Margaret Bakkes

  • 0

Vir haar huldigingsfunksie in haar 80ste lewensjaar, by die Woordfees Stellenbosch, 7 Maart 2011

Ek onthou vir tannie Margaret sedert my laerskooldae, meer as 40 jaar gelede. Sy en oom Cas en hulle vier kinders het einde 1969 in Pretoria kom woon. Tannie Margaret het sedert kort na hulle aankoms in Pretoria die ereplek van my ma se “beste maatjie” beklee. En synde die oudste dogter van die seer geliefde en legendariese Elize Botha was ek altyd diep onder die indruk van die belangrikheid, selfs onontbeerlikheid, van vriende en sielsgenote om werklik sin aan die lewe te gee. Naas “hard werk” en jou “plig doen” van my pa se kant was die imperatiewe om te lees, met vriende te kuier (en veral oor boeke te praat) en die lewe te geniet van my ma se kant die lewensreëls in die Botha-huishouding. En ek dink dis dié perfekte belyning met hierdie reëls wat tannie Margaret so vinnig haar plek laat vind het in ons binnekring.

Van aanskyn is Margaret ’n formidabele verskynsel – lank en lenig, met ’n welige bos dieprooi hare wat altyd stylvol in toom is. Sy’s altyd uiters smaakvol aangetrek, meestal in ryk rooie, bruine of swart, met kleurvolle serpe of krale wat my aan die versierings van Bybelse vroue of Afrika-dansers laat dink. Sy’t ’n aristokratiese neus, ekspressiewe hande en lang tone, wat mens nie kan mis nie, omdat sy so graag kaalvoet loop, en selfs dán stylvol lyk. Sy beweeg met die grasie van kameelperde wat soos eksotiese lang blomme oor die grasvelde van Afrika galop. Margaret sit nie graag stil nie – sy’s ’n dinamiese vrou in die ware en letterlike sin van die woord – maar wanneer sy stilsit en luister (wat sy ook goed doen), is dit bewegingloos, soos die bidsprinkaan, en met dieselfde enigmatiese voorkoms.

Ek het haar kinders, ’n paar familielede en vriende gevra hoe hulle Margaret sou beskryf, net om my eie indrukke te spieël: die beeld is totaal konsekwent. My pa (Johan Botha, een van die slimste mans wat ek ken) beskryf Margaret as kreatief, iemand wat die wêreld om haar skerp aanskou, en sinvolle en intelligente opmerkings daaroor maak; my geliefde Jomarié sê tannie Margaret is “feisty”, jonk van gees – ’n mens sal nooit sê sy’s eers náby tagtig nie; sy’s ongelooflik wyd belese en ’n inspirasie met haar kennis van boeke en flieks; ’n ander jare lange vriendin van Margaret in Pretoria, Vilma Grobler, beskou haar kwaliteite as vriendin as haar sterkpunt - Margaret se lojaliteit teenoor haar vriende, haar emosionele betrokkenheid by hulle, dat jy altyd op haar kan staatmaak, en haar meelewing, is alles regtig besonders. Ander woorde wat mense gebruik om haar te beskryf is “dinamies”, “werkywer”, “alles feil vir haar gesin”, en “’n kleurvolle mens”. Kabous Meiring sê Margaret is sexy en elegant en het ’n mooi stem.

Haar skoondogter Nancy sê ook sy’s ’n dinamiese vrou, ’n vasvatter, niks kry haar onder nie. As iets haar ontstel, sal sy vir ’n oomblik weifel, maar dan dadelik weer haar rug reguit maak, die probleem uitsorteer en met die lewe aangaan. En dan altyd later met humor terugkyk na die moeilike tye. Nancy sê ook as dit nie vir Margaret was nie, was sy lánkal nie meer met haar ou seuntjie getroud nie (vat so, Johannes!). Daar’s min skoonmoeders vir wie die balans op hierdie manier uitval.

Die temas vriendskap, lojaliteit, beginselvastheid en steunpilaar loop deur al die kommentaar.

Margaret is al vir 57 jaar met Cas Bakkes getroud. Wat my opval van die twee mense saam, is die respek waarmee hulle mekaar behandel, selfs al is hulle so ooglopend verskillend in allerlei opsigte. Aan die grondslag daarvan lê waarskynlik ten diepste ’n stel gedeelde waardes soos lojaliteit, eerlikheid en beginselvastheid, wat dan versier word met gedeelde belangstellings soos lees en reis. Wat ook al die grondslag, die uitlewing daarvan in hulle samesyn is bewonderenswaardig, daar in hulle smaakvolle huis, vol van mooi kuns en matte in die ryk kleure wat Margaret se persoonlikheid weerspieël. Oom Cas vertel dat toe hy die eerste dag in die kerk sy weduwee-moeder se nuutste loseerder van ver beskou het, hy teleurgesteld was dat sy ma nie ’n mooier meisie vir hulle kon kry nie, maar hy het die volgende môre by ontbyttafel sy woorde en gedagtes gesluk toe hy die vorstelike Margaret van naby beskou en met haar begin gesels.

Maar ons is vanaand hier om Margaret ook as skrywer te huldig. Sy is ’n ongelooflik flukse en produktiewe skrywer. Honderde kortverhale en vervolgverhale, 34 bundels en boeke van haar is die afgelope 56 jaar gepubliseer. En dit alles terwyl sy daarmee saam die ware matriarg van ’n baie besige gesinslewe was.

Margaret is in 1931 op Sterkstroom in die Oos-Kaap gebore, trek in 1949 Pretoria toe om as klerk by die vertaalburo te gaan werk, en daarna van 1950 tot 1954 BA Onderwys te studeer en kunsgeskiedenis op honneursvlak. In 1954 trou sy met Cassie Bakkes en rig vir hulle ’n smaakvolle huisie in, daar in Hatfield in Pretoria. Na twee jaar trek hulle Stellenbosch toe, waar Cas by die Militêre Akademie dosent word, en waar Johannes in 1956 gebore word. Net daarna sit hulle weer af na die Militêre Akademie in Saldanha, waar sy weer moet huis opsit, en daar begin sy skryf. Haar ander drie kinders, Marius, Matilde en Christiaan, is in Saldanha gebore. In die tyd op Saldanha beleef sy van die groot hartsere en swaarkry in haar lewe – ’n ongebore kind wat sy verloor en ’n titaniese stryd teen kanker waarvan sy wonderbaarlik, maar met ’n geweldige stryd, genees. Die prognose was dat sy ses maande het om te leef, maar soos Nancy seg, haar skoonmoeder laat haar deur niks onderkry nie.

Haar eensaamheid as kind in koshuise, as jong getroude vrou op Stellenbosch en as jong moeder in Saldanha het sy grotendeels met boeke besweer – eers deur dit net te lees, en dan later deur dit te skryf – en so is ’n groot en gewaardeerde talent in die Afrikaanse letterkunde ontwikkel. Wat ek spesifiek van Margaret bewonder, is die parallelle wêrelde wat sy vir haarself en vir ons, haar lesers en bewonderaars, geskep het, terwyl sy besig was om ’n vol lewe as eggenoot, tuisteskepper en moeder te lewe en haar plek meer as vol te staan in al daardie rolle. En dis die manier waarop sy haar skerp waarneming van die lewe en van mense, haar ervarings as ’n baie entoesiastiese reisiger, en haar belesenheid, alles inspan en verweef om haar boeke sulke ryk ontdekkingsreise vir ons as lesers en dan medereisigers te maak.

Margaret is een van die min ouer skrywers wat gesag en bewondering by jong lesers afdwing, en generasies van bewonderaars daag op by geleenthede waar sy praat of waar daar oor haar werk gepraat word. Dis haar skerp waarneming en weergawe van die lewe in haar stories wat sy so meesterlik vertel wat ons almal fassineer. En dit doen sy nou al vir vyf en ’n half dekades lank, met volgehoue toewyding en dieselfde hoë standaarde.

En dan, omdat ek van die volgende generasie is en haar kinders my vriende en tydgenote is, bewonder ek haar oor hoe sy haar kinders grootgemaak het. Ja, die seuns is woes, maar elkeen van hulle en sus Matilde in Kanada is begaafd en vry om hulle talente en passies uit te leef. Ek dink ’n sekere gebeurtenis in Matilde se huis toe hulle nog in Waterkloof gewoon het, en Margaret dikwels natuurlik by haar dogter kon gaan kuier, was amper vir Margaret ’n waterskeiding. Margaret het ’n kakkerlak probeer doodtrap wat oor die kombuisvloer geskarrel het, en Matilde het vir haar gesê: “Los die kakkerlak, Ma, dis my huis en my kakkerlak.” Margaret het besef dat haar kinders onafhanklike wesens is, wat die fondamente het wat sy en Cas vir hulle help lê het, maar dat hulle self daarop moet voortbou.

Hoor wat sê hulle elk van hulle moeder:

Johannes skryf in die stuk getiteld “Putsonderwater” in sy rubriek in Rapport: “My ma het nog altyd ’n moerse invloed op my wel en weë en gemoedstoestand gehad. Ek het geglo as sy gelukkig is, dan’s ek ook [...]. Dis die naelstring-ding, maar ook het sy ’n helse invloed op my ménswees gehad. Dis sy wat my van die dieperdroom vertel het. Dis sy wat vir my ander wêrelde as die normale laat verstaan het. Haar swaar van terminale kanker, reg gebid soos Hiskia van ouds, het haar ’n lewensskerpte laat ontwikkel. Of dalk was dit altyd daar.

“As kind was my ma langs my sportvelde. Aristokraties het sy bokkerol van rugby geweet, maar sy was daar. Sy’t stukkende ledemate gelap en emosioneel bekommerd oor klein, vir-haar-nie-verstaanbare dinge geraak. Ek weet ook toe ek as agtjarige in Wynberg Militêre Hospitaal in ’n koma gelê het, was sy maande permanent langs my bed. Ek was haar eerste.”

Marius, wat in Mpumalanga woon, vertel ’n tekenende verhaal van moedersorg, oor hoe sy ma hom van die gereg help wegsteek het. Hy moes een aand ’n halwe skaap by haar gaan haal nadat hy by ’n ete was, maar dit het laat geword en hy het nie dóódgestop by die stopstraat op die bult bo die huis nie. Hy skryf: “Skielik was dis net spietkops en flitse. Siende dat ek reeds op vaart was met ma se huis net bult af en om die hoek , besluit ek toe maar om deur te druk.

“Gelukkig was dit ook die tyd voor te veel elektriese rolhekke en ma s’n het oopgestaan en ek jaag in die oprit af tot by die voordeur. Sy’t seker die kar gehoor en verskyn in ’n lang kamerjas in die skemer van die portaal agter die hek.

“‘Maak oop, maak oop. Die polisie is op my gat,’ het ek benoud geroep.

“‘O, jirretjie, ek verwag dit al lankal,’ sê sy verskrik maar met die onmiskenbare klank van ’n waarsegster in haar stem. Sy sluit oop - veel ratser as gewoonlik - en laat my in. Ons wag al twee bevrees dat hulle aan die deur moet kom klop. Niks gebeur nie. ‘Hulle wag jou in,’ sê sy met ’n stem wat klink of sy weet van dié klas ding.

“Ma het nou ’n samesweerder geword. Sy rapporteer dat hulle voor in die straat op my staan en wag. Ma het my sitgemaak en ’n kan sterk koffie gaan opsit – en elke dan en wan weer gaan kyk of die gereg nog daar buite op my wag. Eers toe alles heeltemal veilig skyn te wees, het sy my laat ry.”

Christian skryf uit Damaraland dat hy nog nooit ’n vrou gesien het wat so lief is vir haar kinders nie. Soos die spreekwoordelike leeuwyfie sal sy haar kinders beskerm, soms tot die punt van verleentheid en irritasie vir haar welpe, maar met kinders soos hare, hoe kan sy anders?

Christiaan se vrou, Emsie, wens dat sy soos haar skoonma sal oud word: haar kar flink deur die verkeer bestuur, oorsee gaan kuier, juwele aanskaf, koffiewinkels en Exclusive Books besoek, Cinema Nouveau-rolprente kyk, tot laatnag met vriende en geliefdes sit en kuier en elke dag nog nuwe dinge leer.

Matilde sê daar uit Kanada: “My ma kan baie ongelukkig raak oor sekere dinge, maar aan die ander kant vat dit bitter min om haar gélukkig te maak! Gee haar net 'n gemmerkoekie en 'n koppie tee, 'n goeie boek of rolprent, 'n mooi stuk musiek, 'n nuwe rooi kussing, 'n kaal stuk lap om iets op te borduur ...

“As kind was ek gereeld by familie of vriende gelos wanneer my ma "oorsee" moes gaan navorsing doen vir 'n nuwe storie wat sy sou skryf. Na konstante geneul het my kans einde standerd nege gekom om vir ses weke deur Europa te toer saam met haar, my pa en my kêrel. Dit was die begin van vele toere saam vir die vier van ons: van New York tot Vancouver, die Rocky Mountains tot die Andes-gebergtes. En orals waar ons kom, dink mense dis so gaaf van my en my man Francois om die oumense saam te vat op vakansie. Maar dit was eintlik andersom: my ma se entoesiasme vir nuwe ervarings maak haar die grootste pret om mee saam te reis: sy sal die meeste dinge een keer probeer.

“My slaapkamer se venster en die venster van die stoepkamer waar my ma haar stories laatnag uitgetik het op haar ou tikmasjientjie was so skuins oorkant mekaar. Die stoeplig en getik van haar masjien was gerusstellend en het my altyd veilig en geborge laat voel terwyl ek aan die slaap raak.”

Tannie Margs, saam met jou kinders, jou vriende en familie, jou lesers, nóú en in die nageslagte, huldig ons jou as skrywer, vriendin en bowenal, ’n besonderse mens. Geseënd is jy onder die skrywers en vroue.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top