Marjorie Wallace
2005

  • 0

Die kunstenaar Marjorie Wallace, eggenote van die Sestiger Jan Rabie, is Sondag 26 Junie 2005 in Onrus oorlede. Kort nadat 'n retrospektiewe uitstalling in 2003 in die US Sasol Kunsmuseum aangebied is wat haar Suid-Afrikaanse werk oor 'n periode van 'n halfeeu gedenk het, het Wallace 'n beroerte-aanval gehad waarvan sy nooit herstel het nie.

Amanda Botha het as kurator vir hierdie uitstalling opgetree en behartig sedertdien Wallace se kunsbelange. In hierdie essay bied sy 'n verslag van Marjorie Wallace se bydrae tot die Suid-Afrikaanse skilderkuns en die Afrikaanse letterkunde aan.

Lewensvreugde deurstraal die werk van Marjorie Wallace

'n Perspektief op haar bydrae

Beginjare: Edinburgh en Parys

In Oktober 1949, na twee jaar in Parys, word drie van Marjorie Wallace se olieverfskilderye in die jaarlikse herfstentoonstelling van die Vereniging van Skotse Skilders in Edinburgh opgeneem. In die katalogus van 256 olieverfskilderye word verwys na 'n fees van kleure en progressiewe idees wat 'n nuwe era inlui. In die koerantresensies geniet Wallace spesifieke aandag, soos sy dikwels daarna ook 'n fokuspunt sou wees.

The doubtful credit for the most unreal pictures in the exhibition, goes to Marjorie Wallace. Her three works look like nightmares on canvas."[1]

'n Ander resensent skryf entoesiasties oor die uitstalling as 'n vertoonvenster van jong talent wat reeds 'n selfstandige stem het. Na Wallace word verwys as "the enfant terrible of the show", en veral na die humor in haar werk word positief verwys. [2]

Die aandag van kritici het Wallace altyd gehad. Die beoordeling van haar werk in die eerste helfte van die vorige eeu blyk korrek te wees. Sy het 'n eie stem, onafhanklik en individueel. Haar vrolike kleurpalet sou later ook die Suid-Afrikaanse skilderkunstoneel ophelder. Haar humor is in haar werk ingebed. Haar posisie het sy gevestig as buite die establishment. Wat ook verder sou ontwikkel, was haar raak waarneming van mense, haar vermoë om die oomblik vas te vang, en die deurleefde lewensvreugde wat toenemend 'n kenmerk van haar werk sou word.

Die jong Wallace het elke moontlike geleentheid aangegryp om werk op uitstallings te vertoon. Sy het gereeld aan die Vereniging van Skotse Skilders se jaarlikse uitstalling deelgeneem. In Parys het sy dikwels aan die Salon des Surindépendant se groepuitstallings deelgeneem. Haar werk kon ook in Londen, Venesië, Rome en Madrid gesien word. Met haar koms na Kaapstad in 1955 was sy reeds 'n erkende skilder wat die politiek van die Paryse kunssalonne kon hanteer en in Skotland, haar geboorteland, indruk gemaak het. Sy kon in 'n groep uitstaan. Talle koerantresensies tussen die jare 1949 en 1955 bevestig dat haar werk binne die mededingende omgewing van die na-oorlogse Europa aandag getrek het en dit ook verdien het.

Op 'n groepuitstalling van Britse en Skotse jong kunstenaars in 1950 is haar skildery "Yellow Café" spesiaal uitgesonder en is erkenning gegee aan "its direct and simple power in design, carried through in strong, telling colour".[3] In 'n verslag oor uitstallings in Parys skryf die New Yorkse resensent Henry Kahn dat 'n uitstalling in die Salon d'Automne opspraak verwek het toe 'n aantal skilderye wat reeds vir uitstalling aanvaar is, onttrek moes word omdat die werk "kommunisties geïnspireerd" sou wees. Onder die kunstenaars wat geraak is, was Henry de Waroquier, wat kort daarna vereer sou word met 'n omvangryke retrospektiewe uitstalling in die Musée d'Art Moderne in Parys. Op laasgenoemde uitstalling word sewe skilderye van Wallace vertoon. Sy ontvang gunstige reaksie van Kahn. Hy verwys na die fyn aanvoeling en sensitiwiteit wat haar werk kenmerk. Ondanks die invloede wat in haar werk sigbaar is, is daar tog 'n eie stem aanwesig. Haar vrolike kleurpalet word ook hier as kenmerk uitgesonder.[4] Wallace se werk "Zebra Cat" word by die artikel afgedruk. Hier is 'n duidelike aanduiding van die rigting waarin haar werk oor die volgende halfeeu sou ontwikkel.

In Desember 1952 deel Wallace 'n uitstalling met die beeldhouer Beat Zumstein in die Gallerie Olga Bogroff in Parys. In die blad Arts skryf die resensent Henri Heraut dat Wallace in hierdie uitstalling bevestig dat sy haar van vroeëre invloede bevry het, veral dié van Picasso, en 'n stem uit eie reg is. [5]

In dieselfde jaar trek Wallace aandag op uitstallings in Edinburgh en Parys. Op die jaarlikse uitstalling van die Skotse Kunsvereniging verwys resensente entoesiasties na haar werk. Hoewel die werk van bekende Skotse kunstenaars soos William Gillies, Anne Redpath en John Maxwell gunstig vermeld word, is dit Wallace wat aandag trek. In haar werk is daar 'n besliste wegbreek van die Skotse skildertradisie. Haar skildervaardighede en kleurkombinasies word aangeprys. [6]

In hierdie jaar word Wallace verkies tot lid van die Society of Scottish Artists en word haar werk in openbare versamelings opgeneem. Haar werk in die Salon des Surindépendants word ook deur kritici aangeprys wat haar komposisie en kleurpalet betref. [7]

By 'n uitstalling van die Salon des Surindépendant sien twee Franse soldate Wallace se werk. Later doen hulle haar ateljee aan om oor die aankoop van 'n werk, "Pouget et son Chat", navraag te doen. 'n Maand later, net voor hul vertrek om militêre diens in Duitsland te verrig, keer die twee mans terug om die aankoop te bevestig. Die koper het intussen genoeg geld daarvoor verdien deur koerante te verkoop. Wallace skryf self 'n artikeltjie oor die insident, en dit word 'n aanduiding van haar begaafdheid om ook as anekdotiese verteller die aandag te boei. [8]

Op die twintigste uitstalling van die Salon des Surindépendants wat by die Musée d'Art Moderne aangebied is, word Wallace se werk onder die meer as 400 inskrywings uitgesonder vir gunstige kritiek, in beide Paryse en Londense publikasies. Die Londense resensent Alexander Watt voeg haar ook die volgende kompliment toe:

She admits life is not easy but seems perfectly prepared to take a lot of the rough with a little of the smooth. I found her young, bold, courageous and an inspiration to the youth of art as well as the art of youth. [9]

Na sewe jaar in Parys keer Wallace kortliks na Edinburgh terug om haar eerste solo-uitstalling aan te bied, met 39 skilderye in The Scottish Gallery. 'n Groot hoeveelheid publisiteit word deur al die vernaamste Skotse koerante aan die uitstalling gegee. Haar werk word ook baie gunstig ontvang. Die moeilike jare wat sy in Parys trotseer het, kry welverdiende beloning en erkenning. Uit die nege prominentste mediaberigte blyk dit duidelik dat die temas waarmee Wallace haar oor die volgende dekades sou besig hou, reeds bepaal was.

Benewens die aandag wat haar kuns kry, word daar ook op Wallace persoonlik gefokus. Sy is die onderwerp van rubriekskrywers se attensies en amusante onderhoude word met haar gevoer. Komende uit 'n professionele familie van regsgeleerdes wat sosiale aansien in Edinburgh geniet, is dit veral Wallace se Boheemse aard wat die aandag getrek. Elke geleentheid tot selfreklamering benut sy uitstekend deur op eiesoortige wyse allerlei staaltjies oor haar wedervaringe in die Paryse kunstenaarswêreld te vertel.

Om Wallace se latere ontwikkeling as kunstenaar te volg, is dit insiggewend om kritici se beoordeling van hierdie uitstalling te evalueer. Onder die opskrif "Colourful and Lively Work" skryf 'n resensent in The Bulletin:

The paintings are mixed in style and quality, but throughout them all runs a rich variety of colour and readiness to experiment. The red tiles of "Studio with red floor" glow behind the black ironwork of the stove. In "Chez Pouget" equally exciting colour is well organised in tone. "Sad evening" is warm in feeling and evocative in colour, and "Paco" with its man and boy, in serious monumental stillness shows Miss Wallace's real understanding of character. [10]

Die resensent van The Glasgow Herald skryf:

The paintings are carefully organised, with strong lines of the composition in a sort of perpetual tension. Miss Wallace is clearly an able and promising painter from whom much good work is to be expected. She has a grand sense of colour, which she uses to the full in the "Studio with red floor" and "Chez Pouget". Her range is remarkably varied, and she has a good command of tone. The rather stagey "Interieur Bourgeois" is notable for its ingenious colour passages. Of the straightforward compositions, the beach scene in "Nercia" and the well-built, unmannered "Positano" are among the best. But it is when Miss Wallace allows her real interest in, and understanding of, people to take over from her designing that something exceptionally good emerges. In the sensitively coloured "Sad Evening" a genuine mood is evoked; the painting of "Paco" with its stillness and its humanity is probably the most serious and important painting on the show. [11]

'n Eie stem

Dat Wallace weggebreek het uit die Skotse skildertradisie word deur die resensent van The Scotsman, Chambers Cabtree, onomwonde gestel:

In contrast the paintings of Miss Wallace show none of these traditions and have a strong Continental bias. They are painted in a high key, fresh in outlook, Bohemian, and generally ebullient though at times containing a mordant touch. She has a strong sense of design, particularly in her large canvasses, which she handles with considerable skill. Not being a profound painter, her artistic development has benefited by the uninhibited freedom of Montmartre and the international studios of Paris, of Italy and of Spain. She has handled successfully the full range of light, particularly strong sunshine and the intricacies of artificial light, bringing a translucency of colours to dark shadows and a controlled use of tone. [12]

In 'n gedetailleerde bespreking van die werk op die uitstalling maak die resensent 'n paar interessante opmerkings. Onder Wallace se beste werk reken hy haar interieurs en selfportrette, en hy meld haar sensitiewe observasie van karakter en simpatieke begrip van menslike gedrag. Sy word gekrediteer met beide 'n poëtiese en 'n humoristiese aanslag. Die stemming van haar interieurs, die spel met lig en die opwinding van kleur word aangeprys. Die volledige aanhaling uit die Skotse resensies hier bewys duidelik dat Wallace as kunstenaar uit eie reg vroeg gevorm is en dat sy in haar latere werk in Suid-Afrika hierdie stempel kon afdruk.

Dit is ook duidelik dat die plaaslike media Wallace weer wou opeis as 'n gebore en getoë Skot. Vleiende berigte word geskryf met opskrifte soos "Meet Marjorie - The Spirit of Adventure". Woordryke beskrywings soos "scintillating and exciting, a kaleidoscope of colour and action, several of them representing facets of her Bohemian past"[13] onderstreep die entoesiasme waarmee Wallace se tuiskoms begroet is.

Dit was ook met 'n aantal werke van hierdie uitstalling dat Wallace in Maart 1956 haar debuut by die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging in Kaapstad gemaak het. Kaapse kritici was dadelik opgewonde oor haar beduidende talent, wat soos 'n vars bries deur die Kaapse en Suid-Afrikaanse kunstoneel gewaai het. (Die werk "Positano", wat groot lof op die Skotse en daarna ook op die Kaapse uitstallings ontvang het, word by die retrospektiewe uitstalling ingesluit.)

In die Paryse blad Echo de la Bourse word verslag gedoen van Wallace se Skotse solodebuut. Sebastian Dulac maak opnuut melding van haar belowende toekoms en dat haar ''talent aandag verdien".[14]

Ontmoeting met Jan Rabie

In 1949 ontmoet Wallace die jong Afrikaanse skrywer Jan Rabie. Rabie het die vorige jaar in Parys aangekom. Rabie self skryf só oor die ontmoeting:

Dit was heerlik om arm te wees en nie om te gee nie, omdat jy vry is en in jou toekoms kan glo soos jy wil. Nog meer so vandat ek 'n blakende Skotse skilderessie genaamd Marjorie Wallace ontmoet het en ons ons lief en leed met mekaar kon deel. Ek het my dakkamer behou terwyl ek haar help bou het aan haar ateljee (sleutelgeld 250 000 frank) in die Rue de la Tombe Issoire. [15]

Die na-oorlogse Parys het die heimat geword van baie jong skrywers en skilders. Onder die talle Amerikaners was skrywers soos Elliott Stein, James Baldwin, Carson McCullers en Alfred Chester, na wie as 'n "lost generation" verwys is. Ander wat hulle vir korter of langer periodes in Parys gevestig het, was Simon Vinkenoog, Remco Campert, Rudy Kousbroek, Hans Andreus, Lucebert, Hugo Claus, Gerrit Kouwenaar, Karel Appel en Corneille - almal digters en skrywers wat later as die Nederlandse Vijftigers of lede van die Cobra-groep bekend sou staan.[16] Wallace en Rabie het gereeld in hierdie kringe beweeg.

Onder die Nederlanders en Vlaminge was daar ontevredenheid met "die tradisionele en geykte van hulle letterkunde". Soos hulle, was Rabie "in opstand teen die tradisionele skrywers in sy eie land en wou hy met sy werk 'n vernuwing in die Afrikaanse prosa bring".[17] Rabie se eerste kort prosa, wat later in die bundel Een-en-twintig opgeneem is, is oorspronklik in Engels geskryf. Dit was deels ter wille van sy Paryse vriende, maar ook in besonder ter wille van Marjorie, wat nie Afrikaans magtig was nie. [18]
Rabie het die prosatekste in Afrikaans verwerk terwyl Krige by hom en Wallace in Parys was. JC Kannemeyer sê in sy biografie oor Uys Krige dat hierdie samewerking tussen die twee skrywers die geboorte van die Sestigers was. [19] Wallace, wat teenwoordig was en beslis ook haar insette sou maak, maak haar op hierdie wyse dus deel van die Sestigers. [20]

Met Een-en-twintig, wat in 1956 by AA Balkema verskyn, lei Rabie "oornag" 'n vernuwing in die Afrikaanse prosa in. Hierdie nuwe beweging in die Afrikaanse letterkunde het 'n werklikheid geword toe Rabie se roman Mens-alleen (dit is reeds in Parys voltooi) in 1963 verskyn, tesame met werke van Etienne Leroux, André P Brink, Dolf van Niekerk en Chris Barnard. [21]

Die Cobra-groep

In Parys was Wallace bevriend met lede van die Cobra-groep. Die konsep vir so 'n groep het in 1937 in Denemarke ontstaan.

Die groep wou die -ismes van moderne kuns verder verken op soek na 'n spontane, abstrakte styl in 'n nuwe idioom. Picasso, Miro en Paul Klee het aanvanklik as inspirasie gedien, naas kinderkuns, volkskuns en Afrika-kuns. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog is die aktiwiteite van die groep voorlopig gestaak.

In 1948 het kunstenaars wat by die groep se idees aanklank gevind het, in Parys deelgeneem aan La conference du centre international de documentation sur l'art d'avantgarde. Die leier was Asger Jorn, lid van die oorspronklike groep. Die ander lede was Karel Appel en Constant van Holland, en Corneille, Noiret en Dotremont van België. Die konferensie het nie die verwagte resultaat gelewer nie. Die groep het daarna 'n manifes onderteken met die titel La cause etait entendue, opgestel deur Dotremont en gebaseer op die filosofie van Kierkegaard se eksistensialisme. Daarin is bepleit dat die kunstenaar aktief moes deelneem aan al die aspekte van die lewe, en dat kuns as 'n lewenservaring bemark moes word. Die kernbegrip was samewerking tussen kunstenaars.

Die naam van die groep is saamgestel uit die beginletters van die hoofstede waar die stigterslede vandaan gekom het: Kopenhagen, Brussels en Amsterdam - CoBrA. Die beweging het van 1948 tot 1951 'n bloeiperiode beleef en ander kunstenaars en skrywers betrek. [22] Uit Cobra se 43 lede het Wallace en Rabie kontak gehad met Karel Appel, Corneille, Gerrit Kouwenaar, Hugo Claus, Lucebert en Bert Schierbeek. [23]

Die groep se idees is vurig gedebatteer en die invloed van hierdie dampkring het vir Wallace, en veral Rabie, geslyp vir die rol wat hulle later sou speel in hul stryd om Afrikaans van die etiket van Apartheid te bevry en as Afrika-taal te bevorder. Hulle jarelange stryd teen sensuur is ook 'n uitvloeisel van hierdie kontak.

Kontak met Suid-Afrikaners

Wallace het Picasso in 1948 in Parys ontmoet in die geselskap van Joe Foster, 'n Amerikaanse kunshistorikus, en Picasso se handelaar, Henri Kahnweiler. Die ontmoeting en kort gesprek was in Picasso se ateljee in die Rue des Grands Augustins.

Wallace en Rabie het dikwels Suid-Afrikaners in Parys ontvang in Wallace se ateljee in die Rue de la Tombe Issoire 33 in Montparnasse. [23] Van die skrywers en skilders wat hulle daar ontmoet het, was Uys Krige, Elsa Joubert, Klaas Steytler, Chris Barnard, Bartho Smit, André P Brink, Jannie Coetzee, Richard Daneel, Breyten Breytenbach, Erik Laubscher en Claude Bouscharain. Onder die kunstenaars wat ook hier ateljees gehad het, was die beroemde beeldhouer Brancussi. [24]

Op 4 Januarie 1955 is Wallace en Rabie in die Britse Ambassade in Parys getroud. Hoewel hulle aanvanklik van voorneme was om hul in Parys te vestig, het hulle in Oktober 1955 na Kaapstad gekom en elf jaar lank in Groenpunt 'n huis met die Laubscher-egpaar gedeel (Erik Laubscher is intussen met Claude Boucharain getroud). Rabie het as omroeper by die SAUK in Seepunt gewerk. Wallace, wat toe al 'n beperkte Afrikaanse woordeskat gehad het, het dadelik erns daarvan gemaak om die taal aan te leer.

Wallace het dit moeilik gevind om as kunstenaar in Kaapstad aan te pas. In 'n koerantonderhoud vertel sy:

In die eerste maande in Suid-Afrika het ek niks lus gehad om te skilder nie. Die landskap rondom Kaapstad het my nie na 'n verfkwas laat gryp nie, omdat ek eerder mense skilder. Die mense was vir my oninteressant. Daar is nie daardie klassieke onvermydelikheid in elke gelaatstrek nie, in elke beweging wat 'n mens byvoorbeeld by die Italiaanse boeretipes vind nie, asof die mense die uitkoms is van 'n plan wat deur die eeue ontwikkel is. [25]

Eerste Kaapse werk

Haar eerste skildery in Suid-Afrika was van 'n kind met 'n vlieër in die destydse "bokparadys" van die Kaap, waar Strandstraat na High Level-weg loop. In 'n koerantonderhoud sê sy:

Dis vreemd dat 'n mens se eerste werk, na 'n tyd van onaktiwiteit, altyd baie realisties is, asof jy deur blote weergawe weer jou weg na die kern wil vind.

Van die werk wat sy in die begin gedoen het, het sy nie gehou nie. Dit was vir haar moeilik om by die mense aanklank te vind.

Ek vind die naturelle boeiend en aantreklik, maar kan hulle nie skilder nie, omdat ek vreemd staan teenoor hul lewenswyse, hul tradisie en hul aard.

Die koerantberig meld verder dat Wallace geleidelik meer aansluiting by die Afrikaner gevind het. Sy is veral geboei deur die "besondere tradisies en gewoontes, soos huisgodsdiens" wat sy hier ervaar het. [26] Sy het dit veral by Jan Rabie se ouers ondervind. 'n Skildery wat heelwat aandag op haar eerste uitstallings in Kaapstad, Johannesburg en Pretoria ontvang het, was dié van 'n gesin rondom 'n olielamp, met die Bybel en gesangboeke.

Haar eerste skilderye van mense hier was van Maleierseuntjies wat in die Bo-Kaap met vlieërs gespeel het. Vir Wallace is "die vlieër die simbool van 'n begeerte na vreugde en vryheid, weg van die agterbuurtomgewing".[27]

In die verkenning van haar nuwe omgewing het Wallace haar met die politiek-sosiale omstandighede in Suid-Afrika verbind. Oor die volgende bykans 40 jaar het sy op 'n intiem menslike wyse met 'n eie, onbevooroordeelde blik na die plattelandse kleurlinggemeenskap in die Wes-Kaap gekyk. Haar dokumentasie van tradisies en gebruike onder die bruin gemeenskap word gekenmerk deur deernis en empatie met die mense wat haar werk bevolk. Sy kyk van buite af en erken onmiddellik "die begeerte na vreugde en vryheid". Haar bydrae om 'n besondere segment van die lewe te dokumenteer, sou later die stempel van haar meelewing dra.

Hoewel die bruin mense in baie Kaapse kunstenaars se werk 'n sentrale rol gespeel het, soos onder meer by Gregoire Boonzaaier, Maggie Laubser, Hugo Naudé, Eleonore Esmonde-White en Francois Krige, het Wallace se eiesoortige blik mense nog meer op die voorgrond geplaas. Vars uit die gesofistikeerde Paryse milieu, het Wallace sonder vooroordeel die medemenslikheid erken van wat toe 'n onderdrukte groep was. Tradisies en rituele het haar aangetrek en ons sien in haar werke bruin mense op pad kerk toe, vissers wat by Hawstone en Waenhuiskrans om den brode werk, begrafnisse en die meelewing van verlies, maar ook 'n viering van die lewe. Binne die Suid-Afrikaanse kunshistoriese perspektief is dit 'n besondere bydrae.

Kaapse debuut

Op 1 Februarie 1956 open Wallace se eerste solo-uitstalling by die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging in die Argus-gebou in Burgstraat, Kaapstad. Die uitstalling word deur die digter Peter Blum geopen. Die skilderye op die uitstalling is hoofsaaklik werke wat sy in Parys geskilder het, en waarvan sommige die vorige jaar in Edinburgh uitgestal was.[28]

Soos in Edinburgh, is Wallace ook in die Kaap gunstig ontvang deur die kunskritici. Haar eerste solo-uitstalling kry groot publisiteit en sy word dadelik as 'n vars bries in die Kaapse kunswêreld verwelkom.

Enkele dae na die opening van haar uitstalling verskyn die eerste van drie baie positiewe resensies in The Cape Times. Dr Matthys Bokhorst, later direkteur van die Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum, noem Wallace se uitstalling "the best first show for years". Hy vergis hom wel deur aan te neem dat Wallace 'n Suid-Afrikaner is, maar sy waardering vir haar werk blyk duidelik uit sy woorde:

The exhibition by Marjorie Wallace - beyond doubt the best first show which Cape Town has seen for years - proves once more that sometimes the general public is completely unaware of young, unmistakable talent that works in our midst. This is a voice of a new generation in South African art, a generation that has gone through everything that modern art, as embodied in the Ecole de Paris, had to offer, and then added to its technical achievements that deep human touch which links up painting with poetry and music. To put it in a different way: in these large interiors, bourgeois and Bohemian, in these beach and circus scenes and feasting crowds, in these double portraits, female figures in rooms, in this mixture of artists, clowns and tramps, I find a perfect blending of the formal elements of the French school from Cézanne to Braque, and the tragic, human elements of the Expressionist school from the Hollander Van Gogh to the Spaniard Picasso.

In every one of her works - and she seems to be able to tackle almost any composition and any subject matter - I feel the pulse of life itself, throbbing sometimes, and sometimes ebbing away in contemplative meditation.[29]

As die eerste Suid-Afrikaanse resensent wat Wallace se werk ontleed, is Bokhorst se woorde interessant. Ondanks sy foutiewe aanname dat Wallace 'n Suid-Afrikaner is, het hy haar wêreld onmiddellik herken. Bykans veertig jaar later is sy beskouing steeds geldig en was Wallace deurgaans getrou hieraan. Ten opsigte van haar temas, komposisionele en kleurgebruik, skryf hy:

She combines portrait and still life ("Jan en die Blomme"); she combines two different worlds in two half-portraits, at the same time linked up and separated by warm autumn colours the light of a studio-lamp ("Aand in ons Ateljee"). She paints in the fiercest sunlight, stressing the utmost luminosity of paint ("Los gallos muertos" and "Paco y Pepe" - a double portrait on the beach), but she is equally outstanding in the rendering of all the subtleties of nocturnal colours and artificial light. An undertone of the sadness ("Studio Supper", "The Spare Wife", "The girl in blue", "La Cena da Vincenzo" - the meal of poor Vincenco) is sometimes covered up by the sparkling light ("Chez Janna"; "Summer Rain"). Sometimes the human tragedy is thrown outright into our faces ("The Sad Evening") and the danger exists that such paintings become too literary ("The Second Honeymoon").

At her best, Wallace is in the large interiors ("Chez Pouget", "Studio with Red Floor") where we willingly forgive all French reminiscences to enjoy the bold play of colour planes. So far there is nothing whatsoever South African in her work, either in form or content.[30]

'n Studie van resensies wat Wallace in Europese en Skotse koerante ontvang het, toon dat die Kaapse inskatting deur resensente korrek was. Wat vorm en inhoud betref was daar in haar werk niks Suid-Afrikaans nie, maar oor die jare sou Wallace binne die raam van haar tegniese opleiding in Skotland en ondervinding in Parys 'n unieke Suid-Afrikaanse inhoud skep.

Wat op hierdie debuut-uitstalling wel reeds Afrikaans was, was die Afrikaanse titels van sommige van haar werke. [31] Oor titels het Wallace 'n sterk standpunt:

My titels word nie vertaal nie. Afrikaanse titels is Afrikaanse titels. Engelse en Franse titels word ook nie vertaal nie. Die titel is deel van die stemming van die werk.[32]

Twee dae later skryf Deane Anderson ('n medekunstenaar en argitek) in The Cape Argus met dieselfde entoesiasme oor die uitstalling. Vir hom toon Wallace se werk "exceptional vitality". Hy skryf:

Marjorie Wallace's individual talent, incubated by training at the Edinburgh College of Art and developed by several years of study in Parisian ateliers, has resulted in an exhibition which has a quite remarkable vitality. The artist has an exceptional sense of decoration both in pattern and colour: and while this capacity to stimulate results in some vital and exciting work, it does not always succeed in evading the meretricious brilliance of the younger painter who is determined to be very clever indeed.

Wallace has immense talent. She can organize a large canvas and a complex pictorial problem with a masterly rhythmic assurance. She can analyse a personality and isolate a transient human situation with astonishing precision and detachment; and she can produce faultless exercises in the classical manner and in the intimate manner of Bonnard with an equal conviction and assurance.[33]

Tog het Anderson 'n voorbehoud:

All this is admirable and exciting; but a close study of this stimulating work makes me wonder whether the brilliance is, as yet, much more than skin deep.

Hy bevestig egter ook die belofte wat hy meen sy toon:

Wallace shows that she has the perception of a sensitive artist as well as the equipment of a fine craftsman. When she chooses to subordinate these qualities to the discipline of maturity, she will produce work which will probably compose less exciting exhibitions than this, but which will include work of even greater integrity and importance.[34]

In die Kunskroniek van Die Burger word verwys na Wallace se uitstalling as "vrolik(e) (en) lewenskragtig(e)". Die uitstaande kenmerk is die "wye verskeidenheid van kleur en kleurskakerings".[35]

Eerste uitstallings in Johannesburg en Pretoria

Agt maande na haar Kaapse debuut open Wallace se eerste solo-uitstalling in Johannesburg. Dit word dieselfde jaar nog opgevolg met haar debuut in Pretoria. In Johannesburg wys sy 'n kerngedeelte van die werk wat sy op haar Kaapse en Skotse uitstallings gehad het, asook tien nuwe werke wat sy in Kaapstad geskep het. Die uitstalling is in die City Galleries, Unity House, Foxstraat 100.[36] Haar Pretoriase debuut geskied onder die vaandel van die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging in die DS Vorster Kunslokaal, Andriesstraat 294.[37]

Soos met al Wallace se vorige uitstallings geniet sy heelwat aandag in die pers, veral met betrekking tot haar anekdotiese vertellings. Die anekdotes hou nou verband met haar werk. Haar doeke is 'n verkenning van haar leefwêreld en spruit uit haar verhouding met mense. Haar skilderwerk word 'n rekord van haar byna outobiografiese vertellinge. 'n Goeie voorbeeld is haar portretstudie van die digter Ingrid Jonker:

Ingrid het deur 'n moeilike tydperk gegaan en ons was almal bekommerd oor haar. Ek was gevra om haar besig te hou en haar onder my oog te hou. Om dit te kon doen, het ek haar gevra om te sit vir 'n portret.[38]

Twee medekunstenaars is op rekord dat hulle Wallace sterk verbind met die onmiddellike van haar eie ervarings. Carl Büchner stel dit onomwonde: "Marjorie en haar werk is één."[39] Anna Vorster praat van Wallace se werk as "die meer persoonlike interpretasie van haar onmiddellike huislike omgewing" en maak dan die sydelingse opmerking: "Hierin is sy tipies vroulik; sy vertolk die atmosfeer soos 'n vrou wat 'n dagboek skrywe."[40]

Die Johannesburgse en Pretoriase dagblaaie ontvang Wallace se eerste uitstallings daar baie positief. Volgens 'n koerantberig het Wallace gesê:

In hierdie nuwe land met sy ander lig en vorme, moes ek maande lank wag voor ek my aan 'n kwas kon waag.[41]

Die resensent van The Star skryf onder meer:

She has a gift of picking original subjects and depicting them with vitality.[42]

The Rand Daily Mail se resensie meld:

Her painting is brave, lively and full of the joy of living. It is gay and completely unsophisticated, and she just paints what she likes, and as she likes. Although she experiments with colour - sometimes in somewhat startling fashion - it always has good results. She has reduced her line to the simplest statement, yet it never wanders from the truth. She can switch from one subject to another with amazing dexterity, but always she has something vital and lively to say.[43]

Die resensent van Die Transvaler vermeld Wallace se

… gebruik van ongewone temas en … 'n forsheid van kleur en lyn wat nie in Suid-Afrika aangetref word nie.

Die resensie verwys verder na "'n wilde, afgeleë" bekoring wat die werk kenmerk.

Dit is hoofsaaklik die menslike bedrywighede wat haar besig hou. En elke tema sien sy ooreenkomstig sy eie kleur en nuanse.[44]

Soos in Edinburgh, Parys en Kaapstad is dit Wallace se anekdotiese vertellings wat groot publisiteitswaarde het. In 'n onderhoud vertel sy dat sy en Rabie die skilderye vir die Johannesburgse uitstalling per trein gebring het. "Die trein het glo naby Gouda byna ontspoor. Sommige van die skilderye se verf was nog nie droog toe hulle op die trein klim nie. Een moes selfs herstel word - daar was 'n gaatjie." Wallace word in die berig "'n verfransde Skot" genoem, en sy sê in die onderhoud ook die volgende: "Ek stel baie belang in die mens as skilder-onderwerp, veral die Afrikaner." Sy verklaar dit só: "Hulle is anders as die Skotte, maar tog na genoeg, sodat ek nie vreemd teenoor hulle staan nie." (Die berig meld ook dat Rabie se jongste verhaalbundel Een-en-twintig pas verskyn het. Die titel dui op "volwassenheid", volgens die skrywer.)[45]

Wallace se eerste solo-uitstalling in Pretoria open op 15 November 1956. Die uitstalling word deur prof LI Coertze geopen. Hy beskryf Wallace se werke as "humoristies, wat van piëteit spreek".[46] Hy verwys ook na die moderne kuns, waarvan hy meen Wallace 'n eksponent is. Hy sê:

Daar sal verskil van mening wees of die werke meesterstukke of nagmerries weergegee op doek (is), maar hulle sal nooit hulle besitters verveel nie.

Die verwysing hier na "nagmerries" is waarskynlik geneem uit die eerste mediaberig oor Wallace se werk in 1949 in Edinburgh. Wat hier verkeerd gelees is, is dat Wallace se werk, toe nog eksperimenteel, 'n eie stem verteenwoordig het.

Weer eens ontvang Wallace gunstige reaksie. Die Vaderland se resensent noem haar werk "iets besonders" en verwys na "veral die warme prikkelende kleure (wat) opvallend (is), gepaard met 'n lewendige en dikwels glimlaggende liefde vir die mens." Haar Suid-Afrikaanse werk ontvang ook lof:

Sy het die moed om weg te breek van die al te gebruiklike stillewe of portret, en 'n man en vrou by die eettafel te skilder, 'n familie wat huisgodsdiens hou, kinders wat speel of doodgewoon 'n Oom en Tante voor die deur van hul huis.[47]

'n Berig in The Pretoria News beskryf Wallace as 'n sosiale kommentator op die rasseprobleme in Suid-Afrika. Sy word beskryf as

… an artist of personality who decidedly has something to say and already says it in a lively and most positive manner. There is something of social commentary about this artist's work. She shows typical South Africans discussing the colour problem: the sort of discussion that goes on and on.[48]

Die bedrywige jaar sluit af met 'n kompliment vir Wallace: The Cape Times kies haar skildery "Gracht in Amsterdam in wintertyd" vir hulle kerskaart.

Portrette en betrokkenheid

In 1957 keer Wallace eers vir 'n paar maande terug na Parys. Sy neem ook aan 'n groepuitstalling van die Skotse Kunsvereniging in Edinburgh deel. Wallace se Kaapse skilderye ontvang besondere vermelding, met spesifieke verwysings na hoe Wallace na haar swart Suid-Afrikaners kyk.[49]

In November dieselfde jaar stal Wallace weer by die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging in Kaapstad uit. Dr MPO Burgers open die uitstalling, waarop 45 werke te sien is. Die werke is almal in Suid-Afrika geskep.[50] Weer eens geniet die uitstalling groot aandag in die media.

In 'n onderhoud met The Cape Argus is Wallace krities en uitgesproke oor Kaapstad en sy inwoners. Ondanks haar kras woorde doen dit nie afbreuk aan die gewildheid van haar kuns nie. Sy het reeds 'n getroue groep aanhangers gehad. Haar uitgesprokenheid word aan haar Boheemse aard toegedig en daarom verskoon. Só praat sy:

Cape Town (is) rather a dead place. When I first arrived here about two years ago I wondered what was the matter with everybody - they all looked sick. People are so heavy and slow. It is a town where you don't make friends, only acquaintances. People are so preoccupied paying off articles on hire-purchase, buying new cars. They are not interested in each other … everybody is so isolated.[51]

Sy laat haar verder so uit oor die mense hier:

(I) painted Afrikaner people when I first arrived. I found them strange, typically South African and comprehensible whereas I realized I knew too little of the African or Indian to paint them. I might as well paint a bowl of flowers as paint (the) people I do not know.[52]

Kort hierna was dit juis, ironies genoeg, 'n aantal portretstudies wat opnuut aandag op Wallace se werk gevestig het. Hieronder tel portrette van Sue Robinson, Albie Sachs, Jakes Gerwel, Peter Clarke, Ruth Prowse, Cecil Higgs, Zelda Katofsky, Uys Krige, Sannie Uys en Ingrid Jonker. Onder haar voortreflike werk tel die satiriese skilderye van lede van die Afrikaanse Skrywersgilde.

'n Nuwe genre wat Wallace in 1957 verken het, was stofomslagtekeninge en ontwerpe vir Rabie se boeke, met "Dakkamer en Agterplaas" eerste aan die beurt.

Kaapse mense

Oor haar tweede Kaapse uitstalling skryf Die Burger:

Van haar mees deurleefde doeke is herinneringe aan die mense van Skotland, en o.m. die Hebride. "Deurleefde" sou dalk soms 'n bietjie te swaar wees vir die dikwels onderlangs ondeunde indruk wat haar kommentaar op mense en tonele maak.

Oor haar persoonlikheid gee die verslaggewer sy indruk soos volg weer:

Die ding is: sy is 'n namaakster so uit haar land. Sy maak mense uitstekend na, sommer so gaandeweg in 'n gewone gesprek. In haar skilderye van mense is hierdie effense element van karikatuur selde heeltemal afwesig.[53]

Wallace vertel dat sy in Suid-Afrika moeilik begin skilder het.

Sy sukkel nog om met Suid-Afrikaners, as mense, kennis te maak. Sy skilder vir eers nog liewer Afrikaners, omdat sy hulle deur haar kontak met haar man en sy mense enigsins leer ken het. So is daar verskeie tonele van haar skoonouers - om die tafel op 'n aand om die lamp; by huisgodsdiens; voor die deur op 'n Kersoggend, terwyl mnr Rabie, senior, vir die plaasvolkies godsdiens hou. Naas Afrikaners, is dit Kleurlinge wat sy skilder. Distrik Ses-jolyt, 'n ghantang met 'n ghitaar voor 'n slaghuisvenster, klonkies aan die bo-ent van Strandstraat in die "Bokkeparadys" … (wat) tussen die arm huisies met kleurryke vlieërs speel.[54]

Oor haar tweede uitstalling is resensente minder entoesiasties. Bokhorst, wat vol vervoering was oor haar debuut in 1956, praat nou van 'n teleurstelling.

Although stimulating through the novelty of her approach to figure-painting, the present show is in a way disappointing. The artist, endowed with an unusual sense of colouristic values, has apparently spent most of her time in appraising in paint her new South African milieu, particularly the Afrikaner in the country, in town and the backveld, the Coloured community in her neigbourhood, and her own family circle.

Dit is veral die keuse van onderwerpe wat die betrokke resensent koud laat:

She tells her stories with penetrating power of perception, with ruthless sincerity, with a mild sense of humour and with considerable artistic means at her disposal. Taken as a whole, however, the show is ambiguous, not to say hybrid, because it halts between two opinions. On the one side there are the canvases where the theme has confronted the artist with a pictorial problem which she has solved with dexterity and originality; on the other, there are the pictures in which the descriptive "literary" element prevails to such an extent that they come dangerously near to large-scale illustrations.

Essentially, there is nothing wrong with the group of "illustrative" pictures, and I feel that once the artist has "digested" the new subject-matter she will manage to render scenes such as the large "Kersfeesdag" or the "Rusgenot" with the same controlled formal strength and synthetic vision that, in other pictures, make us think of André Lhote.[55]

Deurbraak

Deane Anderson gee in The Cape Argus vir Wallace krediet vir haar sosiale gewete, wat volgens hom gestalte vind in haar werk. Sy resensie is oorwegend gunstig, alhoewel nie sonder kritiek nie.

Wallace's exhibition in February last year was one of the most stimulating and promising first shows by a young artist that Cape Town has seen for a long time. Since then she has been hard at work. The present collection consists of 38 paintings, many of which are on an ambitious scale, as well as a group of drawings. A close examination of the new work does not indicate, I think, that this intensive production has brought with it an equivalent advance in quality in relation to the very high target the artist has already set for herself.

Nogtans meen hy dat die uitstalling van besondere belang is vanweë die interessante nuwe temas wat sy verken.

It seems an inevitable part of our contemporary "culture compulsive" that we should regard with a certain suspicion the artist who shows a concern with social anecdote, and then when this social record shows any sign of satire the suspicion should be tinged with a certain measure of (well-disguised) alarm. An ability to accept criticism, still less, satire, is not to be numbered among our national virtues. I doubt whether irony, even of Miss Wallace's milder variety, will receive the appreciation it deserves in this more touchy intellectual climate.

And it deserves much appreciation, both as fine art and as finely pointed wit. Focusing her observation on "Oom en Tannie", "Wool", "Die Rabies se Tuin", "Die Huisgodsdiens" and "Die Kleurprobleem" she presents a series of domestic portraits and occasions of middle class life with a fine directness and a refreshing lack of sentimentalism. She looks back here, not with the "anger" which has now become one of the most tedious cliches of contemporary thought, but with an almost affectionate sense of the ludicrous.

But the work has even more impact when the painter has no particular story to tell. In her studies of circus life, of children, and in such infrequent landscapes as "Skuite" her magnificent sense of colour, the illusion of light with which she floods each canvas, and the extra-ordinarary intricacy and opulence of the paint texture with which every part of the composition is clothed, show an uncomfortable lack of unity in design.

Vir hierdie resensent is Wallace se werk "strongly individual and imaginative". Hy gee haar ook die volgende erkenning:

(Wallace) also begins to show that identification with the spirit of our country which, in the international arena, is in the end likely to be found, not as a weakness but as a source of strength.[56]

In Die Burger het 'n ongenoemde resensent ook waardering vir Wallace se werk. Haar skilderye oor die Afrikaners, veral die werk getiteld "Huisgodsdiens", word eervol vermeld weens hulle dokumentasiewaarde van kultuur-historiese gegewens:

"Huisgodsdiens", met sy oorspronklike onderwerp (is 'n) skildery van drie mense wat rondom 'n tafel sit waarop 'n olielamp brand. Die oop Bybels en tipiese portrette in hul ovaalvormige rame aan die muur gee 'n beeld van 'n vinnig verdwynende eeu.

Van die verskillende skilderye wat handel oor die Kleurlinge en hul leefwyse is die vrolike "Spes Bona Rehearse" een van die mees geslaagde. Die tentoonstelling toon talent en individualiteit, veral in haar keuse van onderwerpe, wat vars en sterk behandel is.[57]

Gebondenheid aan Afrikaans

Vroeër die jaar neem Wallace ook aan 'n groepuitstalling deel om die Kunskamer in Bellville se nuwe Skouburg in te wy. Altesaam 46 kunswerke word vertoon, en onder die deelnemende kunstenaars tel Siebert Wiid, Machiel Brandenburg, Melvin Simmers, Claude Boucharain, Faith Loy Plaut, Cyril Stone, Cynthia Stanford, Frank Spears, Cecil Higgs, Alfred Krenz, Erik Laubscher, Irma Stern en Leo Theron.

Tussen 1958 en 1962 bied Wallace gereeld uitstallings aan in Kaapstad, Johannesburg en Pretoria. In Maart 1958 open haar laaste groot solo-uitstalling in Edinburgh. Daarna werk sy vyf maande lank in haar ateljee in Parys. Die resultaat van hierdie skeppingsperiode word op haar volgende uitstalling in Kaapstad vertoon.

Wallace het haar eerste paar jaar in Kaapstad as 'n tussenfase beskou. Sy het altyd die verwagting gehad dat sy en Rabie na Parys sou terugkeer en hulle daar sou vestig. Met die jare het die hoop nie net vervaag nie, maar verdwyn. Dit was hoofsaaklik weens Rabie se gebondenheid aan Afrikaans en die rol wat hy in die beweging van Sestig gespeel het. Hierin het Wallace hom volkome ondersteun en driftig saam gestry, veral vir die losmaak van Afrikaans as taal van die apartheidsbeleid. Sy het ook sterk standpunt ingeneem teen die onderlinge vervreemding tussen groepe wat deur die apartheidsbeleid veroorsaak is.

Wallace se uitstalling in die Lyceum Galleries in Edinburgh is in opvolging van haar eerste groot solo-uitstalling in haar geboortestad in 1955. Al die werk op die uitstalling is in Suid-Afrika geskep. Ook hier word haar betrokkenheid by die land en sy mense uitgelig. Hoewel die fokus nog op "wit" Suid-Afrika is, is hier die eerste tekens van haar bewustheid van die sogenaamde kleurprobleem. Sy verbeeld dit in 'n werk met die titel "The Colour Problem".

Soos voorheen word haar werk goed ontvang deur die resensente. Die kunskritikus van The Scotsman skryf soos volg:

These paintings cover a wide variety of subject matter but they show a consistent and serious approach in which a successful balance is struck between the content of the picture and its decorative possibilities. Miss Wallace's colour is bright and very attractive and her manner of painting clean and free.

The subject matter embraces natives, as in "Washing Day", but Miss Wallace is perhaps more preoccupied with white South Africa, of which she gives us some very interesting glimpses, as in "Die Huisgodsdiens" showing an Afrikaans family at prayers; "Cape Town Intellectuals", a picture which seems to be not without a trace of satire; and "The Colour Problem". Another interest is in carnival and circus scenes, and "Dancing Elephant", in which the bulk of the great beast is so well realised, is very successful.[58]

'n Jaar later, in 1959, stal sy in die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging in Kaapstad uit. Die werk is hoofsaaklik in Parys geskep. Die Kaapse resensente reageer steeds gunstig en daar is veral waardering vir haar tegniese vaardigheid, komposisies en ekspressiewe kleurgebruik.

Die gerespekteerde kunshistorikus en kritikus FL Alexander skryf in Die Burger vir die eerste keer uitvoerig oor Wallace se werk. Haar derde Kaapse uitstalling beskryf hy as "'n definitiewe voorwaartse stap in die ontwikkeling van die kunstenares." In 'n lang, analitiese resensie bespreek hy Wallace se tegniek en haar tematiese benadering. Sy blik is skerp ondersoekend. Hy skryf byvoorbeeld:

Haar werk verteenwoordig uitdrukkingskrag; haar swak skilderye lewer bewys van moed.

Hy waardeer die "ekspressiwiteit" van haar werk en "die poësie en gevoel" asook die "oorspronklike kleurbalans" daarvan.

Vorm en komposisie

Tematies oordeel hy so oor Wallace se werk:

Sy probeer om kykies in ons eietydse lewe te gee. Sy probeer kommentaar lewer … op die naturelle van Suid-Afrika en natuurlik op die lewe van blanke Suid-Afrika.

En verder:

Wallace se werk sak tot die peil van tydskrif-illustrasie as sy haar romantiese kuns forseer om kommentaar op die alledaagse te word. Haar werk is die beste as sy minder praat van realistiese indrukke en meer van haar fantasie en haar eie persoonlikheid. Dit openbaar sy as 'n vreemde mengsel van gesonde intensiteit en gesluierde melancholie, en sy vertoon groter aanleg vir sprokies as satire.[59]

Neville Dubow, invloedryke kunshistorikus en later direkteur van Michaelis Kunsskool, neem ook Wallace se werk vir die eerste keer onder die loep as resensent van The Cape Argus. Hy verwys na haar "konstruktiewe" verblyf in Parys. Volgens hom getuig haar werk nie van invloede wat in Parys die mode was nie:

She has not allowed the heady atmosphere of Paris to jade or disorientate the fresh lively way in which she sees her subjects. In fact, she has added to her intuitive feeling for simplification a firmer grasp of form and composition.

Hy skryf verder:

She has something of the wise child's disarming way of reducing situations to their essentials - as well as its sense of the bizarre - in "Zina la Vonyante" and in the cock and parrot themes. But there is nothing childlike about the way in which she uses flat planes of colour (or shadow tones in "Distrik Ses") to build up her forms.

Voorts verwys Dubow na Wallace se "sharply judged feeling for organizing figures in space". Hy meen sy is "at her best in her acute studies of children".[60]

Bokhorst, resensent van The Cape Times, reageer steeds gunstig op Wallace se derde Kaapse uitstalling. Hy verwys na haar as "a most versatile artist, while at the same time her approach is of a remarkable consistency".

Hy skryf:

She likes to juxtapose large simplified shapes of human beings and things, in strong colours of great luminosity, to create a world of her own in which there is very little movement but all the more life. She has managed to retain until now the ingenuousness, the directness, and the simplicity, which we also find in the vision of children. May that never become a pose!

Verder verwys hy na Wallace se "healthy originality" en is hy bekommerd dat sy verlei kan word "from the realm of imagination to within the precincts of illustration".

Met verwysing na haar selfportrette en portrette met Jan Rabie, wat later 'n beduidende tema in haar werk word, wys Bokhorst na aanleiding van die werk "Self and Coffeepots" op hoe knap Wallace mense in haar interieurs integreer. Haar vermoë om 'n verskeidenheid onderwerpe te hanteer, word ook bewonder.

My personal predilection in this show goes to the children's portraits - "The Young Visitor" with the splash of red on the table against the blue of the Mediterranean; the naive "Paco et Pierrot" so well placed in spaced; the "Hoela-hoepels en Vyeboom" and - above all - the gem of this group, "Little Arab Water-carrier", in which are combined the ingenuousness of a childlike vision, the love of a motherly woman, and the poetry of a born colourist.[61]

Later daardie jaar neem Wallace aan die groepuitstalling Onder 40 Salon deel, en trek sy met haar drie uitgestalde werke weer die aandag - veral met "Beproewing", een van die werke waarna later in die algemeen verwys is as haar "begrafnisskilderye". Daarmee toon sy dat sy reeds goed met Kaapse mense identifiseer. FL Alexander praat van "baie goeie eienskappe" en waarsku teen 'n bepaalde neiging wat maak dat 'n belowende "monumentale eselskildery" nie tot sy reg kom nie.

Net soos 'n skrywer sy verhaal vol maak met onnodige vulsel, so vul die kunstenares haar doeke te maklik met patrone op materiale, volgens 'n goeie resep van Vuillard.

Hy pleit vir 'n gestrooptheid in haar werk wat haar groot talent sal verfyn.[62]

Wallace en haar werk is een

Twee jaar verloop voordat Wallace weer in 1962 drie solo-uitstallings aanbied in Kaapstad, Johannesburg en Pretoria. Alexander se raad blyk inslag te gevind het. Volgens haar medekunstenaar Carl Büchner, wat ook as resensent vir Die Burger instaan, toon haar werk tog nou die gestrooptheid. Hy skryf:

Waar soveel van haar ander werke byna té vol, té warm, té bedrywig is, merk ons hier nou 'n kalmer stemming.[63]

Büchner gee in sy inleidingsparagraaf 'n treffende opsomming van Wallace as mens en kunstenaar. Hy skryf ook:

Marjorie Wallace en haar werk is één. Selde tref dit dat die kunstenaar, die mens, só duidelik in sy werk uitgebeeld word. In haar geval is dit 'n voorliefde vir helder kleur, 'n breë siening van die lewe om haar heen, en 'n gevoelige uitbeelding van mense - kinders, vriende, minderbevoorregtes, tragi-komiese figure, sprekend van 'n opgewekte openhartigheid en spontane meegevoel en sonder enige kwaaie hoedanighede!

Die feit bly: Wallace is 'n produktiewe kunstenares, en sy vertel ons graag omtrent haarself deur middel van haar werk. Gou kom ons agter wat sy dink, hoe sy voel, wáár haar belange lê. Sy is nooit lank in die ateljee nie. Altyd weer uit om in die buitelug te gaan skilder, telkens weer kinders, vissers, wasvrouens, kerkgangers in wit strooihoedjies. Klopse, hansworse en marionette voorsien die kunstenares verder van stof vir haar lewendige verbeelding om te verwerk. Soms voel 'n mens die aanbieding is te direk, byna té uitgelate. 'n Understatement sou miskien treffender gewees het, maar so lyk dit, aan Marjorie Wallace is daar geen salf te smeer nie! 'n Mens sou haar, glo ek, ook nie kon leer ken as dit nie juis vir daardie onbedwingbare lewenslus van haar was nie! En lewensvreugde![64]

In sy resensie sluit Neville Dubow by Büchner aan:

Entering a Wallace exhibition is rather like walking into a sunburst during a dull day. Her current one-man show at the SA Association of Arts Gallery is no exception but this time those who find her bright light overwhelming will be able to rest their eyes. For while the general colour pitch is high as usual there is a considerable amount of modulation which among other things underlines the fact that Wallace, for all her surface gaiety and flamboyance, is a thinking artist very much aware of the infinite gradations of light to be found even in brightness.

Seen en masse it could be chaotic and in the hands of most other painters probably would be, but Miss Wallace pulls it off and the reason why she does is that she is developing into an increasingly powerful painter; the force of her imagery is as strong as ever, she has largely abandoned superficial surface patterning and she is becoming very much the mistress of her rowdy palette.

Altogether this is a good exhibition, easily the best she has had. It shows the approach of maturity in an artist who somehow seems likely never to lose her basic youthfulness.[65]

In Johannesburg en Pretoria ontvang Wallace se werk 'n gemengde reaksie, anders as die gulle resensies van die Kaapse kritici. Waaroor daar wel saamgestem word, is dat sy deur die aanbod van haar onderwerpe verantwoordelike sosiale kommentaar lewer, teen 'n Suid-Afrikaanse agtergrond waarmee sy toenemend een voel. Die resensent van The Pretoria News stel dit so:

Wallace's human beings belong to their surroundings. Their movement is never posed or contrived and they fall as naturally into these pictures as does the play of light or the flash of colour.[66]

Fyn waarnemingsvermoë

Medekunstenaar Anna Vorster, wat vir Die Vaderland as resensent optree, beklemtoon Wallace se "atmosferiese effekte". Sy waardeer Wallace se "vitaliteit en talent" en prys haar "fyn waarnemingsvermoë vir die werklike omgewing en medemens." Sy stel ook die vraag of die kunstenaar haar styl op "ekspressiewe aanvoeling baseer, of heg sy meer waarde aan subtiele suiwer waarneming?"[67]

Laasgenoemde vraag vorm binne die oeuvre van Wallace se werk 'n interessante kantaantekening. Wallace se werk wissel van temas met 'n sterk simboliese inslag en dikwels 'n dinamiese lyn-komposisie, na 'n atmosferiese interpretasie, in die impressionistiese sin, van tonele waarin sy kameë van die lewe vasvang. In Wallace se mees onlangse werk, veral sedert 1998, is daar 'n duidelike beweging na kuns as ekspressie van aanvoeling en innerlike meelewing. Die uiterlike word gevorm deur 'n herinneringsbeeld, 'n aanvoeling wat aan die oomblik gestalte gee.

Soos die Kaapse resensente, het hulle (destyds) Transvaalse kollegas ook na Wallace as produktiewe skepper verwys. Die vraag word nou herhaaldelik gevra of Wallace nie haar publiek "oorlaai" met te veel werk nie, en of 'n seleksie nie 'n sterker uitstalling sou waarborg nie. Die vraag word reeds dwarsdeur haar skilderloopbaan aan die Kaap gevra, en tog het die vraag na haar werk nog elke jaar die aanbod oorskry. Die voor die hand liggende rede daarvoor is Wallace se lewensvreugde - haar werke getuig van joie de vivre.

Die integriteit van haar kunstenaarskap is vir Wallace as voltydse professionele skilder belangrik. Sy het ook nog nooit ontken dat haar persoonlike omstandighede dit genoodsaak het dat sy as broodwinner optree nie.68 Kuns was vir haar oorlewing. Na haar man se dood in November 2001 was dit vir haar ook heling.

Vir oulaas voor 'n uitgebreide buitelandse reis en lang verblyf in Kreta, het Wallace in 1964 'n solo-uitstalling in Kaapstad aangebied. Na haar terugkeer het sy in 1970 opnuut met solo-uitstallings begin, totdat sy rondom 1990 besluit het om haar werk via kunshandelaars te verkoop en vanuit haar ateljee direk aan kunsversamelaars te verkoop.[69]

Op die 1964-uitstalling het veral Wallace se portret van die digter Ingrid Jonker aandag getrek. Die werk is deur die kunstenaar geskenk en is nou deel van die Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum se versameling.[70]

Verblyf in Kreta

In 1965 het Wallace haar man op 'n uitnodigingsbesoek aan die VSA vergesel. Die Carnegie-reisbeurs is so benut dat hulle ook 'n besoek aan Kanada kon inpas en verskeie Europese lande kon besoek voordat hulle vir byna drie jaar op die eiland Kreta gaan woon en werk en met hul terugkeer Parys en Edinburgh aangedoen het. In New York het hulle hul intrek geneem in die ou kunstenaarshotel Chelsea, naby Greenwich Village. "Die soort plek waar jy vir jou kamer met 'n skildery of 'n manuskrip kan betaal. Arthur Miller het sy dak-apartement daar, en beide Dylan Thomas en Brendan Behan is daar oorlede. Eendag ontmoet ons glad ons ou Hollandse vriende in die hyser, skilder Karel Appel en skrywer Bert Schierbeek."[71]

Tydens die verblyf op Kreta het Wallace die Griekse atmosfeer en mense "met groot teue ingeneem". In 'n onderhoud vir Sarie Marais het Wallace dit so gestel: "Daar het ons saam met die eilandbewoners olywe geoes, hul feestelikhede bygewoon en deel geword van hul sosiale lewe. Vir hulle was ons nie buitelanders nie, maar vriende. Ek moet tog my mense in my skilderye ken of hulle nou van Kreta of Kaapstad of Waenhuiskrans is."[72]

Terwyl Wallace in hul vissershuisie in Elounda die leefwyse daar in haar skilderye gedokumenteer het, het Rabie 'n roman voltooi, Klipwieg, wat in 1970 gepubliseer is.[73]

Met hul terugkeer na Kaapstad koop hulle 'n ou plaashuis op Vermont, Onrus, wat hulle as tuiste inrig en waar 'n dakkamer-ateljee vir Wallace gebou word.

Voor hul vertrek na die buiteland was Wallace ook by die stigting van die Artists' Gallery in Kaapstad betrokke. Op inisiatief van die jong kunstenaar Brian McMinn is 'n kommersiële galery begin wat in die behoeftes van kunstenaars sou voorsien. 'n Dakkamer in die Manne Brothers-gebou in Adderleystraat is gehuur en op 10 Desember 1965 ingewy. Wallace was toe reeds in die buiteland, maar met haar terugkeer na Kaapstad is haar eerste uitstalling daar aangebied, voordat sy weer teruggegaan het na die galery van die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging. Dit was die laaste uitstalling voordat die galery gesluit het.[74]

In 1972 stal Wallace in die Artists' Gallery uit. Haar kleurryke werke is 'n dokumentêre beeld van haar en Rabie se verblyf in Kreta en hulle verkenning van die Egeïese See, en dit word entoesiasties deur kunsresensente ontvang.

Eldred Greene, resensent van The Cape Argus, verwys na Wallace se "happy collection of pictures" en haar vermoë om deur haar werk te kommunikeer.

She communicates her delight in her surroundings and in her ability to master the complex light and compose what she sees into pictures. Strong words and high praise, but then, if communication is the aim of this art, communicate she does.

Hy het waardering vir die buitengewone verskeidenheid van haar aanbieding:

Wallace has her style, it is true; but it leads to a great range of pictures.[75]

In Die Burger skryf Ellen Mesman dat Wallace se werk "'n groot aantreklikheid" het, wat sy toeskryf aan "haar eie opgewekte en optimistiese siening".

Haar werk besit 'n illustratiewe inslag, maar verhef sigself in haar beter skilderye daarbo deur haar vermoë om tot die sfeer van haar onderwerp deur te dring, dikwels met 'n interessante, ekspressiewe kleurgebruik of deur beligting van haar groepe mense, waardeur die toeskouer nie net die indruk kry van bv. die plegtigheid van 'n Griekse kerkdiens nie, maar ook van die informaliteit van die gemeente.[76]

Hierdie uitstalling word ook by die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging se galery in Pretoria aangebied. Hierdie keer is daar onder die noordelike resensente groot waardering vir haar werk. Michael Calenborne skryf:

There are 51 paintings on this exhibition and most of them are very, very good, whether the subject be a festival of the Greek Orthodox Church, a piper on the dunes, or a wedding. Wallace has matured considerably. She uses strong colours boldly, even extravagantly. She strides across her canvasses with great buoyancy and skill. She is essentially a realist and abstract precocities are not within her compass. She is a narrative painter and every one of her pictures tells a story eloquently, sometimes dramatically.

This exhibition represents a remarkable leap forward by Wallace and must certainly represent an important milestone in her artistic pilgrimage. One can only look forward to seeing more of her work, for she seems to be on the way to becoming one of our foremost artists.[77]

In 1974 is Wallace terug by die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging se galery in Kaapstad. Hierdie keer is die fokus op Onrus en 'n reisbesoek aan Jerusalem. Eldred Greene skryf in sy resensie:

Marjorie Wallace does for Onrus and that neighbourhood what Pierre Bonnard could do for family life outdoors in France, making the processes of living visually serene. She even brings serenity to the meeting of life and death.[78]

Visuele oorspronklikheid

In hierdie uitstalling is 'n aantal sterfbedtonele. Veral die toneel uit André P Brink se roman Kennis van die Aand, wat dieselfde jaar verbied is, word 'n fokuspunt van die werk op uitstalling. In haar resensie sê Ellen Mesman dat die verhalende aard van Wallace se werk en die kleurgebruik daarin tot ekspressionisme lei. Met haar lewendige verteltrant betrek sy die publiek daarby en maak dit vir hulle aantreklik. Mesman wys egter ook daarop dat die ekspressionistiese, wat tot dramatisering van die onderwerpe kon gelei het, nie voltrek word nie:

(Wallace) hou dit in bedwang met strakke kleur-vorm-komposisie wat dan weer lewe kry deur die ligval.[79]

Mesman kom tot die volgende slotsom:

Haar werk is 'n weergawe van 'n situasie, maar bly dikwels net vry van die illustratiewe deur 'n ongebondenheid, 'n objektiwiteit wat haar net los laat bly van die realiteit en waarmee sy haar eie wending aan die toneel kan gee.[80]

Mesman deel hier 'n voorbehoud wat deur ander resensente oor vorige werke uitgespreek is. Erik Laubscher, medekunstenaar en vriend, se deurdagte bewoording in sy bespreking van Wallace se werk in The Cape Times spreek veral van groter verwagtinge. Hy het bewondering vir haar "visuele oorspronklikheid", maar is besorg dat haar werk neig tot die illustratiewe; haar sjarme as kunstenaar domineer, maar hy is bekommerd oor die voorgesette artistieke relevansie van haar werk.[81]

In Junie 1975 word die Afrikaanse Skrywersgilde gestig, met sy eerste beraad in Broederstroom. Dit was in 'n tyd toe daar aansienlike politieke spanning geheers het tussen Afrikaanse skrywers en die establishment. Wallace word lid op grond van haar betrokkenheid by die Sestigers, maar ook as skrywer uit eie reg. Sy het haar eerste kinderboek in Afrikaans geskryf en dit ook geïllustreer, en dit is deur Human & Rousseau uitgegee.[82]

Wallace neem ook deel aan die groepuitstalling 15 Kaapse Vrouekunstenaars, wat in 1979 in die Waterkant-galery aangebied is. Weer eens is dit Wallace se werk wat die aandag trek en vir spesiale vermelding uitgesonder word.[83]

In 1979 is Wallace 'n stigterslid van die Kunstenaarsgilde wat deur professionele kunstenaars in Kaapstad gestig word. Erik Laubscher is die eerste president, met Kevin Atkinson as visepresident. Die doel van die gilde is om die visuele kunste te bevorder en veral ook om die belange van professionele kunstenaars te verteenwoordig. Die destydse apatie van die regering teenoor die kunste, die gebrek aan 'n visie en gepaardgaande kunstebeleid het groot ontevredenheid tot gevolg gehad. In Maart 1980 is die Kunstenaarsgilde formeel gekonstitueer.[84]

Reisende uitstallings

Wallace se werk word ook opgeneem in die Vierjaarlikse Kunsuitstallings van Suid-Afrikaanse werk, beter bekend as die Quadrennial Exhibitions, waarvan die eerste in 1956 gehou is. Hierdie uitstallings is deur die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging gereël en 'n keur uit die werk van bekende kunstenaars is opgeneem. Dit was 'n rondreisende uitstalling wat die werke sodoende ook aan kleiner gemeenskappe kon bring en deur 'n staatsubsidie geborg is. Hierdie vierjaarlikse uitstallings het tot 1964 geduur, waarna die periode na vyf jaar verleng is en die uitstallings na die Quinquennial Exhibitions herdoop is. Die eerste en enigste uitstalling is in 1969 aangebied.[85] Wallace het aan die tweede en derde Quadrennial Exhibitions deelgeneem, in 1960 en 1964 onderskeidelik.[86]

Met die viering van die vyfde herdenking van die Republiek van Suid-Afrika in 1966 is Wallace se werk opgeneem in die groot groepuitstalling van Suid-Afrikaanse kunstenaars wat deur die Noord-Transvaalse tak van die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging georganiseer is. Wallace het ook as genooide kunstenaar deelgeneem aan die Republiekfeesuitstalling van 1981 in Durban. Die uitstalling het kwaai deurgeloop onder die kritiek van kunstenaars wat gemeen het dat deelname daaraan ook 'n viering sou wees van die regering se politieke ideologie.[87] Wallace en ander het net deelgeneem na 'n belofte van die destydse minister van nasionale onderwys, dr Gerrit Viljoen, dat hy wetgewing sou aanvoer wat die visuele kunstenaars in staat sou stel om hul "fundamentele belangrike rol binne die Suid-Afrikaanse kultuur" te speel.[88]

Die Republiekfees-kunsuitstalling is in die Hawe-Eindpuntgebou in Durban aangebied. Altesaam 330 kunstenaars het deelgeneem, en 'n totaal van 550 werke is uitgestal. Die eminente Londense kunshistorikus en kunskritikus Edward Lucie-Smith was die hoofkeurder. Hy het ook die keuring met die oog op prystoekennings behartig. Die Kaapse kunstenaar Faith Loy Plaut het met haar wandtapisserie die grand prix gewen, terwyl Wallace, Billy Molokeng en Rick Andrew eervol vermeld is. Wallace se werk "The Bridge Players" is vir eer uitgesonder.[89]

Wallace se produktiwiteit as skilder word opnuut bevestig deur drie groot uitstallings - twee in Kaapstad in 1978 en 1981 en 'n derde in Pretoria in 1979. Weer trek sy aandag met haar unieke kleurstrukture en vormkomposisies. Haar anekdotiese vermoë word weer aangeprys en so ook die lewensvreugde waarvan haar werk getuig.

Die mees afkeurende resensie van haar loopbaan kry sy in Pretoria. Die skrywer Jeanne Goosen spaar nie haar bitter en soms sarkastiese kritiek nie, deur onder meer te verwys na die "Onrus in-scene" wat tot "skeppende armoede lei wat op sy beurt dalk 'n armoede van omgewing verraai".[90] Dit het tot gevolg dat heelwat briewe ter ondersteuning van Wallace in die pers verskyn en dat medekunstenaars soos Anna Vorster intree om "die eensydigheid" van Goosen se resensie te betreur. [91]

Spesiale niche

Dit was dan ook Wallace se laaste tentoonstelling in die Noorde. In 1981 het sy haar laaste solo-uitstalling in Kaapstad. Op hierdie uitstalling is ook 'n aantal werke wat Wallace tydens 'n besoek aan Israel geskilder het. In The Cape Times skryf Benita Munitz entoesiasties oor Wallace se laaste uitstalling in die galery van die Wes-Kaapse SA Kunsvereniging. Sy verwys na dinge uit Wallace se onmiddellike omgewing wat haar skilderye voed, naamlik 'n begrafnis, huisinterieurs en plaaslike persoonlikhede:

Irrepressible optimism is what links all these renderings - even when her subjects have become toothless, hollow-cheeked, scraggy caricatures of human beings.

Sy bewonder veral Wallace se hantering van sonlig:

It is this kind of treatment of sunlight and shadow that has created a special niche for Marjorie Wallace in South African art.[92]

Die element van karikatuur in Wallace se werk het sy oorsprong in die werk van Goya en Daumier, twee kunstenaars wie se werk sy tydens haar verblyf in Parys en ook tydens 'n studiebesoek aan Madrid goed bestudeer het. Hier gebruik sy die element van karikatuur juis om 'n broosheid uit te beeld en deernis eerder as spot vir die personasies te wek.

Intussen is haar werk fluks aangekoop en is dit in verskeie openbare versamelings opgeneem. Hieronder tel die Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum in Kaapstad, die Hester Rupert Kunsmuseum in Graaff- Reinet, die Rembrandt Kunsstigting in Stellenbosch, die William Humphreys Galery in Kimberley, die Pretoriase Kunsmuseum, die Julius Gordon Africana Sentrum in Riversdal, die KWV in die Paarl, die Wellington Kollege, Human & Rousseau Uitgewers en die Nasionale Pers in Kaapstad. [93]

Kunshistorici het vroeg reeds aan Wallace 'n bepaalde posisie binne die Suid-Afrikaanse kuns toegeken. In FL Alexander se oorsig Kuns in Suid-Afrika sedert 1900 wat in 1965 gepubliseer is, word die skildery "Die terugkeer van die bote" van 1961 opgeneem en verwys Alexander na Wallace se beste werk wat "'n verwantskap met die ekspressionistiese kuns" het.[94]

Esmé Berman verwys in haar gesaghebbende werk Art & Artists in South Africa ook na Wallace se suksesvolle deelnames aan Suid-Afrikaanse feesuitstallings. Sy was onder meer 'n pryswenner op die 1981 Republiekfees in Durban. Wallace se stelling: "I paint PEOPLE, with landscapes behind them!" word net so aangehaal. Daar is by Berman waardering vir Wallace se deernis en begrip vir mense.

The moments of compassionate insight increased in frequency as a growing sense of helplessness in the face of uncontrollable misfortune and injustice was externalized in paint. Her images became commentaries on, rather than descriptions of faces, places and situations.[95]

'n Werk van Wallace word ook opgeneem in 'n glansboek, Suid-Afrikaanse kuns van die twintigste eeu.[96] Die grootste eer wat Wallace te beurt kon val, is die opname van haar werk "Cape kitchen" in die publikasie getiteld 150 South African Paintings - Past and Present. Ook hierin word met waardering verwys na die vreugde wat haar werk bring.[97]

Wallace beskryf die aard van haar skeppende werk soos volg:

Painting is about colour and light - trapping light as it flows around and sculpts things.

Sy verduidelik wat 'n kunstenaar motiveer om te skilder:

Not every painting is done for a reason. You paint to explain something to yourself or you paint something you love because you want to possess it. You also paint out of pure joy and you want to share it. But rarely out of anger ...[98]

Oomblik van herinnering

Sy herroep wel 'n voorbeeld van haar eie woede. Dit hou verband met 'n foto wat sy tydens die Steve Biko-verhoor gesien het. "There was a picture of the interrogator in the Steve Biko trial in the newspapers - a man with mirrored glasses. I was haunted by this face and had to paint it to get rid of it."[99]

Tydens die aanhouding en verhoor van die digter Breyten Breytenbach het Wallace ook 'n aantal gouache-tekeninge gemaak waarin sy haar die foltering van Breytenbach tydens ondervraging en daarna in gevangenis voorgestel het.

Wallace onthou hoe sy dikwels ellende as tema verken het toe sy nog 'n student was. Die ellende waarmee sy toe gekonfronteer is, het haar gedwing om daaraan aandag te gee. Dit het uit die Spaanse Burgeroorlog en die werksomstandighede van die Skotse mynwerkers gespruit.

In an odd way suffering is an easy thing to paint. Later on, you try to paint happiness - and that's harder.[100]

Wallace het haar werk in haar ateljee geskep. Die sketse wat sy as voorstudies vir haar skilderye ontwikkel, het uit haar geheue gekom. Sy het 'n fotografiese geheue gehad waarin 'n oomblik, 'n indruk of 'n uitdrukking vasgevang kon word. Vir haar was mense boeiend. Sy was nie 'n voyeur nie, sy was betrokke by die mense wat haar skilderye bewoon. In baie opsigte is haar oeuvre 'n persoonlike rekord van die mense wat haar lewe gekruis het. In haar geheue en op doek vertroetel sy die oomblik van herinnering waaruit sy vir ander dikwels 'n blywende vreugde geskep het.

Met haar dood wil ek hulde bring aan Marjorie Wallace se onblusbare lewensvreugde waarmee sy die Suid-Afrikaanse skilderkuns verryk het. Met haar eiesoortige blik op die wêreld het sy produktief gewerk om haar ervaring van 'n halfeeu deel van ons kultuurerfenis te maak.

Voetnote
[1] Edinburgh Evening Dispatch: Better than 'Kailyard' Art, but - The SSA Exhibition will raise colour controversies. RWW. 15 Oktober 1949.
[2] The Glasgow Herald: Shop window for young Scot artist. Our Art Critic. 15 Oktober 1949.
[3] The Glasgow Herald: Young Contemporaries Show. 25 September 1951.
[4] Pictures on Exhibit: Report from Paris. Henry Kahn, Oktober 1951.
[5] Arts. Henri Heraut. Januarie 1953.
[6] The Sunday Times: Show for Younger Artists. John Tonge. 17 Oktober 1953.
[7] L'Observateur. Charles Estienne. 27 Oktober 1953.
[8] The Torch. Per Ardua ad Artem. Marjorie Wallace. Mei 1953.
[9] The Studio: The Younger Generation. Alexander Watt. January 1954.
[10] The Bulletin: Colourful and Lively Work. P N. Oktober 1955.
[11] The Glasgow Herald: Work of Woman Artist - Edinburgh Show. P J N. 10 Oktober 1955.
[12] The Scotsman: Edinburgh Exhibition - Paintings by Marjorie Wallace. Chambers Crabtree. 3 Oktober 1955.
[13] The Scottish Daily Express: Meet Marjorie - The spirit of adventure. 4 Oktober 1955.
[14] Echo de la Bourse: Cocktail de Paris. Sebastian Dulac. Julie 1955.
[15] Sestigers in Woord en Beeld: Jan Rabie. Perskor, Johannesburg, 1986, p 14.
[16] JC Kannemeyer, Die Goue Seun - Die lewe en werk van Uys Krige. Tafelberg, Kaapstad, 2002, p 436.
[17] Ibid., p 437.
[18] André P Brink, Voorwoord: Jan Rabie, Paryse Dagboek. Human & Rousseau, Kaapstad, 1998, p 6.
[19] JC Kannemeyer, Die Goue Seun - Die lewe en werk van Uys Krige. Tafelberg, Kaapstad, 2002, p 441.
[20] Gesprek met JC Kannemeyer, Stellenbosch. November 2002.
[21] JC Kannemeyer, Die Goue Seun - Die lewe en werk van Uys Krige. Tafelberg, Kaapstad, 2002, p 441.
[22] The History of Cobra. Thomas Faeber & Jette Hussmann, 2002.
[23] Jan Rabie, Paryse dagboek, Human & Rousseau, Kaapstad, 1998, pp 11-12.
[24] Mededeling Marjorie Wallace. November 2002.
[25] Die Burger: Uit Parys na Groenpunt en Boerbokke. 4 Oktober 1956.
[26] Ibid.
[27] Ibid.
[28] Suid-Afrikaanse Kunsvereniging: Uitnodigingskaartjie en persvrystelling, Februarie 1956.
[29] The Cape Times: Best first show for years. Matthys Bokhorst. 6 Februarie 1956.
[30] Ibid.
[31] Suid-Afrikaanse Kunsvereniging: Verkoopskatalogus van Marjorie Wallace, Februarie 1956.
[32] Mededeling deur Marjorie Wallace, Desember 2002.
[33] The Cape Argus: Woman artist's work displays exceptional vitality. 8 Februarie 1956.
[34] Ibid.
[35] Die Burger: Vrolike en lewenskragtige tentoonstelling deur Marjorie Wallace. 9 Februarie 1956.
[36] City Gallerie: Uitnodigingskaartjie en persvrystelling. Oktober 1956.
[37] Suid-Afrikaanse Kunsvereniging: Uitnodigingskaartjie, November 1956.
[38] Onderhoud met Marjorie Wallace, November 2002.
[39] Die Burger: Marjorie Wallace se Kuns: Getuig van 'n onbedwingbare lewensvreugde. CA Büchner. 3 Augustus 1962.
[40] Die Vaderland: Skilderye van Marjorie Wallace. Anna Vorster. 11 September 1962.
[41] Die Vaderland: Marjorie Wallace stal uit. 23 November 1956.
[42] The Star: Experiments with Colour. 23 Oktober 1956.
[43] The Rand Daily Mail: Brave, Lively Paintings by Marjorie Wallace. H E W. 30 Oktober 1956.
[44] Die Transvaler: Marjorie Wallace. W L. 24 Oktober 1956.
[45] Dagbreek: Rubriek van Bienkie (Wessels). 4 November 1956.
[46] Die Transvaler: Skotse kunstenares stal uit. 17 November 1956.
[47] Die Vaderland: Marjorie Wallace stal uit. 23 November 1956.
[48] The Pretoria News: Personality Marjorie Wallace. 23 November 1956.
[49] The Scotsman: SSA Exhibition Watercolours and Drawings. Varied Techniques. 8 Oktober 1957.
[50] Suid-Afrikaanse Kunsvereniging. Uitnodigingskaartjie en persvrystelling. November 1957.
[51] The Cape Argus. The Wanderer. 2 November 1957.
[52] Ibid.
[53] Die Burger: Marjorie Wallace gee indrukke van SA en sy mense. 4 November 1957.
[54] Ibid.
[55] The Cape Times: Marjorie Wallace Exhibition. Matthys Bokhorst. 12 November 1957.
[56] The Cape Argus: Social Comment has the Edge in Painter's Work. 13 November 1957.
[57] Die Burger: Talent en Individualiteit in Marjorie Wallace se 2de Tentoonstelling. 8 November 1957.
[58] The Scotsman: Exhibitions in Edinburgh. Marjorie Wallace and Douglas Abercrombie. Art Critic, 18 Maart 1958.
[59] Die Burger: Marjorie Wallace: Haar beste werk besit fantasie en persoonlikheid. F L Alexander. 20 Maart 1959.
[60] The Cape Argus: Artist found her stay in Paris productive. Neville Dubow. 21 Maart 1959.
[61] The Cape Times: Artist's variety of new themes. Matthys Bokhorst. 23 Maart 1959.
[62] Die Burger: Kunstenaars onder Veertig: Jongeres skilder nou byna nooit meer realisties. FL Alexander. 5 Oktober 1959.
[63] Die Burger: Marjorie Wallace se Kuns: Getuig van 'n onbedwingbare lewensvreugde. CA Büchner. 3 Augustus 1962.
[64] Ibid.
[65] The Cape Argus: Wallace Exhibition: Mature, strong show by artist. Neville Dubow. 3 August 1962.
[66] The Pretoria News: Artist of warmth, vitality. P A K. 11 September 1962.
[67] Die Vaderland: Skilderye van Marjorie Wallace. Anna Vorster. 11 September 1962.
[68] Onderhoud met Marjorie Wallace, November 2002.
[69] Ibid.
[70] Suid-Afrikaanse Kunsmuseum: Aanwinsregister, Januarie 2003.
[71] Sestigers in Woord en Beeld: Jan Rabie. Perskor, Johannesburg, 1986, p 41.
[72] Sarie Marais: Skilderes van Mense. Lily Herzberg. 20 Mei 1970.
[73] Ibid.
[74] Esmé Berman: Art & Artists of South Africa. AA Balkema, Kaapstad, 1983, p 44.
[75] The Cape Argus: Happy pictures by Marjorie Wallace shown. Eldred Greene. 11 Februarie 1972.
[76] Die Burger: Stemmingsvolle beelde van die Griekse Eilande. Ellen Mesman. 14 Februarie 1972.
[77] The Pretoria News: Every Picture tells a story. Michael Calenborne. 17 Oktober 1972.
[78] The Cape Argus: Serene World of Wallace in exhibition. Eldred Greene. 2 Februarie 1974.
[79] Die Burger: Marjorie Wallace tentoonstelling: Gehalte gehandhaaf. Ellen Mesman. 8 Februarie 1974.
[80] Ibid.
[81] The Cape Times: A certain charm. Erik Laubscher. 17 Oktober 1972.
[82] Mededeling Marjorie Wallace, November 2002.
[83] The Cape Argus: 15 Cape Women Exhibit. Eldred Green. 31 Januarie 1979.
[84] Esmé Berman: Art & Artists of South Africa. AA Balkema, Kaapstad, 1983, p 44.
[85] Ibid., p 358.
[86] Ibid., p 515.
[87] Ibid., p 517, p 518.
[88] SA Arts Calender/SA Kunskalender. Junie/Julie 1981, p 4.
[89] Ibid., p 5.
[90] Die Transvaler: Vervlakking en disintegrasie in Wallace se werk. Jeanne Goosen. 3 Augustus 1979.
[91] Ibid. Menings van ons Lesers. 8 Augustus 1979.
[92] The Cape Times: Wallace brings her own sunlight. Benita Munitz. 4 September 1981.
[93] Esmé Berman: Art & Artists of South Africa. AA Balkema, Kaapstad. 1983, p 483.
[94] FL Alexander: Kuns in Suid-Afrika sedert 1900. AA Balkema, Kaapstad, 1965, p 23, p 94.
[95] Esmé Berman: Art & Artists of South Africa. AA Balkema, Kaapstad, 1983, p 484.
[96] Suid-Afrikaanse kuns van die Twintigste Eeu. Inleiding deur Heather Martienssen. Human & Rousseau, Kaapstad, 1966, p102.
[97] Lucy Alexander & Evelyn Cohen: 150 South African Paintings Past and Present.
Struikhof-uitgewers, Kaapstad, 1990, p 120.
[98] The Argus, Tonight Supplement: From memory to canvas. Dale Lautenbach. 28 Februarie 1984.
[99] Ibid.
[100] Ibid.

Eerste publikasie op LitNet: 28 Junie 2005

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top