"Matriekfoto" deur Hannes Nel

  • 0

Tydens die US Woordfees 2014 is die suksesvolle Sanlam | LitNet-tydskrifverhaalslypskool aangebied. So groot was die belangstelling in dié geleentheid dat heelwat voornemende deelnemers weggewys moes word.

Daar is nou goeie nuus vir almal wat nie die geleentheid kon meemaak nie. LitNet gaan vir die volgende paar weke ’n tydskrifverhaalslypskool-reeks plaas: aantekeninge van die aanbieders, asook verhale wat deur deelnemers voorgelê is.

LitNet plaas ’n verhaal van een van die deelnemers aan die slypskool: "Matriekfoto" deur Hannes Nel.

Sonbesies wat onophoudelik in die populierbome langs die kantoor skril, dryf ’n dolk agter die ontvangsdame se ore in, regaf tot in haar nek tussen haar skouerblaaie. Die reuk van stof en smeltende teer ry op die hittegolwe, vul die kantoor totdat dit vir haar voel of sy daaraan kan stik. Sy hou die vensters oop in die hoop dat daar ’n vars briesie deur die kantoor sal trek. In stede daarvan tuimel nog meer hitte, stof en die reuk van teer by die vensters in. Die laaste skoolkinders is reeds huis toe en die dag is vervelig, onhoudbaar.

Haar kop knik-knik terwyl sy veg om nie agter die ontvangstoonbank aan die slaap te raak nie. Sy kyk op haar horlosie – dit is nou eers halfdrie. Nugter alleen weet hoe sy tot halfvyf gaan uithou, dink sy wanhopig. Na ’n ewigheid, toe haar insluimerende kop byna die toonbankblad voor haar tref, kyk sy weer op haar horlosie. Sewe-en-twintig minute voor drie. Verdomp, ek wens net iets wil gebeur wat my wakker sal hou, iets om die doodsheid te verdryf, wat die horlosie net ’n skop onder sy agterent sal gee, sodat hy vinniger loop.

Die horlosie het skaars ’n minuut verder gekruip toe daar ’n man van seker so sestig by die voordeur ingestap kom. Fier en trots stap hy, netjies geklee in ’n vlootblou langbroek, ligblou langmouhemp met vlootblou afwerking om die kraag en hempsmou-omslag, blinkgepoleerde swart skoene en ’n netjiese, swart leergordel. Sy das het ’n bekende universiteitmotief op. Dit pas perfek by sy blou hemp en broek.

“Middag dame,” groet die man met ’n innemende glimlag. “Ek was sowat 43 jaar gelede hier in matriek en het gewonder of julle nie dalk nog ’n jaarboek vir 1969 het nie. Dit is twee jaar na my matriekjaar, maar ek sal graag so ’n jaarboek wil bekom.”

“Jammer Oom,” antwoord sy, “ons het net een afskrif van elke jaarboek na 1953. Ek kan vir Oom ’n fotokopie maak van enige foto’s of bladsye in die jaarboek as dit sal help.”

“Kan ek die jaarboek darem net sien?” vra die oom.

Sy gaan haal die jaarboek in die stoortjie agter haar kantoor en sit dit op die toonbank voor hom neer. Aandagtig blaai hy daardeur. Hier en daar glimlag hy oor ’n foto of iets wat iemand geskryf het.

“Kyk net hier,” sê hy en wys na ’n foto van die eerste krieketspan. “Hier is my kleinboet – nogal kaptein van die span.” So halfpad deur die jaarboek kom hy by die foto van die matriekklas vir 1969. “Weet jy, my kind,” sê hy, “daar is soveel herinneringe in so ’n jaarboek opgesluit. Kyk net hier, hierdie meisie hier…” Hy wys na ’n meisie derde van links in die tweede ry. “Dit was my vriendin op skool en ek was vreeslik lief vir haar. Ons kon so lekker gesels en sy was so mooi. Elke Sondag na kerk het ons met ons fietse dam toe gery om daar piekniek te hou. Sy het vir ons toebroodjies gemaak en ek het vir ons koeldrank gekoop. Saam met haar het die tyd so vinnig verby gevlieg. Een Sondag het ons eers na donker by haar ouerhuis aangekom, en ek dink dit is waar ons probleme begin het. Haar ma het gevoel dat ons verhouding te ernstig is vir skoolkinders, dat dit te vinnig ontwikkel.

“Ek het dit destyds nie besef nie, maar haar ma het ons stelselmatig uit mekaar gedryf. Ek het na matriek gaan studeer en ons kon mekaar selde sien.

“Een Sondagaand – ek moes daardie aand nog terug universiteit toe ryloop – het sy bitterlik gehuil. Ja, dit was altyd swaar om afskeid te neem, maar daardie aand was sy besonder hartseer. Min het ek geweet dat dit die laaste keer sou wees wat ek haar sou vashou. Nooit weer het ek ’n brief van haar ontvang nie en wanneer ek haar probeer bel het, was sy net nie by die huis nie. Dit is nou volgens haar ma wat altyd die foon beantwoord het. Ek sou later by my kleinboet hoor dat sy nooit getrou het nie.

“Ek was so lief vir haar. Sy was alles in my lewe en ek sou haar soos ’n prinses behandel het as sy net vir my sou gewag het. Daar is soveel wat ek vir haar sou gedoen het – trouens, ek sou álles vir haar gedoen het. Alles – sy moes net met my getrou het. Vandag is ek ’n vermoënde man en my prinses sou geen gebrek gely het nie. Na haar was daar niemand wat enigsins met haar kon vergelyk nie. Ek het toe ook nooit getrou nie en vandag is ek alleen, alleen.”

Die fier en regop oom laat sak sy skouers net so effens, verander in ’n gepynigde, verlore ou man. “Kan jy vir my ’n fotokopie van die foto maak, asseblief?”

Met ’n knop in haar keel maak sy die afskrif om vir die oom te gee. Dit is hartverskeurend om te sien hoe die oom, wat kort tevore nog so op en wakker by die kantoor ingestap het, met geboë skouers by die voordeur uitskuifel.

Met trane wat reeds teen haar wange afbiggel, storm sy na die kleedkamer en sluit die deur agter haar. Haar lewe was ook nie altyd maklik nie. Haar ma het haar alleen grootgemaak en sy ken eensaamheid, die gemis van ’n pa. Haar hele lewe lank het haar ma by die koöperasie op die dorp gewerk. Met haar karige salarissie kon hulle net oorleef – daar was nie geld vir enigiets meer nie. Haar ma kon nooit verder as matriek studeer nie, omdat daar nie geld was nie. Bowendien het sy ’n kind gehad om groot te maak.

Al die jare het hulle ’n klein woonstelletjie in die hoofstraat gehuur, en daar was nie veel om te doen nie. Veral Sondagaande was die ergste. Dan het haar ma haar vertel van die groot liefde in haar lewe met wie sy nooit kon trou nie. Die groot vis wat weggekom het. In haar drome was hy die aantreklikste, sterkste en intelligentste mens op aarde.

Sy kon nooit verstaan waarom haar pa hulle net so aan hulle eie lot oorgelaat het nie. Die enkele keer wat sy haar ma gevra het, het sy net geantwoord: “My kind, jou pa het sy eie lewensdrome gehad en ons was nie deel van sy drome nie.”

Nadat sy ’n graad in kommunikasiekunde behaal het, het sy aansoek gedoen vir die pos by die skool en dit gekry. Sy is kort daarna met ’n onderwyser by dieselfde skool getroud en hulle kon darem ’n gerieflike huisie met ’n tuin bekostig. Haar ma was nie meer gesond nie en is na ’n lang siekbed genadiglik oorlede.

Sy veg teen die trane. Die oom staan nog voor die kantoor en tuur in die populierbome – hy soek seker die sonbesies wat so skril, dink sy. “Oom!” roep sy, “wag net ’n bietjie, ek moet met Oom praat.”

In die paadjie buite die kantoor kom die oom tot stilstand, draai stadig om. Met ’n geboë hoof kom staan sy voor hom. Dan kyk sy op, vee die trane met haar linkerhand van haar wange af. “Die matriekmeisie op die foto is my ma.” Sy gooi haar arms om sy nek, kyk in sy oë terwyl sy prewel: “Hallo, Pa!”


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top