Beste Maya
Dankie dat jy aan my die geleentheid bied om my opinie rakende die doel van ons bestaan te gee. Daar is natuurlik verskeie maniere hoe om die saak te beredeneer, en ek is seker dat jy ’n antwoord vanuit ’n Christelike oogpunt van my verwag. Ek wil egter noem, dat geen mens, Christen of nie, eenhonderd persent seker is wat ons eintlike doel hier op aarde is nie. Tog kan ons verseker wees dat ons eendag volkome sal sien en verstaan wat die plan vir die soms moeilike paadjie wat ons hier op aarde moes stap, sou wees.
Tog, kan mens berusting kry in die feit dat met al die wanhoop, chaos en seer, wat die lewe soms ondraaglik maak, daar soveel uniekheid en mooi om ons is. Ek sien God se hand in alles om my. Die geboorte van ’n nuwe kind, die pragtige blomme en groen grasperke wat na die koue winter lewe begin kry. Ek geniet die liefde en omhelsing van my familie en vriende. Ek lag vir grappies en word opgewonde oor vakansies en nuwe verwikkelinge in my lewe.
Dalk is dit beter om nie te tob oor die doel vir die lewe nie, maar om te aanvaar dat daar wel ’n doel is en dat jy eendag wel daaroor uitsluitsel sal kry. In die tussentyd kan jy rustig en kalm die klein dinge in die lewe geniet en waardeer. Dalk moet ons ons oë meer oopmaak vir die fyner dinge, en elke dag dankie se dat ons hierdie dinge kan ervaar en geniet! Ons moet elke dag in dankbaarheid lewe!
Groete
Tant Alie

