Marlene van Niekerk se "laer mensagtige staat"

  • 2

Marlene van Niekerk het onlangs gesê: "Ek besef ... wel deeglik dat min Afrikaanssprekendes tussen 18 en 25 jaar enigsins begryp wat ek skryf, gewoon omdat die woordeskat van Afrikaans, soos wat dit tans nog gestandaardiseer is, so radikaal aan die krimp is. Min jong Afrikaanssprekendes kan ’n sintakties verwikkelde saamgestelde sin vlot lees of begryp. Ek dink dit geld ander tale ook. Dit het te doen met die globale terugval na ’n laer mensagtige staat via die slimfone en ander elektroniese apparaat, en die voorkeur wat Facebook-statusveranderings geniet bo ’n gedig of ’n kortverhaal" (Die Burger, 18 Junie, p 10).

My vertolking is dat die skool- en selfs tersiêre onderrig wat jong mense deesdae (plaaslik) ontvang hulle taalkundig en dus ook (dalk veral) in Afrikaans ontoereikend toerus. Sy verwys ook na die woordeskat van Standaardafrikaans wat om veral politieke redes onder toenemende druk van verbastering met Engels is. Dan is daar die verskynsel dat die leer- (insluitende die lees-) proses verkieslik met die minste moontlike inspanning en met die grootste moontlike pret moet geskied. Alles moet soveel moontlik vereenvoudig word. Literêre teks moet soos koerantteks wees: alledaagse woorde, maklike begrippe en kort sinne, verkieslik vergesel van illustrasies in kleur. Beelde neem al hoe meer die inligtingsfunksie van teks oor. Nuwe media soos televisie, sel- (insluitende slim-) fone en rekenaargebaseerde geïllustreerde teks speel hierin ’n groot rol.

Vir skrywers soos Van Niekerk, wat tradisionele literêre tekste skep en daarby in die uitgerekte romanformaat, is hierdie verwikkelinge slegte nuus. Dit lei tot spekulasie oor die einde van (omvangryke) gedrukte media soos die roman en die boek en dus ook die boekwinkel; almal eerder kwynende as florerende verskynsels. Maar die onderliggende gevaar is veel groter: die kwyning van kulture (insluitende tale) en van beskawing as sodanig en daarmee saam die vervlakking van insig, die beperking van die vermoë tot probleemoplossing, asook die vaardigheid om met uitvindings voor ’n dag te kom en ander kreatiewe en verbeeldingryke arbeid te verrig. Dit kom neer op "’n laer mensagtige staat", soos Van Niekerk tereg opmerk. Die liggaam word vertroetel terwyl die gees skade ly. Ons situasie word al hoe meer massa-vriendelik en toenemend elite-onvriendelik. Voortreflikheid en indiwiduele prestasie raak sowel uit die mode as skaarser.

Dit laat ’n mens dink aan die uitstekende boeke wat oor die drukkuns, sy talle produkte en hulle invloed verskyn het. ’n Kursus in historiese bibliografie behoort ’n heilsame beskawende invloed op die student te hê. Dink ook aan die talle boeke oor boekversameling en die groot deskundigheid wat die bedryf in seldsame boeke ten grondslag lê.

Ek het voorheen genoem dat ’n mens eerder biblioteke en boekwinkels moet besoek as om oor hulle te lees. Insgelyk moet ’n mens eerder boeke oor jou gunstelingonderwerpe lees as om oor lees as sodanig te lees. Soos ek hieronder aantoon, beteken dit nie dat ’n mens geen baat by boeke oor biblioteke, boekwinkels en die leesverskynsel kan vind nie. Wat ek veel eerder probeer sê, is soortgelyk aan wat die apostel Paulus geskryf het: Diegene wat trou (dus oor lees en boeke lees) doen goed, maar diegene wat nie trou nie (dus veral oor ander onderwerpe lees) doen beter.

Ten spyte van my voorbehoude het ek Allison Hoover Bartlett se The man who loved books too much: The true story of a thief, a detective, and a world of literary obsession (New York: Riverhead Books, 2010, 275p, R135) gekoop. Aanvanklik was ek erg teleurgesteld met die teks, want die outeur noem haarself ’n "outsider" oor hierdie onderwerp (p 202). Sy was nie ’n boekversamelaar nie, het geen gespesialiseerde kennis oor die onderwerp gehad nie en wou as ’n joernalis bloot ’n storie oor ’n boekdief naspeur en publiseer: "We were all tenacious hunters - Gilkey [the thief] for books, Sanders [the detective] for thieves, and me for both their stories" (p 199). Tydens haar ondersoek het sy leeswerk gedoen en onderhoude gevoer, wat gesorg het dat sy ’n mate van kennis oor die onderwerp opgedoen het. Sy gebruik die aanvangshoofstukke om hierdie kennis aan leke-lesers oor te dra. Dit het my nogal geïrriteer, al besef ek dat baie lesers by die inligting kan baat.

Ek gaan na net een van die terme verwys. Al hoekom ek incunabula noem, is omdat die Afrikaanse term, naamlik wiegedrukke (ontleen aan Duits - drukwerk uit die begintyd van die boekdrukkuns, dus van veral voor 1501), vir my so mooi beskrywend is. Daar was so baie wat Bartlett moes leer, soos dat ’n seldsame boek in talle verskillende opsigte seldsaam kan wees. Sy het ook nie afdoende besef dat daar ’n fundamentele verskil is tussen enersyds boekversamelaars wat van boeke as fisiese voorwerpe hou (bv koffietafelboeke om besoekers te beïndruk) en andersyds boekversamelaars wat boeke koop om te lees, dus terwille van die boodskap, nie. In albei gevalle kan die volgende waar wees: "Collecting is like hunger ... having one more book doesn’t quench the longing for another" (p 102). Omdat Bartlett die vakliteratuur nie (goed) ken nie, is sy geneig om te maklik die geykte fabels te glo wat sommige boekhandelaar aan haar vertel het.

Ek is maar bly dat ek die boek tot die einde gelees het, want die latere hoofstukke is interessant en onderhoudend geskryf. Wat opval, is dat diegene in die boekhandel dikwels uit ouerhuise kom waarin daar boekversamelings was: "Books ... [are] part of the ambience of a house" (p 61). Hulle het boekkultuur as’t ware soos moedersmelk ingekry. Die rak met boeke uit jou verlede, bv kindertyd, word "a kind of memoir" (p 64). "Touring a personal library is a lot like going through someone’s family photo album" (p 110). Let op die outeur se onvermoë om duidelik tussen ’n biblioteek en ’n versameling boeke te onderskei.

As ’n Amerikaner skryf Bartlett, soos verwag kon word, oor Thomas Jefferson (1743-1826) se boekversameling. Hy het sy boeke volgens grootte gerangskik. In 1814 het die Britte die Kongresbiblioteek in Washington DC afgebrand. Jefferson het daarna sy versameling van 6 700 boekdele aan die staat verkoop. Dit was die aanvangsversameling van die Library of Congress, wat mettertyd die grootste biblioteek ter wêreld geword het. Die outeur stel haar onkunde oor biblioteekklassifikasiestelsels ten toon deur te verwys na Francis Bacon (1561-1626) se voorstel dat kennis/inligting en dus boeke in drie breë (en uiters vae) kategorieë ingedeel moet word: "Memory, Reason, and Imagination, poetic divisions I’d like to see bookstores adopt today" (p 196).

Bartlett kom met ’n ongewilde waarheid soos die volgende vorendag: "It occurred to me how unusual it is to see a person of color at a rare book fair or store. This has been an old-white-man’s game for a long time" (p 112). ’n Minderheid mense stel in boeke belang en die besoekers aan winkels wat in seldsame boeke spesialiseer, verdun tot enkelinge: "One customer is the norm, two is busy, and three feels bustling" (p 173). Die volgende sin het ek besonder interessant gevind: "He seemed intelligent, but frequently mispronounced words the way well-read people who have not grown up around well-read people often do" (p 46). Dit is kenmerkend van bv Unisa-studente wat op hulle eie en sonder sosiale kontak met dosente en mede-studente studeer het. Hulle verdien agting.

Johannes Comestor

 

  • 2

Kommentaar

  • Beste Johannes

    By die lees van jou brief,het "A Tale Of Two Cities"deur Charles Dickens,onmiddelik in my gedagtes opgekom.Dis een van daardie boeke wat 'n groot mondvol is.Vir die moderne mens is dit heeltemal te langdradig en dis omtrent 'n prestasie om dit deur te lees.Gegewe die tydperk,soos met baie ander klassieke werke,het die lesers nog tyd gehad om hulle in te leef in lang lang relase en fyn besonderhede.

    Ongelukkig het die moderne mens se verbruikerskultuur ook ingeskop by sy taalgebruik en leesgewoontes.Alles moet so vinnig as moontlik geskied en presisie word by die agterdeur uitgesmyt.

    Dis 'n groot jammerte,maar dit sal interessant wees om die stand van sake oor vyftig of honderd jaar te sien.

    Miskien praat niemand meer met mekaar nie,teks mekaar net met enkelsillabige woorde vanaf gesofistikeerde elektroniese apparate,gedrukte boeke sal dalk totaal verdwyn en die menslike brein sal moontlik besig wees om 'n devolusie te ondergaan,terug grotte toe!

    Dankie vir jou altyd interessante skrywes.

    Groetnis

    Perdebytjie

  • Ek verkwalik ook die soort universiteitsonderrig wat reeds oor die afgelope twintig jaar of wat by Afrikaanse vertaal- en joernalistiekskole aangebied word. Vir die dosente is verwikkeldheid, nuanse en betekenisskakerings taboe. Van die student word verwag om die driewoordsin te produseer, wat dan bestaan uit kort woorde, kort sinne en  infantiele konsepsualisering. Hierdie soort taalgebruik word dan weer afgedwing op joernaliste, vertalers, uitgewers, en selfs in die kerk. Wie het onlangs 'n jong domineetjie hoor preek?  Die hemel help ons.

    Ons  Afrikaanse taaltjie is via die sg 'plain language'-beweging wat van oor die waters oorgewaai het, skoongeskrop van alle diepgang en intellektuele inhoud. So verneem ek dat die jongste Afrikaanse Bybelvertaling nie die woord 'geloof'' gaan bevat nie, omdat dit glo te moeilik is om te begryp.  Nou sit ons met die gebakte pere.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top