Marike se laaste dans
Deborah Steinmair
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798151467
Prys: R160
Met die eerste lees van Deborah Steinmair se roman het die titel my onwillekeurig laat dink aan Wayne Koestenbaum se Jackie Under My Skin – Interpreting An Icon (1995). Anders as in die geval van Jackie O word Marike de Klerk eintlik maar net onthou as die aanhangsel, die vrou, van FW de Klerk, die een met die koloniale wit helm by Mandela se inhuldiging, die eertydse presidentsvrou wat op tragiese wyse gesterf het en wie se begrafnis deur die groot ikoon van die Suid-Afrikaanse politiek Winnie M bygewoon is.
En hier wek Steinmair vir Marike de Klerk weer tot lewe in hierdie magies-realistiese teks; Marike de Klerk, wat “ingekoop [het] in die ideaal wat aan ons almal voorgehou is, van die raakvattervrou as helpmaat, klankbord, en voetstoel van haar man; as tuisteskepper en woekeraar vir liefdadigheid. Tegelyk elegante modepop, grasieuse gasvrou en klein patroon – rustelose intellek of te not” (10).
Die roman word aangebied as ’n droom, maar wat dit nog interessanter maak, is die feit dat ons selfs in sekere gedeeltes te make kry met ’n droom binne die droom. Die karakter Marike de Klerk is dan selfs daartoe in staat om hierdie drome binne te dring. Vergelyk byvoorbeeld die begin van hoofstuk 44:
Dae lank bly Marike weg.
Dan besoek sy my in ’n droom.
Ek is besig om te droom van ’n trop flaminke op ’n groen waterplaat, toe die prentjie skielik oplos in flikkerende sneeu, soos ’n slegte TV-kanaal (136).
Die verteller, Maud Grobler, sien Marike eendag soos “Brel se bedremmelde Frieda” (15) langs die pad staan en bied haar ’n rygeleentheid aan. Marike blyk ingelig te wees oor wie die verteller is, want sy noem dat sy “LitNet en Die Burger” lees en dus kennis dra van Maud. Dit is gepas dat juis hulle twee by mekaar uitkom, want Maud noem dat sy nuuskierig is oor mense (53) en werklik in hul belangstel.
Tereg, egter, waarsku die die outeur voorin:
Die karakters in hierdie boek is fiktief en historiese figure is gefiksionaliseer. As jy reken jy herken jouself in hierdie roman, doen jy jouself ’n onguns aan.
Heelwat figure uit die Suid-Afrikaanse literêre wêreld gaan hulself hier herken. Dit wissel van die skrywerfiguur met wie die verteller haar lewe deel tot literatuurwetenskaplikes en kritici. Die storie speel ook in bekende ruimtes en herkenbare plekke af, maar tussendeur word die magiese element ingeweef van Marike de Klerk wat kan vlieg en haarself kan verplaas. Sy neem ook vir Maud Grobler saam na die Wagkamer om te sien hoe sommige mense vasgevang is tussen die aardse en die bo-aardse sfere – een van die skreeusnaaksste tonele in die boek. Nie verniet word hier na The Matrix verwys nie, want die karakters bevind hulle in so ’n illusionêre ruimte. Figure wat hier teëgekom word, sluit in Brenda Fassie, lady Di en Johannes Kerkorrel (87).
Die speletjie van fiksie en niefiksie word verder geaktiveer deur die aangehaalde koerantberig wat ’n onderhoud van ene Trudie Myburgh met Marike de Klerk bevat. Sewe jaar na haar dood is Marike de Klerk nog net bekend aan ’n ouer generasie, en Maud se dogter verteenwoordig die jonger generasie wat wel weet van “Mister Mandela” (66), maar geen kennis dra van FW of Marike de Klerk nie.
Die storielyne wat vervleg word, sluit nie net herinneringe van Maud aan haar kinderjare en haar minnaars in nie, maar daar is ook haar interaksie met haar bekkige kinders, haar lewe saam met die temperamentele Skrywer, asook haar interaksie met oorlede Marike de Klerk en dié se poging om kontak te maak met haar moordenaar, Luyanda Mboniswa. Laasgenoemde aspek van die roman vind ek onbevredigend, want dit word nie na behore ontgin nie.
Vir my bly die verkwiklikste karakter in hierdie knap roman die Skrywer. Sy word uitgebeeld as ’n robuuste, growwe vrou met ’n skerp intellek en iemand wat gou moeg raak vir vervelige geselskap. Sy is ook besonder anti-man en met haar skerp tong “ontman en vergat” (114) sy Maud se Latynse minnaar. Vanweë die Skrywer se onrustige aard moet Maud en haar kinders gedurig trek, en wanneer die woelgees te veel drink en te depressief vasgevang word in haar omstandighede, moet almal vlug voor haar skerp tong. Maud verwys selfs na hulle twee as Vladimir en Estragon (90). Die Skrywer is ook die karakter wat hou van dans en die dansmotief kom deurgaans voor. Nie net dans Maud en die Skrywer wanneer hulle mekaar leer ken op die AWB-plaas nie, maar Maud se oudste dogter het Suid-Afrikaanse kleure in hip-hop (61). Selfs Marike neem deel aan die dansery in die sitkamer.
Aan die einde vertolk Marike ook die rol van die goeie feemoeder in die lewe van Maud en bring sy nie net vir haar soos ’n wafferse Herakles die appel uit die tuin van Koos Bekker nie, maar dis ook deur haar toedoen dat die werklose joernalis en redigeerder Maud Grobler weer ’n werk aangebied word deur die einste Koos Bekker (157).
Getrou aan ons postmoderne tyd word regte mense uit die dood gewek en omvorm tot geskryfdes en word ’n slim spel gespeel met waar en onwaar, fiksie en niefiksie, realiteit en die magiese – al is dit (net) ’n droom. Steinmair lewer ook ’n bydrae tot vroueskrywing in Afrikaans met haar verkenning van die vrou se lewenswêreld, die taal, die belewing van die erotiek en die probleme waarmee ongetroude of geskeide moeders gekonfronteer word. Die boek lewer ook kommentaar op seksuele ontwaking en seksuele teistering, soos in die geval van Maud wat deur haar familielid gemolesteer is as jong kind, terwyl die Skrywer se pa in Parow haar voor sy jong mansvriende verneder het.
Met hierdie klein roman bevestig Deborah Steinmair haar skrywerstalent, en ’n mens sien uit na nog meer.

