Marlene Dumas skenk Johannes Vermeer-prysgeld

  • 1

Baie amper het Marlene Dumas se sterk Afrikaanse uitspraak veroorsaak dat die honderde genooide gaste in die imposante Prinsenhof in Delft nie besef het wat sy gesê het nie: dat sy wél Nederland se belangrike Johannes Vermeer-prys 2012 aanvaar, maar die prysgeld van 100 000 euro, meer as ’n miljoen rand, nie vir haarself hou nie, maar skenk aan die nagraadse kunsopleiding Ateliers.

Tydens haar toespraak het Dumas ook na ander kunstenaars verwys wat voor haar geworstel het met pryse en erkenning. Sy het nié sy naam genoem nie, maar Suid-Afrikaners in die gehoor moes sekerlik gedink het aan David Goldblatt, wat onlangs geweier het om ’n staatstoekenning uit hande van president Jacob Zuma te ontvang.

Die Johannes Vermeer-prys is die enigste, en tegelykertyd ‘n baie groot, Nederlandse staatsprys vir die kunste, ingestel deur die minister van onderwys, kultuur en wetenskap. Die doel is om uitsonderlike artistieke talent hiermee te vereer en verder te stimuleer.

Die joernalis Wieteke van Zeil beskryf Dumas se weggee van die prysgeld só in die belangrike Nederlandse de Volkskrant: “Ze zei het bijna onverstaanbaar. Zo snel, met zo’n vet Zuid-Afrikaans accent. Daarom kwam het bij het publiek dat maandagavond luisterde naar de speech van Marlene Dumas […] ook geleidelijk binnen. Zei ze het écht? Ja, ze zei het echt. ‘Ik accepteer de eer en geef het geld door aan De Ateliers.’” Toe mense eers besef wat sy gesê het, het ’n minute lange applous losgebars.

Die feit dat Marlene Dumas haar prysgeld onmiddellik weggegee het aan ‘n noodlydende Nederlandse kunsorganisasie is ’n radikale protesaksie téén die beleid van staatsekretaris Halbe Zijlstra, wat die prys aan haar oorhandig het. Tydens sy pas-voltooide ampstermyn was hy immers verantwoordelik vir grootskaalse besuinigings in alle sektore van die Nederlandse kunsomgewing. Zijlstra het Dumas net vantevore nog baie gemoedelik en persoonlik toegespreek deur onder meer te verwys na ’n uitspraak van haar “partner”, Jan Andriesse: “Marlene tref jou met ’n moker, maar dit is ’n baie subtiele moker, verpak in fluweel.”

Maandagaand 29 Oktober 2012 was Marlene egter nie lus vir fluweel of doekies omdraai nie. Sy het haar slegs skynbaar subtiel en juis baie direk tot Zijlstra gerig.

“Ek het ’n staatsprys ontvang. Ek het nie geweet wat ‘die staat’ is nie. En die woord kan boonop gelees word, soos ek dit dikwels lees: ‘deur internasionale terrorisme, verkeer ons almal in ’n permanente staat van oorlog ...’ Ek wou weet of die staat dan dieselfde is as die regering. En hulle sê - nee. Dus wou ek weet waarom ek die prys dan van meneer Zijlstra kry. Hulle sê hy het nie die prys ingestel nie, maar doen dit vanweë sy funksie.

“’n Goeie vriend se reaksie was: ‘Marlene, ’n staatsprys: it’s time to run!’

“Nou, dis geen geheim nie dat ek en meneer Zijlstra in min of meer elke opsig verskil wat betref kunsbeleid. Ek ken hom nie persoonlik nie. Dis natuurlik ook maar goed, want nou is my blik op ons professionele verhouding onvertroebel.

“Dis ’n prys vir die kunste, en elk van ons twee verteenwoordig hier ’n visie van kuns. m hierdie prys ernstig op te neem, moet ons kuns ernstig vertolk. En mekaar ernstig opneem.”

Op haar uitgesproke onortodokse, maar baie sjarmante, manier het Marlene die hele verhoog gevul en nie eens vir ’n sekonde agter die kateder bly staan waarvandaan eers die jurievoorsitster, Janine van den Ende, en toe staatsekretaris Zijlstra haar kort tevore so minsaam toegespreek het nie. Nadat Janis Joplin haar op die groot skerm voorgegaan het, het Marlene met groot treë oor die verhoog begin beweeg, haar lesing (waarna sy maar selde gekyk het) in die linkerhand terwyl sy met die regterhand beduie: na die tekste en beelde wat agter haar verskyn het, na die gehoor, na haarself. Alle eerbetoon wat so formeel tot haar gerig was, het sy voortdurend gerelativeer. Alle pryse is ongemaklik, het sy gesê, veral ’n staatsprys. Terwyl sy dit sê, het op die skerm van haar PowerPoint die teks “every honor has its cons, every prize its price” verskyn.

Dit was vir Dumas belangrik om te beduie waar sy vandaan kom: “Jy kan maar sê ek het in Nederland beland deur ’n prys. Ek het die Jules Kramer-beurs van die Universiteit van Kaapstad gekry om twee jaar oorsee te studeer. Dit was nooit my bedoeling om in Holland te bly nie. Dit was wel heerlik om as meisie saans alleen op straat te kan loop en al die verbode boeke te kan lees.

“My tuisland is Suid-Afrika. My moedertaal is Afrikaans. My van is Frans, maar ek praat nie Frans nie. My ma wou altyd hê ek moes Parys toe gaan – sy het geglo kuns is Frans, as gevolg van Picasso. Ek het gedink kuns is Amerikaans, as gevolg van Artforum. Ek het ook gedink Mondriaan was Amerikaans, en dat België deel van Holland was. Ek woon in Amsterdam en het ’n Nederlandse paspoort. Soms dink ek ek is nie ’n ware kunstenaar nie, omdat ek te halfhartig is, en nooit mooi seker is waar ek is nie.”

Sy het daarop gewys dat sy níé die prys wil aanvaar as buitestander, as migrant nie, en ook nie spesifiek as vrou nie. Oor hierdie aspekte van haar identiteit het sy die volgende gesê: “Ek het ‘n keer ’n T-shirt gemaak met die volgende teks: ‘Ik is een alachtoon.’ (Ek is ’n immigrant.) Ek sou dus kon sê ek ontvang die prys namens immigrante. Dit sou ’n rede kón wees om hierdie prys te aanvaar. Maar nee, en ek doen dit ook nie vir die autochtone, ingesete Nederlanders nie. Nóg so ’n lelike woord. Ek het eenmaal oor elitisme geskryf: ‘I don’t do it for the people and I don’t do it against the people; if at all I do it from the people.’

“Nog ’n rede is dat ek boonop ’n vrou is. Ek vind kuns androgeen, maar mans wil altyd by my weet hoe dit voel om ’n vrou te wees wat kuns maak. Ek sou kón sê ek het dit vir die vroue gedoen. Maar soos my ma vir my gesê het toe sy nog gelewe het: ‘Vir my hoef jy dit nie te doen nie.’”

Wat beteken pryse vir haar? “Jean-Paul Sartre was in 1964 so oud soos ek nou, 59, toe hy die Nobelprys vir letterkunde van die hand gewys het. Hy het gesê dat hy nie ’n instelling wou word nie en dat dit sy vryheid sou inperk.”

Susan Sontag het wel in 2001 die Jerusalem-prys vir letterkunde aanvaar, maar nie sonder ongemak nie. Iets wat Marlene self al jare gelede gesê het, is nou baie relevant: “You can't get away from those you don't like ’cos they pay for you.”

En só het sy by die kern van haar toespraak gekom, ’n pleidooi vir die maak van kuns.

“Ek aanvaar die prys omdat ek ’n pleidooi vir kuns wil maak. Kuns is nie ’n kwessie van ’n onskuldige smaak nie. Daar bestaan geen ‘neutrale’ kyk op kuns nie. Kuns is daar om ons te bevry van die diktatorskap van ons kultuur. Ons eie, nie van buite nie, maar van binne. Kuns is daar om ons te herinner dat alle wette oor wat mooi en waardevol is, mensgemaak is en dus altyd vatbaar is vir verandering. Ek pleit daarvoor dat die voorgestelde wetsontwerp wat pas ingedien is om die kuns- en kultuurvakke in die leerplan van voortgesette onderwys af te skaf, nie aangeneem sal word nie. Hiermee sou ons die belangrikste vakgebied vir ’n samelewing in die 21ste eeu afskaf. Ons kan nie toelaat dat Nederland in ’n verkrampte kultuurnasionalisme stagneer nie. Ons leef in ’n globale, interkulturele wêreld. Ons stuur ons jong soldate Afganistan toe, maar ons stel nie belang om oor hul kultuur te leer nie. Ek pleit vir ’n inburgeringskursus in kuns en kultuur vir alle toekomstige wetgewers wat met die kunste gemoeid is. Ek pleit daarvoor dat kunswaardering nie weens markfundamentalisme sneuwel nie. Ek glo, soos die kunstenaar Hans Haacke gesê het, soos wat die reklamemagnaat Saatchi gesê het, en die filosoof Marx ook: ‘Alles beïnvloed alles ...’, maar soms dink ek: ‘Salig is diegene wat die afslaershuise gespaar gebly het.’

“Ek pleit daarvoor dat Nederland trotser is op haar prestasies in beeldende kuns. Neem byvoorbeeld die gehalte van die postakademiese instellings. Die model van die kunstenaarsinitiatief Ateliers 63 het ’n positiewe invloed uitgeoefen op die huidige formaat van postakademiese instellings en hulle verander tot wêreldberoemde instansies. Die regeringsmense besef dit egter nie. Dit is ironies en tragies, terwyl die toonaangewers reken: klein is die nuwe groot. Vir hierdie beginsel word die Ateliers nie beloon nie, maar eerder gestraf. In die sestigs het ons huwelike gewantrou, maar nou nie meer nie - dus vooruit. Uiteindelik kom daar ’n mooi samesmelting tussen die Ateliers en die Ryksakademie. Dit word mooi: ondersteun hulle uit trots en nie uit plig nie.”

Marlene het self ná haar opleiding aan die Michaelis Kunsskool van die Universiteit van Kaapstad tussen 1976 en 1978 by die marginale en opspraakwekkende Ateliers gestudeer toe dit nog bekendgestaan het as Ateliers 63 en in Haarlem gevestig was. Sedert 1998 is sy ‘n dosent by die Ateliers (tans in Amsterdam) wat as gevolg van besuinigings moet saamsmelt met die groot en voorheen so deftige Rijksakademie.

Ferm het sy afgesluit: “Ek wil die jurie bedank vir die groot eer aan my bewys, dat u vertrou dat ek genoeg insig in die beeldende kuns het om die voorreg te verdien om so ’n groot bedrag te ontvang. Ek wil ook benadruk dat daar in kuns geen toppunt bestaan nie, geen bergspits waarop jy kan gaan sit en tevrede op die wêreld neersien nie. Jy kan die toppunt nie eer as jy die basis nie waardeer nie.

“’n Kunstenaar is sy eie grootste vyand. Die skoonheid van kuns is daarin geleë dat jy leer om ’n ander se vryheid te kan geniet. Maar die moeilikste is dat jy dus weet dat dit eintlik altyd anders kan wees. Van Gogh het geskryf: ‘Ek maak kuns om iets terug te gee aan die lewe.’”

En dít is wat Dumas self ook nou doen: sy gee haar prysgeld vir die “basis”, aan die omgewing waar nuwe kuns gemaak word. In Delft, by hierdie spoggerige geleentheid, was dit ’n daad van groot betekenis. Dit is egter nie die eerste keer dat Dumas ruim skenkings doen nie – ook Suid-Afrikaanse instellings baat hierby.

In Desember ontvang Marlene ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Kaapstad. Sy het reeds in 2010 ’n eredoktoraat van Rhodes Universiteit ontvang.

Belangrike Nederlandse pryse wat die afgelope jare aan haar toegeken is, is die Sandbergprys in 1989 vir haar tekeninge en die David Röell-prys van die Prins Bernhard-kulltuurfonds vir beeldende kuns. In 1998 ontvang sy ook die Coutts Contemporary Award en in 2011 is sy onderskei met die Rolf Schock-prys vir visuele kuns in Stockholm – die “stiefsussie van die Nobelprys”, soos dit in die pragtige boekie staan wat in Delft aan alle gaste uitgedeel is.

Die kunskenner Bianca Stigter het Marlene Dumas. Acheiropoietos – Cheirepoietos geskryf. Sy gee veral baie aandag aan die manier waarop die geskiedenis van skilderkuns en fotografie in Dumas se werk verweef is. Die boekie fokus op die vroue in haar werk: Marlene self, haar dogter Helena, Medusa, Naomi Campbell, Veronica, Hannah Arendt, drie Marthas (vrou van Freud, haar ouma en ’n bediende) en baie meer. Ook Osama bin Laden kry aandag. Dumas se ontstemmende klein Osama-skildery hang trouens pertinent in die spesiale Dumas-kamer in die pas-heropende Stedelijke Museum van Amsterdam. Haar werk is in alle belangrike kunsmuseums in die wêreld te vinde.

Naskrif
Daar was ’n hele paar trotse Suid-Afrikaners in die Prinsenhof, onder andere Ina van Zyl (Ceres, 1971), wat op Stellenbosch gestudeer het en jare gelede tot die kerngroep van die Bitterkomix behoort het. Ook sy het aan Ateliers gestudeer, tussen 1996 en 1998, en het sedertdien vir haarself groot naam gemaak in die Nederlandse kunswêreld. Ook Marlene se ou vriende, die kunstenaar Philip Badenhorst en sy Vlaamse vrou, die skryfster Marijke Coornaert, wat afwisselend in Antwerpen en Prins Albert woon, het die geleentheid bygewoon. Haar dogter Helena het in Amsterdam grootgeword, maar praat vlot Afrikaans. Dit was trouens opvallend dat Marlene nadruklik gesê het na aanleiding van die feit dat sy in Amsterdam woon: “Dit is altyd my bedoeling om terug te gaan.”

  • 1

Kommentaar

  • Thys Human (PTA)

    Marlene Dumas het hiermee bewys sy het 'n goeie Hollander geword.  Sy weet beter, en gee nie om om op tone te trap nie.  Bravo!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top