
So tussen die boekrakke van 'n stampvol Exclusive Books in Tygervallei kon MasterChef-aanhangers hulle gunsteling deelnemers ontmoet. En by die eerste Suid-Afrikaanse MasterChef-kookboek se bekendstelling in Kaapstad is daar 'n anderse prentjie geskets as op televisie: Pete Goffe-Wood het vanaand net mooi goed te sê gehad.
“Ja, ek was soms moeilik tydens die program,” erken hy. “Maar dis omdat ek myself nie laat flous het deur die deelnemers nie.” Pete kon ook nie uitgepraat raak oor die reeks se jong kykers nie. “Dis ongelooflik om te sien watter effek kookprogramme op ons kinders het,” sê hy. “Ek verbaas my nou die dag toe 'n negejarige kind vir my vertel sy kook al kwarteleiers!”
Lungile Nhlanhla, Sue-Ann Allen, Ilse Fourie en Sarel Loots was almal daar om handtekeninge uit te deel. Die kookboek is deur die bekende kosskrywer Errieda du Toit geskryf. Myburgh du Plessis het die foto’s geneem en die stilering is deur Jacques Erasmus gedoen.
Die goeie nuus is dat nie een van die kokke teenwoordig hulle voorskote opgehang het, sedert hulle die kompetisie verlaat het, nie. Sue-Ann Allen het so pas ‘n demo-kombuis, die V&A Market on the Wharf, in Kaapstad geopen. Sy en Ilse Fourie beplan ook ’n kookboek wat volgende jaar die lig sal sien. Die “gourmet-prinses”, soos Ilse haarself noem, hou haar lyf ook aanbieder op KykNET se ontbytprogram, Dagbreek. Sy resenseer nou kookboeke en bied kookpraatjies en -demonstrasies by feeste aan.
En wat het van Sarel van Sabie geword? Hy is nou die plaaslike held in Sabie en kan nie voorbly met spyseniering vir funksies – en boerewors – nie. Sarel stel volgende jaar ook sy eie blatjangboerewors landswyd bekend. Ngile Nhlanhla het, nog voor die laaste paar episodes uitgesaai was, 'n droomwerk by Drum as junior kosredakteur losgeslaan.
Een ding is seker: Die sjefs gaan nog gróót kosdinge vir Suid-Afrika bied. En die voornemende deelnemers aan die tweede reeks MasterChef SA kan hulle gerus dophou. Pete het ook laat val: Die MasterChef SA-reeks sal binnekort in Britanje op Sky UKTV uitgesaai word. Ons weet ook reeds dat die tweede MasterChef SA-reeks volgende jaar twee keer per week, op Dinsdae en Woensdae, uitgesaai sal word.


Marga Collings, verkope- en bemarkingsbestuurder van NB-Uitgewers aan die woord. Van links: Pete Goffe-Wood, Sue-Ann Allen en Errieda du Toit.

Van links: Sarel Loots, Lungile Nhlanhla en Ilse Fourie.
Sue-Ann Allen

Ilse Fourie teken Pete Goffe-Wood se eksemplaar.

Pete Goffe-Wood

Jade de Waal, een van die deelnemers, was ook daar. Hier staan sy saam met Errieda du Toit, die skrywer van MasterChef South Africa, The Cookbook.

'n Opgewonde jong aanhanger samel handtekeninge in.

Guy Clark

Pete Goffe-Wood en Sue-Ann Allen gesels oor die boek.

Jade de Waal

Sarel Loots en kosblogger Anel Potgieter
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

