Sedert die begin van 2013 vind daar iets in die geskiedenis van publikasie plaas wat seker uniek is. Maria Tsaneva het reeds meer as 150 boeke oor skilders en hulle werk op Amazon Kindle bekend gestel. Sy is 'n Bulgaar wat in die skone kunste opgelei is en vanuit Sofia publiseer. Elkeen van die boeke handel oor 'n bepaalde kunstenaar. Elke boek is van 'n kort en eintlik oppervlakkige inleiding voorsien en daarna volg 49 tot 247 afdrukke; meesal 100 of meer. Die pryse wissel van $0.99 tot $4.99, met laasgenoemde as die norm. As in ag geneem word hoe duur gedrukte publikasies geword het en veral die reproduksie van skilderye in kleur, moet hierdie inisiatief in elektroniese publikasie verwelkom word. Dit moet sekerlik daarin slaag om skilderye aan 'n breër publiek bekend te stel; dus om ten minste 'n aanduiding van die aard van die gekose kunstenaars se skeppingswerk te gee.
Die dekking van hierdie publikasieprogram is internasionaal. Talle van die kunstenaars is by my onbekend, maar daar is ook talle bekendes. Die volgende alfabetiese lys gee 'n aanduiding van die dekking: Blake, Bosch, Cézanne, Constable, Dali, Da Vinci, Degas, Delacroix, Doré, Dürer, El Greco, Gainsborough, Gauguin, Goya, Hals, Holbein, Ingres, Klimt, Macke, Manet, Marc, Michelangelo, Modigliani, Monet, Mucha, Murillo, Pissarro, Raphael, Rembrandt, Renoir, Rossetti, Rousseau, Rubens, Schiele, Seurat, Sisley, Tintoretto, Titian, Toulouse-Lautrec, Turner, Van Gogh, Wistler.
Ek het twee van Tsaneva se boeke gekoop. Die een is Arnold Böcklin: 101 masterpieces (2014, $4.99). Jacek Michalak se 121 skilderye van Böcklin is reeds sedert 2012 op Kindle beskikbaar; ook teen $4.99. Ek stel al lank in die Switser Böcklin (1827-1901) belang, maar dit is moeilik om boeke oor hom en sy werk in die hande te kry. Hy was teen die einde van die 19de eeu die bekendste skilder in die Duitssprekende lande, al het hy verkies om eerder jare lank in Italië te woon, deels omdat sy vrou Italiaans was. Hy was by uitstek 'n olieverf- en landskapskilder met Isle of the dead (1880-1886), waarvan minstens vyf weergawes bestaan het, as sy bekendste skilderye. Hy het hierdie werke na die dood van sy dogtertjie, Maria, geskilder.
Böcklin het dikwels 'n fantasiewêreld soortgelyk aan die Pre-Rafaeliete opgetower. Dante Rossetti (1828-1882), wat ek hierbo noem, se werk is in dieselfde idioom (SêNet 11.06.2013). Böcklin se standpunt was dat skilderye die kyker moet laat droom en meevoer op 'n wyse soortgelyk aan gedigte en (klassieke) musiek. Om hierdie rede wou hy nie titels aan sy skilderye koppel wat die kyker se verbeelding kniehalter nie. Die Engelse skilderytitels wat ek gebruik, het mettertyd as vertalings van Duitse beskrywings in die literatuur te voorskyn gekom.
Op 'n soortgelyke manier wou Gustav Mahler (1860-1911) hê dat sy musiek vryelik tot die hoorder spreek, gevolglik het hy verkies om geen program ter verduideliking van sy musiek beskikbaar te stel nie. Reeds in 1893 het Mahler in 'n brief gerig aan Gisela Tolney-Witt na Rafael (hierbo genoem) en Böcklin verwys. In 1903 was Mahler in Basel, die geboorteplek van Böcklin, om sy 2de simfonie te dirigeer. Hy het toe in 'n brief aan sy suster, Justine, genoem dat hy tyd gaan inruim om na skilderye van Böcklin en Holbein (ook hierbo genoem) te gaan kyk. Die Basel-museum is steeds die beste plek om Böcklin se skilderye te sien, insluitende een van die beste weergawes van die Isle of the dead.
Toe Mahler sy 2de simfonie (voltooi in 1894) gekomponeer het, het hy 'n foto van Böcklin se St Anthony of Padua's sermon to the fish (1892) bokant sy klavier gehad. Tussendeur het hy ook dele van sy sangsiklus Des Knaben Wunderhorn gekomponeer. Een van hierdie liedere het as titel: Des Antonius von Pradua Fischpredigt. Toe Mahler sy 4de simfonie (voltooi in 1900) gekomponeer het, was sy inspirasie vir die tweede deel, die scherzo, volgens sy vrou Alma, Böcklin se Self portrait with death playing fiddle (1872). Dat Böcklin en Mahler (deels) geesgenote was, blyk moontlik uit die feit dat Böcklin die filosoof Ludwig Feuerbach (1804-1872) in Düsseldorf geken en Mahler Feuerbach se wysgerige werke gelees het.
Dat Mahler in Hans Holbein die jongere (1497-1543) se kunswerke belang gestel het, is maklik om te verstaan. Holbein is veral bekend vanweë sy reeks van 41 houtsneë oor die dodedans (Frans: dance macabre; Duits: Totentanz). Mahler was met die dood gepreokkupeer. Dit vind aansluiting by Böcklin se pasgenoemde selfportret. Die beste bron wat ek oor Holbein se dodedans het, is The Dance of Death: A complete facsimile of the original 1538 French edition (New York: Dover, 1971, 146p).
Naas Mahler het Böcklin se skilderye minstens vier ander komponiste geïnspireer. Sergei Rachmaninov (1873-1943) se simfoniese toondig Isle of the dead (opus 29, 1909) is seker die bekendste. Verder het hy sy Prelude in B mineur (opus 32, no 10, 1910) gekomponeer na aanleiding van Böcklin seHomecoming (1887). Max Reger (1873-1916) het in 1913 vier toondigte (opus 128) op Böcklin-skilderye gebaseer, naamlik The fiddling hermit (1884),Waves at play (1883), Isle of the dead en Bacchanal. Die Switser Hans Huber (1852-1921) se 2de simfonie (1901) staan as die Böcklin-simfonie bekend. Heel eerste was egter die Sweedse komponis, Andreas Hallén (1846-1925), met sy simfoniese toondig Isle of the dead (opus 45, 1898).
Die ander Tsaneva-boek wat ek aangeskaf het, is Carl Larsson: 112 masterpieces (2013, $4.99). Oor die Sweed Larsson (1853-1919) is dit makliker om boeke te koop te kry. Ek het Taschen se Carl Larsson: Watercolours and drawings (1994, 96p) en Carl Larsson: 30 postcards (1993), asook Larsson se Our Home (1976) en Our Farm (1977), pragtig in groot formaat (235 x 305 mm) uitgegee deur Methuen in Londen. Daar is 'n derde titel in hierdie reeks, Our Family, wat ek nie het nie. Uit hierdie inligting blyk twee kenmerke van Larsson se werk: dat hy by voorkeur waterverf gebruik en graag huislike tonele geskilder het; bv hulle huis, plaas, sy vrou en agt kinders. Hy slaag daarin om 'n idilliese atmosfeer te skep. Sy skilderye het 'n diepgaande invloed op huisversiering gehad.
Die beskikbaarstelling van skilderye via elektroniese publikasie kan met ernstige tekortkominge gepaard gaan. Ek is by die gebruik van die bogenoemde twee Tsavena-publikasies op 'n Kindle PaperWhite aangewese. Dit beteken dat die skilderye in swart en wit is, terwyl kleur so belangrik by veral Larsson se werke is. Hierdie leesmasjien het 'n 6 duim (15 cm) skerm, wat eintlik te klein is om werklik reg aan die meeste skilderye te laat geskied. Gelukkig is dit moontlik om die beeld te vergroot om detail beter waar te neem. Dit is ook moontlik om die beligting te verstel. Dit kan as twee voordele bo gedrukte skilderye beskou word.
Op my Kindle kan ek net portretmodus (groter hoogte as breedte) gebruik, terwyl skilderye hulle meesal eerder tot landskapmodus (breedte groter as hoogte) leen. 'n Tabletrekenaar, soos die Kindle Fire, wat maklik van die een na die ander modus verander, behoort beter as my leesmasjien te vaar. Met so 'n rekenaar en party leesmasjiene het 'n mens ook die voordeel van kleurreproduksie. In hierdie konteks is die kernprobleem met my Kindle dat dit vir die lees van teks ontwerp is en nie vir die reproduksie van (kleur)illustrasies nie. Dit is waarom ek aan die begin gesê het dat hierdie elektroniese publikasies moontlik bloot 'n aanduiding van skilders se skeppingswerk gee.
Pleks van Tsavena se publikasies aan te skaf, kan dit meer bevredigend en goedkoper wees om na 'n webwerf soos art.com te gaan. In die geval van Böcklin sal u opmerk dat sy Isle of the dead soortgelyk is aan Island of the living/life asook Villa by the sea. Van al drie hierdie temas bestaan daar verskillende weergawes. In die geval van Larsson is sy Flowers on the windowsill (1894) vir my die treffendste.
Johannes Comestor

