoggend terwyl die son nog eensaam kniel
het ek die melkweg in my hart gaan wegsteek

want maatloos en met die tragiek onkeerbaar
bring letters ’n gesigseinder met ’n somber hede
ongesiens het die naglied ’n geheim geopenbaar
met ’n sirene wat loei om lewensjare op te raap

lank vóórdat smarte tussen lelies rusplek vind
en lank vóórdat die brandende kool geblus word
sal die werklikheid agter deure gestalte verkry
met elke luitoon wat in die duisternis vervaag

want daar is genoeg van hartseer
meer as genoeg van bitter vrugte dra
oorgenoeg van koue mis wat verswelg
en nét te veel van onbeantwoorde vrae ...

  • 2

Kommentaar

  • Johan van der Merwe

    Wow, Marius, dit is baie mooi en intens. Ek moes 'n paar keer lees en elke keer nuwe gevoelens ontdek, op elke lyntjie, mooi my broer...

  • Dierbare Johan, wat ek van joú waardeer is dat jy altyd soveel waardering het vir ander se digkuns en ander so bemoedig in die proses. Terwyl jou eie skryfwerk meesterlik is. Dankie daarvoor.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top