Margie van die seminary: Verhale vol deernis

  • 0

Margie van die seminary en ander verhale
Winnie Rust
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798156004
Prys: R165.95

Klik hier en koop Margie van die Seminary en ander verhale nou van Kalahari.net!

Winnie Rust se Margie van die Seminary en ander verhale vertel kortliks die verhale van ses verskillende vroue wie se lewens vervleg is met Wellington se geskiedenis en die Seminary waar die opleiding van onderwyseresse op Wellington begin het.

As inwoner van Wellington vir die afgelope dertig jaar, en iemand wat betrokke is by die opleiding van onderwysers, is ek daagliks bewus van die belangrikheid van die historiese figure en geboue wat ons hier omring en die geskiedenis wat hoorbaar asemhaal in die middedorp. Vanuit hierdie perspektief was Winnie Rust se fiksionalisering van die geskiedenis van hierdie ses vroue soos die afluister van familiestories wat deur die grootmense in die kombuis vertel word. ’n Resensie oor hierdie boek sou dus altyd vir my tweeledig moes wees: ’n subjektiewe belewing van die stof en ’n meer afstandelike beskouing van die struktuur van die bundel en verhale.

Die verhale van Winnie Rust se eie moeder, Margery van der Merwe (1908-2005), Elizabeth Rolland (1813-1901), Emma Murray (1833-1905), Celestine Schoch (1802-1880), Abbie Ferguson (1837-1919) en Louisa (1901-1992) is die verwerking van persoonlike ervaring, historiese bronne, dagboeke, briewe, notas en vertellings, asook ’n gesonde skeut verbeelding van die skrywer. Hierdie fiksionalisering van die ervaring, geskiedenis en opgetekende bronne geskied deur middel van verskillende tegnieke. Rust maak onder andere gebruik van verskillende vertellers en fokalisators en verwys ook duidelik herkenbaar na haarself as die konkrete/reële outeur. Sommige verhale, soos die een oor haar moeder, gebruik twee ek-vertellers, terwyl ander wissel tussen karakter-fokalisators en ’n wisseling tussen die derdepersoonsverteller en interne monoloog waar die karakter se eie gedagtes en emosies direk weergegee word. Die wisseling in dialoog en vertelling, Engels en Afrikaans, bied verdere oortuigende en funksionele variasie. Opvallend is ook die gebruik van dogters en kleindogters om die verhale van hul moeders en grootmoeders op die een of ander wyse aan die skrywer-karakter bekend te stel.

Ander tegnieke wat sy gebruik om die historiese rekonstruksie mee af te wissel is die gebruik van dagboekinskrywings, direk in Engels of vertaal, briewe, datums by vertellings, en die besinning van die navorser-verteller. Daarmee gepaardgaande word die leser ook oorgelaat aan die skrywer se verbeeldingryke invul van die leemtes, wat onvermydelik in die beskikbare bronne bestaan, asook die verandering aan historiese gegewe waar dit die verhaal en die samestelling van die bundel beter sou pas.

Die leser maak kennis met ’n jong Margery wat nie seker is of sy met die regte man trou nie, en haar (fiktiewe) opleiding aan die Seminary, en volg haar lewe deur die oë van haar dogter (en ook haar eie ek-vertelling) tot aan die einde; Elizabeth Rolland se lewe saam met haar man, Sameul Rolland, sendeling in die Oos-Vrystaat; Emma Murray se Bloemfonteinjare saam met haar man, Andrew Murray, en haar klavier as borswering teen ’n onbeskaafde binneland; Celestine Schoch se belewenis as deel van die Wederdopers in Europa en Wellington; Addie Ferguson se herinneringe aan die eerste meisies in die Seminary en die totstandkoming van die sterrewag; en les bes die eietydse verhaal van Edith, Louisa en die verlies van ’n man en ’n seun.

Die skrywer slaag egter daarin om baie meer te doen as om net ’n beeld van hierdie vroue se lewens en die geskiedenis van veral Wellington in kort tydperke te herkonstrueer. Sy slaag ook daarin om ’n leefwyse oor te dra, meer as ’n eeu se leefwêreld van die vrou en die opofferinge wat daarmee gepaard gegaan het. Dit is die optekening van die sogenaamde “klein geskiedenisse”, ’n herbevestiging van die geskiedenis van die “gewone” mens – alhoewel ’n mens ná die lees van hierdie verhale huiwer om van hierdie vroue as “gewone”’ mense te praat.

Die spesifieke aard van hierdie vertellinge is uiteraard geneig tot ’n subjektiewe skryfwyse, maar die subjektiwiteit bly binne die kader van ’n deernisvolle kyk na die betrokke karakters en die besinning van die skrywer oor die aard van elkeen se besondere lewe. Dit is trouens een van die kenmerke van hierdie boek: die poging om tot begrip te kom van hierdie verskillende lewens, om die aard van ervarings te probeer verbeel, om die totale belewenis binne ’n tydperk in die geskiedenis van ’n dorp en ’n lewe vas te lê.

Ten spyte van die feit dat die verhale van die ses verskillende vroue oor verskillende tydperke heen strek, is daar tog besondere eenheid in die bundel. Die herkenbare ruimte van Wellington en die Seminary staan sentraal, maar daar is ook die herhalende verwysing na historiese geboue wat reeds verdwyn het, soos die White House en die sterrewag, en ander wat nog steeds in gebruik is by die opleidingsinstansies, soos die Goodnow Saal, Murray Hall, Holyoke en Huis Cummings.

Deurlopende motiewe soos die verwysing na grafte, foto’s, die museum, uitmergelende reise oor die see of na die binneland, musiek, die klavier, ook die ervaring van die huwelik en direkte skakel tussen karakters, dra verder by tot ’n verbintenis tussen die vertellinge. Die navorser-verteller se direkte beskrywing van haar skryfervaring en besinning oor elke lewe, asook ’n herkenbaar herhalende struktuur vir elke vertelling, dra verder by tot die vermyding van ’n fragmentasie wat altyd ’n gevaar vir so ’n onderneming sou wees.

Vir hierdie Wellington-leser was dit heerlik om weer die geskiedenispad saam met die karakters te stap, nuwe brokkies oor bekende bakens te hoor, met ander oë na die geboue te kyk, die skilderye van Miss Bliss en Ferguson in die Goodnowsaal weer te gaan besoek, te wonder oor wanneer Cummings weer ten volle herstel sal wees …

Ek het veral die verhale oor Margie, Elizabeth Rolland, Emma Murray en Addie geniet. Miskien omdat ek meer daarby betrokke gevoel het en die gevoel gekry het dat die skrywer ook met meer betrokkenheid daaroor geskryf het. Maar dít is slegs ’n persoonlike ervaring.

Uiteindelik laat die boek die leser met dieselfde besef as die skrywer: op ’n dorp soos Wellington leef ons elke dag saam en in die geskiedenis; en “Die lewe is maar ’n dag lank, ons moet dit lewe.”

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top