Markdag: 'n Kwylboek

  • 0

Titel: Markdag: alles en nog wat vir enige mark
Skrywer:
Callie Maritz & Mari-Louis Guy
Uitgewer:
Human & Rousseau
ISBN:
9780798157315

Klik hier om Markdag: alles en nog wat vir enige mark koop by Kalahari.com.

Ek het ’n groot versameling resepteboeke by my huis. Nie omdat ek hulle noodwendig versamel nie, maar omdat ek hulle met die hand uitgekies het en daagliks gebruik. Daar is een baie basiese toets wat ’n boek moet slaag voordat ek dit op my rak sal sit: Is die resepte en foto’s van so ’n aard dat ek nie kan wag om dit by die huis te probeer nie? Indien ek twyfel, sit ek dadelik die boek terug op die rak. Maar as ek kwyl-kwyl na die betaalpunt begin stap, kan jy maar weet: die boek is reeds deel van die familie.

Markdag is ’n kwylboek. Met eerste oogopslag is die foto’s verruklik, die stilering is vars en hedendaags, en daar is sommer baie resepte wat ek vir seker tuis sal aandurf. Om die waarheid te sê, dis ’n boek wat jou ure lank kan besig hou deur slegs daardeur te blaai – selfs voordat jy jou voorskoot aangesit het.

Met die groeiende gewildheid van kosmarkte in Suid-Afrika oor die afgelope paar jaar was dit net ’n kwessie van tyd voordat iemand daaroor sou skryf. Hierdie is ’n resepteboek oor die beste kos wat jy by markte sal vind, van die heel eenvoudigste tot die nostalgiese en die eksotiese. Ek moet erken, toe ek die voorblad vir die eerste keer sien, het ek gedink dis bietjie “besig”. Ek verkies voorblaaie wat eenvoudig gestileer is, want dis altyd meer gebruiksvriendelik. Tog is die gevoel van die boek bont en besig, soos ’n regte mark. Gegewe die titel, is dit dus heel gepas. Callie en Mari-Louis skryf in die voorwoord: “[M]arkte gee die produsente van enkelkositems die geleentheid om uit die koue korporatiewe omgewing te beweeg en persoonlik met hulle plaaslike klante in aanraking te kom. Dit gee die begaafde tuiskok of -bakker die geleentheid om hulle inkomste aan te vul of verlore inkomste weens die resessie te vervang. … En in die geval van ’n skoolfondsinsameling of kerkkermis, gee dit jou kans om speels en kreatief met kos en die verpakking daarvan te raak.”

Gister sien ’n vriendin van my die boek raak op my lessenaar en begin dit dadelik deurblaai. Na ’n paar minute vra sy: “Nou maar wat is die punt daarvan om ’n resepteboek te skryf oor markte as jy eerder hierdie kos by die mark wil eet?” My antwoord: “Dan is hierdie boek nie vir jou nie.” En dis die waarheid. Sommige mense sal veel eerder verkies om die ekstra kilo’s te ry en eerder die suurlemoen-meringue-tert by die mark te gaan koop as om dit self te maak. Maar baie ander, soos ek, kan nie wag om die wenresep van my gunsteling-markstalletjie se top suurlemoen-meringue by die huis te maak nie. Different strokes for different folks.

Die boek bestaan uit verskeie afdelings: van kerkbasaars tot padstalkos, plaasmarkte, geskenkmarkte en straatkos. Die resepte is meestal eenvoudig (baie doenbaar) en die foto’s is uitstekend. Daar is Suid-Afrikaanse gunstelinge soos melktert (twee resepte), pannekoek en retrokerriesosaties, maar ook eksotiese resepte soos Turkse “Vredesvallei”-brood, Oosterse skeurslaai, Duitse “Flamkuchen”, Franse “croques madame et monsieur” en Amerikaanse “Po-Boy”- toebroodjies. Ek kan nie wag om die appelsider-braaisous te probeer nie, en die karamel-springmielies met kasjoeneute lyk hemels.

Die afdeling vir “skoolkermis en fondsinsameling” is ’n trip down memory lane op sy eie. Dit bevat gunstelinge soos toffieappels, versuikerde springmielies, en die immergewilde sjokolade-plaatkoek. Ander resepte wat onweerstaanbaar lyk, is die karringmelkpoeding met grenadellapulp, en Portugese “Pasteis de Nata” – dis kos so in my kraal. Die idees vir geskenke is uiters kreatief, so as jou hande vir niks verkeerd staan nie, gaan jou vriende en familie baie gelukkig wees op Kersdag!

Die resepte is duidelik uiteengesit, en maklik leesbaar. Die stories en kort staaltjies bo-aan die resepte verleen ’n welkome persoonlike aanslag vanaf die skrywers. Die boek is ’n inspirasie vir mense wat lief is vir kook en daarvan hou om ekstra moeite te doen om mense tuis te onthaal in ’n ontspanne atmosfeer.

Ja, jy kan ook ’n ongelooflike markstalletjie begin met al die kennis wat jy uit die boek opdoen, maar ek dink die meeste lesers sal hulle verlustig aan die heerlikhede in die gemak van hul eie huise en kombuise.

Markdag is beslis ’n aanwins vir jou resepteboek-versameling.

Markdag is ook in Engels as Make, Give, Sell beskikbaar.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top