Maya en die doel

  • 0

Maya maak die volgende opmerkings in haar kommentaar – “is dit vir my duidelik dat dit dan die persoon self is wat sy eie doel moet maak en dat niemand in hierdie lewe werklik sal weet wat na die dood gaan gebeur nie” en “Dit wil vir my dus voorkom asof almal neig om aan iets te glo. Al is dit dan net aan jouself” en daarmee verdraai sy ten minste Tant Alie en my woorde en mis die punt geheel en al.

Die saak is eintlik eenvoudig. Elke mens het in die lewe gekom geheel en al uniek en sonder enige eie betrokkenheid of medewerking, hoegenaamd. Die ouerlike besluit om kinders te hê het ewe min daarmee te make (kyk, sommige wil nie kinders hê nie en tóg … terwyl ander báie graag wil kinders hê en tóg … en feitlik niemand kry kinders op die tyd en plek wat hulle dit so wil, nie). Álles wat bestaan in die natuur soos ons dit ken, het tot stand gekom op dieselfde manier en net só het álles ’n bepaalde doel. Dit is dus logies dat die Skepper van dit alles, algar geskape het vir ’n bepaalde doel, veral die mens, elke mens synde so uniek, ongeag die biljoene wat lewe en gelewe het. En hieruit behoort dit báie duidelik te wees dat daardie doel, hoegenaamd niks te make het met ’n persoon se eie siening van wat sy doel behoor te wees, nie. Sy doel is voorafbepaal, ’n unieke en onontbeerlike rat in ’n báie groot masjien, ’n baie groot Orde, véél groter as die mens, wat nog te sê, die individu.

Om dít te wil ontken, is om verantwoordelikheid te wil ontduik – verál die boeddhis en ateïs, sodat hulle hul eie lewensreëls maak (wyl niks anders so werk nie – alles is deel van en doelmatig in, ’n groter orde en nié outonoom nie). Elke mens is dit verskuldig om sy voorafbepaalde doel uit te leef, hoe gering en kompleks ook al, en om uit te vind wat dié doel is – en dié kan werklik net vermag word as die persoon kontak met sy Skepper het, want die Skepper ken mos die doel …

Dan sê-vra Maya ook die volgende “Kan ’n mens dan dus soort van aanneem dat die mens geloof beskou as ’n tipe beskerming teen die onbekende, dit wat jy nie kan verstaan of verduidelik nie?” Geloof in God is nie beskerming teen die onbekende nie, want by God is niks onbekend nie. Die mens wie ’n persoonlike verhouding met sy Skepper, met God, het, het toegang tot daardie Goddelike kennis, op sy regte tyd en plek, selfs op ’n “need to know” basis. Geloof in God is ’n aangenome en benutte Goddelike geskenk en is ’n lewenskrag, ’n “life force”, véél groter as ’n vale beskermingsmeganisme teen die sogenaamde onbekende. Geloof is God is om die eerste belangrike stap te neem om daardie doel, die doel van die lewe, te verwesentlik.

Oom Daan meen dat die lewe sélf die doel is. Hy besef dit nie, maar hy is eintlik reg. Net, daardie lewe moet Lewe gespel word. Sien, Oom Daan is onder die wanindruk dat daardie lewe ophou wanneer sy liggaam die gees gee, terwyl dit die eerste tree is in die fase van die res van die lewe waar die liggaam nié meer kan vergaan nie … die ewigheid. Daarom is Oom Daan ook geheel en al onvoorbereid daarop – en mis hy die werklike doel van die werklike Lewe. Want wat hy nóú doen (of, nog belangriker, nié doen, nie), in dié deel van lewe, sal bepaal in watter rigting hy sy koers sal moet inslaan sodra hy die tweede, finale fase, betree.

En één ding van spyt – dit kom áltyd te laat!

Groete en móói dink hieroor …

Kobus de Klerk

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top