Boektitel: Meditasies
Skrywer: Joan Hambidge
Uitgewer: NB Uitgewers
ISBN: 9780798165075
Koop Meditasies by Kalahari.com.
Die bundel bestaan uit drie uitgebreide afdelings en 'n slotgedig wat 'n afdeling op sy eie vorm. Die afdelings is: I Meditasies; II Selfkonfrontasie; III Beelde; en dan die slotafdeling, Meditasie: Stad. Die bundel kan gelees word as 'n bundel reisverse en die deurlopende motief is meditasies.
Die Latynse woord meditare dui op "meet”, “opname maak”, “inventeer". Meditasie dui ook daarop dat die denker, die mediteerder, vir 'n tyd op een saak fokus, gewoonlik in stille, dikwels om godsdienstige redes of om tot self-inkeer te kom. Binne hierdie breë beskouing van meditasies en mediteer kan daar verskeie soorte meditasies onderskei word.
Afdeling I en II pas in by hierdie raamwerk, maar met die eerste lees het ek gewonder oor die derde afdeling (III Beelde). Hierdie afdeling is elegies in toon, en as gedigte in hierdie stylvorm pas dit uitstekend in en by die res van die bundel. Die idee van inkeer in of oor 'n stad of plek word trouens ook gekenmerk deur 'n elegiese toon. Die bundel vorm 'n egte eenheid en die slotgedig, "Hong Kong", voltooi die innerlike reis en word 'n sintese van al die gedigte in hierdie puik bundel.
Baie van die gedigte handel oor stede, en telkemale fokus die digter op 'n enkele aspek van 'n stad. Hambidge het vroeër ook al stadsgedigte geskryf, maar haar stadsgedigte in Meditasies bereik 'n absolute hoogtepunt. Die stad word gesien binne 'n ruim literêre verwysingswêreld en denkverwysings waar ander figure ook 'n rol speel binne die mosaïek van die gedig en die bundel. Binne hierdie leitmotiewe van reis en mediteer kry die stad 'n digterlike lewe binne die teks. Uiteindelik beweeg die gedig egter na die mens en menslikheid, en die verkenning van die stad as geestesruimte beweeg buite die geografiese grense en bereik nuwe parameters.
By die meer filosofiese en spirituele aard van 'n meditasie verwag 'n mens 'n sekere graad van intellektualiteit. Alhoewel Hambidge se poësie oor die algemeen 'n intellektuele onderbou het, is dit eintlik sterker in hierdie bundel as in enige van haar vroeëre bundels. Intellektualiteit kan maklik tot beredeneerde poësie lei, maar die digter trap nie in hierdie strik nie. Daarvoor het haar gedigte te veel menslikheid en weemoed. Ook is die gedigte te veel emosie en gesonde waansin om strak en serebraal te word soos so maklik in "intellektuele" poësie gebeur.
Hambidge se oeuvre was uit die staanspoor gemik op mens-poësie, veral verlies en afskeid neem, en later van tye ook oor die dood. Ek glo nie dat hierdie verwikkeling 'n teken is van ouer word en dus die groter besef van die dood nie; veel eerder is dit 'n ontwikkeling tussen die "volwassenheid" van 'n digter en haar poësie. Ook by 'n komponis soos Verdi is daar gepraat van sy "mature" operas teenoor sy "Galley years"-operas. Daar word soms kritiek uitgespreek op Hambidge dat sy te veel sou dig, maar 'n noukeurige lees van al haar bundels wys dat in elke bundel van die eerste een af, daar reeds 'n toon van meditasie voorkom. Soos maar die geval is met elke belangrike skrywer of digter, moet elke bundel, selfs elke gedig, binne oeuvre-verband gelees word.
Hambidge is 'n fynproewer binne die denke oor die aard van 'n gedig. Steeds streef haar werk na "poësie puur". Meditasies pas in by hierdie breë patroon. Dit beteken beslis nie dat al Hambidge se verse oor die aard van die poësie handel of dus beskryf kan word met daardie pretensieuse woord "kuns-teoreties" nie. Poësie oor die poësie kan maklik ontaard in 'n self-bewustheid wat erg irriterend kan wees, soos DJ Opperman in "Draaikewers" spot:
Hoe lank bly ons in hierdie kring
se dol en soet betowering
van ek en jy, van ek en jy?
Die Opperman-teks kan ook op ander maniere verstaan word, maar die intrinsieke waarde van 'n kunswerk is juis dat die leser en kritikus dit nooit mag bind soos 'n stukkie geskiedenis nie – dit leef in sy eie vryheid.
Is Hambidge se verse dan 'n ewige "kring om my, kring om jou"? Skryf sy telkens oor dieselfde temas? Hierdie kritiek word dikwels gehoor. Nee, net soos talle skrywers en digters binne 'n bepaalde tematiese lyn werk en telkens aan die tema nuwe inhoud, nuwe ruimte en nuwe woorde gee, handel Hambidge se gedigte oor die groot besef van menslike enkelheid. Of dit gaan oor die afsluiting van 'n menslike verhouding, of oor vertrek, of oor die dood – alles is deel van die een besef waaraan alle mense uitgelewer is: verganklikheid. Dit is die deurlopende tema van die verse van Hambidge in talle woorde, talle milieus en binne talle situasies. Is dit per slot van rekening nie ook maar die tema van al die werk van die groot romanskrywer Karel Schoeman nie?
In hierdie bundel behou die digter konsekwent haar sin vir poësie, en of sy dig oor die verlatenheid van Marilyn Monroe of oor Istanboel, die "stad tussen aanhalings", die eise van die gedig bly haar eerste prioriteit. Die digter is 'n goeie waarnemer, maar ook 'n uiters gevoelige mens. Die twee New York-gedigte dien as bewys van die digter se balans tussen stad, liefde en weemoed, met ander woorde tussen gegewe, emosie en tema (van vertrek). Hierdie opwindende stad met al sy teenstellings, sy ruimheid en sy mense van oraloor, sy beskutting van 'n Greta Garbo, sy inspirasie vir digters, sy ekonomiese status, is die stad wat ná die wrede dag van 9/11 "vir ewig en altyd verklaar word tot ongeneesbare insomniak"; hierdie stad is die hartstad:
Hartstad, dwingende stad, ingewikkelde stad,
my eerste elegieë het hier ontspruit;
ek sing vanaand die Westside-Blues.
Mens en stad word eenheid, en die stad word 'n gesprek met die self – noem dit Freudiaans 'n psigoanalise van die self. Daarom is die ek-verwysing gepas binne die werk van 'n digter wat juis dït as uitgangspunt kies en verkies. By Hambidge bly emosies egter ondergeskik aan die woord, of om Anton Reichling na te praat, aan "die dwingende krag van die woord" en aan "die inherente dissipline van die taal". In elk geval, meditasies kan nie bra losgemaak word van die mediterende persoon of digter nie. In 'n enkele gedig soos "Tokio" verkry die vers 'n sekere stroefheid, miskien om te veel emosie onder beheer te hou?
Soos bekend aan die werk van hierdie digter, is die humoristiese en ook die satiriese element nie afwesig nie. Besonder genuanseerde satire is die gedig "Chicago – 'n meditasie". Hierdie gedig is, soos vele andere, sterk self-ironiserend. Ook die begrip meditasie word plek-plek geïroniseer. In die vermaaklike en tegelyk weemoedige gedig "Donna & Dietrich", oor die gelyke aankoms in die ander wêreld van die populêre sangeres Donna Summer en die klassieke bariton Dietrich Fisher-Dieskau, word bespiegel:
Donna en Dietrich
dans saam
auf Himmelsgunst und Spar:
beide 'n wonderwerk.
In die afdeling "Selfkonfrontasie " word die leser self ook gekonfronteer oor pyn en verlies, maar dit word gepas bewoord deur verwarde beelde en versteurde kontoere. Hierdie afdeling is meedoënloos in die ontbloting van die weerlose en verwarde psige. 'n Bekende aanhaling van DJ Opperman sou hier van pas wees: "die streke van die gees bly ongekaart". Hierdie gedigte gaan oor die wydlopende emosies en innerlike ervarings van die mens, oor die ewige onsekerheid waarbinne die lewe hom voltrek.
Die gedig word self ook 'n meditasie, 'n "vreemde bedryf van pyn vertaal", en in die meditasie oor Istanboel:
Vannag lees ek daardie geleende boek
oor die lewens van my vriende, my vader
en almal wat my pad gekruis het. Oor 'n lewe
uitgeneem in die biblioteek van die Dood.
Binne die trant van die meditasie volg dan ook die pragtige in memoriam-gedigte, of eerder "lykdigte". Die bundel Lykdigte is immers 'n hoogtepunt in die Hambidge-oeuvre, en die lykdigte in hierdie bundel is van dieselfde of hoër gehalte. Daar is die pragtige vers oor die tenoor Deon van der Walt wat deur sy pa geskiet is, en gedigte oor digters soos Carl Mischke en Chris Lombard. Maar al die gedigte keer uiteindelik terug tot die verhouding mens:woord. Dit kan ook vertaal word tot "digter:gedig", aangesien in Hambidge se verse die digter die mens in die gedig is. Die gedig "Vir wie skryf jy jou gedigte" en die opvolggedig "Vir wie skryf jy dan jou gedigte?" bring dit duidelik op die voorgrond. Die digter bevind, op taamlik ontluisterende manier:
Die gedig is 'n reis na vreemde beserings,
na ongekaarte streke, word 'n diorama
vir die speurende leser se oogensiklopedie.
Soos gewoonlik by Hambidge is daar talle verwysings, maar die gedigte gee genoeg sleutels aan die lesers om die geheime te ontrafel. In sy geheel is Meditasies 'n kragtoer van die digter om soveel teenstellings, sulke ryke en geskakeerde bronne van materiaal in 'n gedugte en vernuftige ewewig te hou. Teenstellings soos realiteit teenoor drome en illusies, mens teenoor woord en digter teenoor wrede werklikheid word soos deur 'n meesterhand tot sintese gebring. Sekerlik is hierdie bundel 'n hoogtepunt in die werk van Hambidge. Naas Ewebeeld en Lykdigte is hierdie bundel, in my lesing daarvan, Hambidge se beste werk nog. En vergeet nie van die voortreflike Lot se Vrou nie.
Nie alleen is dit 'n voortreflike bundel gedigte nie, maar die digter lewer 'n beduidende bydrae tot die Afrikaanse leksikon deur die gebruik van woorde waaraan sy 'n nuwe betekenisverruiming gee, soos byvoorbeeld die begrip "meditasies". Maar uiteindelik en selfverduidelikend:
Ars Poetica
Stilte, eensaamheid
dryf haar van geboorte af
van wieg tot kis:
soekend na 'n ander
se aanraak of troos.
Op verskeie reise,
vlugtend van om verlaat-te-wees,
weg van pynlike ervarings,
terug tot in 'n andersoortige kissie:
hierdie klein brose ding,
genaamd 'n gedig,
nes die amberkamer
in die Hermitage.
Te vertelle,
eenling is jy gebore,
En só sal jy die gom
van die bome sny. (85)
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.