Marius Crous kyk na Johan Steyn se digbundel, Geboorte is 'n ongerief

  • 0
Geboorte is ‘n ongerief deur Johan Steyn
Lapa Uitgewers, 72pp
ISBN: 9780799339956
Formaat: 137 x 212 mm; sagteband
Kategorie: Poësie
Handelsprys: R90
 
 

In die tagtigerjare, met die verskyning van Dalene Matthee se romans, is daar besin oor waar dié romans binne die literêre diskoers tuishoort. Dit was nie soseer triviaalliteratuur (tipiese voorspelbare ontspanningsliteratuur) nie en mettertyd is van haar werk as goeie, gewilde prosa gepraat. Hierdie verskynsel is ook besig om in die poësie pos te vat, want al hoe meer bundels wat minder intellektueel en intertekstueel en meer gerig is op die gemiddelde leser, begin verskyn. Dink maar aan die werk van Allan Boesak, Steve Hofmeyr en die lirieke van Stef Bos, en selfs van die latere verse in Hambidge se onlangse bundel kan hieronder ressorteer.

Johan Steyn val ook in hierdie kategorie, alhoewel sy belesenheid dikwels wil-wil deurskemer. Daar word onder meer verwys na sy vertaling van Hebreeuse gedigte en die motto kom uit Rilke. Mens lees ook Opperman en van die ouer figure soos WEG Louw raak in van die gedigte.

Hierdie bundel van hom val vir my iewers tussen dié van ‘n beginnerdigter en ‘n meer gevestigde digter se werk. Soms kom die sterker digterstem na vore, maar soms is daar net té erge mankemente wat die ernstige poësieleser irriteer, maar wat waarskynlik die goeie, gewilde leser sal behaag. Soos die voorbladontwerp met sy omraamde afbeelding van ‘n jong seuntjie suggereer, het ons hier te make met ‘n soort ouwêreldse sfeer en dit verklaar hoekom herinneringe so ‘n sterk rol speel in die gedigte. Daar is gedigte oor die ouers, die dood van die ouers, oor die jeug, liefde en die ervaring in die erediens.

Die deurlopende temas in die bundel is die besef van die verganklikheid van die mens en die mens se omgang met God en die godsdiensbelewing. Maar hierdie bundel illustreer weer eens vir ons hoe moeilik dit is om oor die spirituele en die Onsienlike te skryf. Net enkele figure kry dit reg. Miskien het dit tyd geword dat almal wat hieroor wil skryf, eers weer Donne, Herbert en Hopkins gaan herlees, hulle werk vertaal in Afrikaans en daaruit probeer leer. Of gaan kyk hoe TT Cloete en Sheila Cussons met hierdie tema worstel. Of Rilke se eiesoortige metafisika. Die lys is eindeloos. Dit help nie mens skryf oor die Protestantisme in die retoriek van die kerk en die dogmas nie. Dan is dit helaas nie poësie nie. Steyn se gedigte is nog te vasgewring in die retoriek van die bestaande, die woorde wat uit dogmatiese geskrifte en leringe van die kerk afgelei kan word. Te dikwels word stopwoorde soos genade en God en Skepper gebruik, sonder dat daar enigsins sprake is van vernuwing in die teks. Die Bybelse gegewe word herinterpreteer, maar dit is net nog te sterk vasgevang in die retoriek van mooiskrywery en Bybelse taalgebruik.

Wat is die vernaamste punte van kritiek teen die bundel? Daar is te veel oordrewe, byna prosa-agtige reëls (wys versus vertel kom ter sprake), die woordkeuse is dikwels oordrewe, daar is dikwels van die ergste geykthede wat gemeng word met regtig goeie vondste, en die rymskema is ook dikwels net te geforseerd.

In die openingsreëls van “Christus” (p 58) merk die spreker op:

Oor jou skryf ek nie aangeleer nie;
ons ken mekaar intiem.

‘n Mens mis die werklike omdigting van hierdie intieme verwantskap tussen die spreker en die Christusfiguur in die bundel. ‘n Mens hoop dat Steyn in sy volgende werk die taal sal aanleer wat daardie mistieke belewenis trefseker verwoord sonder om staat te maak op retoriek.


Ondersteun deur Grapetown Capital (Pty) Ltd.


Skrywers en digters is welkom om repliek op hierdie resensies te lewer. Oop gesprek tussen resensente, skrywers, digters en lesers word aangemoedig. Stuur jou kommentaar aan sharon@litnet.co.za.
Kommentaar sal op LitNet gepubliseer word.

 
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top