Die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) het in 1960 begin en was uitsluitlik vir bruin studente bedoel. Tot aan die einde van Richard van der Ross se ampstermyn as rektor in 1986 het dit by die UWK primêr om akademiese oorwegings gegaan. Onder die beste UWK-dosente was diegene wat hulle formele kwalifikasies aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf het. Die UWK het toe na die akademiese voortreflikheid van die US gestreef. Soos in die geval van die Universiteit van Durban-Westville (vir Indiërstudente) het die UWK in Bellville uitstekende dosente getrek omdat dit in ’n gesogte stedelike omgewing geleë is.
Na 1986 het die UWK hom in die eerste plek deur politieke oorwegings laat lei. Die reg van die destydse "regime" om die UWK te befonds is erken, maar daardie regering se reg om etniese toelatingsvereistes te stel (naamlik net bruin studente), asook die reg om matriek as toelatingskwalifikasie van studente te vereis, is ontken. Die gevolg was dat die UWK getransformeer is in ’n multikulturele inrigting, veral weens die invloei van Oos-Kaapse swart studente met minderwaardige formele kwalifikasies. Hierdie swart studente het op eentalige onderrig in Engels aangedring. Hoogs dislojaal teenoor Afrikaans, asook teenoor die belange van die meerderheid bruin studente, is aan hierdie eis toegegee. Die UWK, wat van die begin af onderrig hoofsaaklik in Afrikaans aangebied het (en in Afrikaans geadministreer is), is in ’n eentalige Engelse inrigting getransformeer.
Die geskiedenis van die UWK kan dus in twee periodes verdeel word. Tot 1986 kan die akademiese periode genoem word en die era daarna die politieke periode. In die jare tagtig het die UDF, die binnelandse vleuel van die ANC, vrye toegang tot die kampus verkry (bv onder die dekmantel van godsdiens) in die persoon van UDF-leiers soos Desmond Tutu en Allan Boesak. Die akademiese bedrywighede is toe dikwels deur politieke onrus ontwrig. Na die aanbreek van politieke "bevryding" in 1990 is senior ANC-kamerade, soos die latere ministers Kader Asmal en Dullah Omar, as dosente aangestel. In hierdie atmosfeer het toekomstige US-personeellede, soos die bevrydingsteoloë Russel Botman, Nico Koopman en Llewellyn MacMaster, hulle politieke en "akademiese" vorming ontvang.
In die vorige eeu was die US ’n akademies gerespekteerde inrigting wat met trots onderrig in Afrikaans aan blanke studente verskaf het. Die toelating van hierdie studente het (meesal) op suiwer akademiese gronde geskied. Sonder ’n A-simbool gemiddeld in matriek kon studente bv nie toelating tot gesogte studieterreine soos die mediese en rekenmeesterleergange kry nie. Toe is daar nie geredeneer dat studente onderrig in Engels moet ontvang omdat Engels in die "wêreld daar buite" gepraat word nie. Tog het die afgestudeerdes, danksy die gehalte van die onderrig en die groter begrip wat moedertaalonderrig verseker, uitstekend in hulle beroepe gevaar.
Van 1990 af en veral sedert 1994 is om politieke redes met ’n veldtog begin om die voortreflike akademiese opset aan die US verdag te maak. Daar is veral tydens Chris Brink se ampstermyn as rektor erkenning aan hierdie aandrang op verandering gegee, maar dit het nie sonder sterk teenstand geskied nie; soortgelyk aan die teenstand wat die bruin UWK-studente aanvanklik teen die oorname van hulle kampus deur swart studente gebied het. Sedert Russel Botman as US-rektor by Brink oorgeneem het, het transformasie-inisiatiewe eksponensieel toegeneem, maar teenstand daarteen het weens die sug na politieke korrektheid sterk afgeneem.
Deesdae word teen die feite in sonder meer geredelik aanvaar dat die ou US (soos die ou Suid-Afrika) sleg was, dat (feitlik) enige verandering eintlik ’n verbetering moet wees. Hierdie standpunt gee uitdrukking aan die wese van "transformasie" en berus op suiwer politieke gronde. Akademiese belange word nie (in die eerste plek) gedien nie. Aan die US word studente (selfs in die meeste gevalle) nie meer op suiwer akademiese gronde toegelaat nie. Die dosente en ander personeel word nie suiwer op grond van meriete (bv in die geval van dosente, akademiese kwalifikasies en ondervinding) aangestel en bevorder nie. Iedere keer as die US deesdae poste adverteer, word dit blatant gestel dat voorkeur aan kandidate uit die "aangewese groepe" (dus nie-wit, nie mans) gegee word. Dit spreek vanself dat hierdie wesenlik politieke opset ten koste van akademiese voortreflikheid bestaan, maar dit word ontken en al hoe meer gedwee geduld.
Desnieteenstaande is in die uitsending op 26 deser telkens na die US as ’n wêreldklas universiteit verwys. Die studente is glo ook wêreldklas. Anton van Niekerk het sover gegaan om te beweer dat die US die beste moontlike akademiese opleiding bied, glo omdat die beste studente en dosente hulle op die kampus bevind. Dit is myns insiens eerder ’n uitdrukking van lojaliteit as ’n voorbeeld van feitelike verslagdoening. Met hierdie paragraaf loop ek egter die tweede deel van my skrywe vooruit.
Voorheen was die US die akademiese ideaal waarna die UWK gestreef het. Deesdae is die omgekeerde die geval: Die UWK verteenwoordig die politieke opset (eentalig Engels en multikultureel maar oorwegend swart) waarna die maghebbers aan die US streef. Aan albei inrigting is akademiese gehalte van sekondêre belang. Deesdae word daar plaaslik geredeneer dat ’n inrigting as ’n wêrelduniversiteit gereken word nie op grond van die akademies voortreflike gehalte wat dit verteenwoordig nie, maar vanweë die groot getal buitelandse studente (by voorkeur uit swart Afrika) wat op die kampus is en die talle komitees en sulke dinge van Afrika-universiteite waarin die rektor en inskiklike dosente dien.
Dat dit nodig is om die voorafgaande inligting te verskaf, is onlangs by my tuisgebring toe ’n US-raadslid, wat hom vir herverkiesing beskikbaar gestel het, beweer het dat die US ’n spesiale historiese verantwoordelikheid teenoor bruin studente het. Hy verwar klaarblyklik die US met die UWK. Hy dink ingevolge die huidige geykte amptelike rigting wat die US ingeslaan het, naamlik dat bruin studente (en dosente) ten koste van wit studente (en dosente) bevoordeel moet word. Die UWK het sy historiese verpligting teenoor (die meerderheid Afrikaanssprekende) bruin studente versaak en nou word dit van die US verwag om hiervoor in die bres te tree. Die ironie is dat die toevloei van bruin studente na die US waarskynlik nie die toekoms van Afrikaans op die kampus verseker nie, want baie van hulle (heel moontlik die meerderheid) gee voorkeur aan Engels.
Teen hierdie agtergrond het die RSG-uitsending op 26 Julie plaasgevind.
Vervolg.
Johannes Comestor

