Beste Maya
Jy vra:
Wat is die doel van die lewe?
Baie dankie vir jou uitnodiging om hierdie vraag in ’n ieder van onse harte te bedink.
Eons het verloop wat ek nie self beleef het nie, en na my dood, sal daar weer baie tyd op Aarde verbygaan waarvan ek nie bewus sal wees nie.
Dus weet ek eintlik niks.
Maar vir sommige is die lewe ’n geordende reis met ’n bestemming iewers heen; vir ander ’n heerlike sorgvrye vaart op die kosmiese oseaan na nêrens. In my multiplex gedagte beleef ek als.
Dis so dat die woord "doel" baie verskillende gebruike het. Die eerste doel wat in my gedagte opkom is Joel Stransky se (skep)doel in die laaste oomblikke van Madiba se rugby Wêreldbekertoernooi. Daaruit kan ’n mens leer dat jy moet skep as jy kan, anders is daar geen (wen)doel nie.
Doel(wit) kan enkel of meervoudig wees; soos in doel(witte).
Pas jy jou vraag na "wat is die sin in die lewe", dan vereenvoudig als omdat jy net ’n enkele opsig hoef te bedink.
Jy kan nie deur my mond eet en jouself versadig nie (tensy ons ’n Siamese tweeling is en ek eet en jy praat). Geen mens ken ’n ander se werklikheid nie (selfs nie die ge-aliedes wat ander se wese met ’n byna demoniese besetting veronderstel nie).
Daarom, die sin in jou bestaan is jou eie. Dis totaal en al wat jy kies, wat jy voel, wat jy bedink en wat jy van jou eie realiteite waar ook al in die lewe maak!
Ongeveer 3 300 jaar gelede het die Egiptiese geestesiener, farao Akhenaten geleer:
Eer is ons innerlike kleed – dis ons Siel; eerste daarmee gekleed is die vlees, laastens word dit langs ons liggaam neergelê in die skeiding daarvan.
Vir die grootste deel van die mens se geskiedenis is eerbaarheid as die hoogste menslike waarde geag; soveel so dat ’n mens sou sterf daarvoor. Menige oorlog is op gronde van gekweste eer geveg. Eerbaarheid draai om integriteit en ordentlikheid; die onderskeid tussen reg en verkeerd. Geen geld koop ’n goeie reputasie nie.
Daar was ’n tyd toe ridders regtig maagde beskerm het ...
Vandag behoort dit steeds so te wees: om jou te skaar by wie hulleself nie kan verdedig nie; om pyn en verdriet in jou omgewing te help verlig, of ten minste nie daarby te voeg deur ander seer te maak nie; om ’n einde te maak aan waar daar ’n onoortreflike graad van rykdom en voorspoed reg langs bitterlike armoede en ellende heers; om te praat waar daar onreg is en om te werk vir ’n gemeenskap waar almal gelukkig en veilig voel.
Wat is die sin in my lewe?
Eenvoudig; ek dink nie te veel oor die onheil wat oor my pad kom nie. Daar gebeur goed en sleg met almal. Ek vat dit soos dit kom en tel my seëninge. Sin in my lewe kan net van GOD en niemand anders behalwe myself kom nie. Ek is die tydelike venster op my eie lewe. In my uiters beperkte sin, vertrou ek ons Almagtige Lewende Skepper. Net GOD ken ons HARTE; net GOD versorg ons daarin. Geen mens ken eens sy eie HART nie.
Toe ek my goeie vrind Wollie vra oor wat hy as die doel van die lewe ag, antwoord hy in sy diepe wysheid; die een wat met die meeste speelgoed op die werf sterf – dié WEN!
Maya, mag Jesus Christus ons GOD, self sin in elkeen se doel op Aarde tot Sy eer bring.
Hindoe-, Moslem-, Joodse, katolieke en Boeddhistiese liefde,
Cornelius Henn

