
Die afgelope Saterdag en Sondag, op 1 en 2 September, was dit die sesde aflewering van Manuscripta op die Westergasfabriek se terrein in Amsterdam. Die Europese literatuurprys is uitgereik aan die Engelse skrywer Julian Barnes en die ses finaliste vir die NS Publieksprys is bekend gemaak. Meer as agtduisend besoekers het Manuscripta bygewoon. Daarmee was dit die opening van die nuwe boekeseisoen. Die tradisionele komkommertyd in die boekewêreld is verbreek. Nou word dit weer tyd vir boekaankondigings, boekbesprekings, boekvoorlesings en talle ander aktiwiteite rondom boeke en skrywers.

Maartje Bolt het in die stalletjie van Uitgewery Podium verduidelik hoe die huidige tydgees waarin boeke verkoop moet word, hanteer kan word. Dit is en bly ’n moeilike taak: “Daarom moet je zorgen dat er iets om een boek heen gebeurt, zodat het een buzz veroorzaakt.” (Trouw, 3 September).
Maar aan ’n “buzz” veroorsaak rondom ’n nuwe boek steur Eva Cossee van Uitgeverij Cosseehaar nie baie nie. Volgens verslaggewer Joost van Velzen in dieselfde uitgawe van Trouw adverteer Cossee haar boeke soos altyd in die verlede en gaan dit goed by dié uitgewery. Wat is haar geheim? “Schoenmaker, blijft bij je leest. Ontwerp je omslagen zo dat ze kwaliteit uitstralen.” Daarmee suggereer sy baie in hierdie tyd waarin ’n beeldkultuur die botoon voer.
Die einste beeldkultuur veroorsaak dat televisie, bioskoop en internet die grootste vorm van kompetisie vir die boekewêreld inhou, as mens dit nie ’n bedreiging wil noem nie. Sosiale media soos Facebook en Twitter moet help om ’n nuwe leserspubliek te werf of om ’n bestaande leserspubliek te aktiveer. ’n Foto van ’n nuwe boekomslag of ’n skrywer wat sy nuutste boek teken op Facebook, is goud werd vir die verkope. Die mees ironiese plakkaat op Manuscripta het vir die publiek gevra om die “I like”-knoppie op Facebook te druk om sodoende ’n eReader te wen!
Ten spyte van alle moderne afleidings wat mens kan weerhou om te lees, word nog steeds ’n magdom nuwe publikasies vir die volgende ses maande aangebied. Hier volg ’n paar aankondigings uit verskillende genres.
Enkele romans
Die Nederlanders vergeet nie hulle ouer skrywers nie, want twee van De Grote Drie belangrikste na-oorlogse skrywers het publikasies in Oktober by De Bezige Bij:
WF Hermans met Volledige Werken, Deel 4 en Harry Mulisch met Logboek. Nog ’n goue oue wat nuwe werk gaan publiseer, is die Vyftiger Remco Campert (1929). Het verband tussen de dingen ben ik zelf kom uit by De Bezige Bij.
As Afrikaanse lesers die naam Tommy Wieringa hoor, dink hulle waarskynlik aan sy veelvuldig bekroonde roman Joe Speedboot uit 2005, wat ook in Afrikaans vertaal is. Nou kom hy in Oktober uit met Dit zijn de namen by De Bezige Bij. Dieselfde geld vir Annelies Verbeke. Wie haar naam hoor, dink dadelik aan Slaap! uit 2003. Haar nuwe roman is Veronderstellingen by De Geusin. Die meeste uitgewers doen soveel moontlik boekbekendstellings in September en Oktober met die oog op die komende Kersmark.
Enkele digbundels
Die vaderlandsdigter Ramsey Nasr se bundel Dichter Draagt Voor wordvroeg volgende jaar uitgegee by De Bezige Bij. Dit lyk hiermee asof De Bezige Bij die boekemark oorheers, maar dis nie waar nie. Wat wél waar is, is dat hierdie uitgewery een van die groot literêre uitgewers is wat Nederlandse skrywers ondersteun. Daar is ’n magdom ánder uitgewers wat literêre sowel as nieliterêre publikasies die lig laat sien. Wie ken byvoorbeeld nie Querido nie? By hulle sal Autobiografie tot op de dag van vandaag verskyn van Arjen Duinker: “een lang, onstuimig, ingetogen en warmbloedig gedicht waarin hij op zoek gaat naar zichzelf – of doet alsof” (NRC-Handelsblad, 31 Aug.) De optocht van Toon Tellegen, die digter wat soos geen ander weet hoe om die grens tussen die kinder- en volwasse wêreld te verskuif, sal ook by Querido verskyn. Daar is ’n magdom ánder uitgewers wat literêre sowel as nieliterêre publikasies die lig laat sien.
’n Belangwekkende Biografie
JC Kannemeyer se biografie oor JM Coetzee kom postuum uit by die standvastige Uitgewery Cossee. Met ’n publikasiedatum in November haal JM Coetzee. Een schrijversleven die stormloop voor Kersfees net betyds.
Vertalings
Die voordeel vir die Afrikaanse leser van Nederlandse letterkunde is dat ’n universum aan vertaalde werk uit ander Europese tale in sy skoot val. Die Nederlandse mark is bekend vir baie en goeie vertalings en die stroom word nie onderbreek nie, ondanks die ekonomiese krisis. Uit Frans verskyn ’n hervertaling van De vreemdeling van die Franse eksistensialis Albert Camus. Camus het ons eie Jan Rabie geïnspireer. Ander publikasies is byvoorbeeld: uit Portugees Paulo Coelho (wat in Brazilië woon) met Manuscript uit Accra; uit Spaans Edoardo Mendoza met De neergang van Madrid; en uit Duits die in Roemenië gebore Nobelpryswenner Herta Müller met Lage streken. Ander wêreldbekende skrywers wat vir dié publikasierondte vertaal is, is onder andere die Noor Lars Saabye Christensen met Saabyes Circusen die Switser Charles Lewinsky met Terugkeer ongewenst.
Wat vreemd is vir ’n Suid-Afrikaanse leser is dat soveel Engels vertaal word. Vir die Engelse boekemark geld Nederland as ’n provinsie vir hulle verspreiding, want baie Nederlanders lees Engels. Maar nog méér Nederlanders lees liewers die Nederlandse vertaling as die oorspronklike Engelse roman. In my eie klein leeskringetjie van ses was ek die enigste wat byvoorbeeld Indignation van Philip Roth gelees het. Die ander het Verontwaardiging gelees.

Pryse
Hierdie tipe lesersgedrag kom ook na vore in die toekenning van die Europese Literatuurprys tydens Manuscripta, wat eintlik ’n gewone Nederlandse prys is vir vertaalde fiksie. Julian Barnes en sy vertaler Ronald Vlek deel die prys vir Alsof het voorbij is (The sense of an ending uit 2011). Net soos in sy ander romans is dit persoonlik geskryf met ’n lig ironiese toon in sy pogings om die gapings tussen die hede en verlede in te vul. Saam met hierdie toekenning verskyn ook Barnes se Uit het raam. Dit is ’n essaybundel wat saamgestel is uit stukke wat hy geskryf het in The Guardian en The New York Review of Books.

’n Ander aktiwiteit wat op Manuscripta begin het en waaraan duisende Nederlandse lesers deelneem, is die bekendstelling van die ses genomineerdes vir die NS Publieksprys. Dit is AF Th van der Heijden met Tonio (oor sy oorlede seun), sportverslaggewer Mart Smeets met De Lance Factor, taalfynproewer Paulien Cornelisse (bekend vir Taal is zeg maar echt mijn ding uit 2009) met En dan nog iets, Suzanne Vermeer met Noorderlicht, Simone van der Vlugt met In Mijn Dromen en Esther Verhoef met Tegenlicht. Verhoef het verlede jaar hierdie prys van 7 500 euro en ’n jaarkaartjie vir treinry in die eersteklas by die NS gewen met Déjà Vu.
Vir ses weke lank, tot op 15 Oktober, kan die publiek hulle gunstelingboek uit hierdie lysie kies en daarvoor stem – selfs deur te SMS. Op dié manier word leeslus by die breë publiek aangewakker. Verlede jaar het 66 000 mense gestem. Daarmee het Manuscripta sy werk vir die nuwe leesseisoen gedoen.

