Manlike hoofskap?

  • 7

Angus Buchan en sy prediking omtrent die man as hoof, priester en profeet is redelik onder bespreking die afgelope tyd hier op LitNet.

Buchan spreek homself sterk uit oor die Bybelse voorbeeld en rol van die man in die huwelik asook samelewing. Buchan se standpunt word gesien as konserwatief wat oorleun na fundamentalisme. Die stelsel wat hy aanhang as ’n ‘sagte patriargie’. Die vraag is egter: het hierdie prediking van hom ‘n positiewe invloed op ’n huweliksverhouding of word dit gesien as onderdrukking van die vrou?

Net vrouens vanuit ’n werklike huweliksopset kan hierop reageer. En nie bekende kommentators, mansfigure of joernalis nie. Maw, die een wat die werklike empiriese van ’n ongelukkige huwelik deurleef het, kan meer akkurate terugvoering bied. Maretha Maartens wat gevra is om ’n mening oor Buchan se aanslag, het prontuit verklaar haar styl is nie-charismaties, wat self verklaar hoekom sy nie Buchan se boeke dus sou koop. Verder stel sy ook nie belang daarin om medegelowiges te bestudeer of hul styl. Haar aanslag is egter baie wys en erken sy tog dat huwelike deur Buchan se prediking verander en vernuwe het. Die terugvoer vanaf die vrou in die werklike huweliksopset, wat voorheen onder ’n man moes leef wat nie hierdie waardes aangehang het, is al een wat akkurate feite kan oplewer.

Gedurende die naweek van 16 Maart 2013 het Buchan sy MMC gehou hier in ons Polokwane-streek. Duisende manne het opgetrek na die plaas buite die dorp, terwyl ons dames die pad gevat het na Pretoria vir dieselfde tipe kamp. (Ons was nie baie gelukkig met Franna Benade, wat gekies het om MMC te ondersteun met sy sang en musiek, en ons eintlik wees agter gelaat het. Hy het egter sy seun na ons gestuur. Hierdie jongman het heel senuagtig tussen die vrouegesigte arriveer, kitaar vasgeklem in hand. Maar ‘WOW’, wat ’n ondervinding in lofprysing en aanbidding. Hierdie jongman volg in pa se spore. Sy styl? Sagte patriargie wat sy verhouding met God uitstraal in sy musiekbediening.)

Maartens praat van ’n “spiritueel-emosionele faset” wat Buchan se prediking aanraak. Ek wil iets byvoeg en dit noem: “spiritueel-emosionele-intelligensie faset” van die huwelik wat aangespreek word. Ek glo vanuit gereelde maandelikse vrouekampe gehou, dat ek redelik bewus is van die oortuiging van vroueharte asook hul siening omtrent hierdie waarhede wat Buchan-verkondig. Hul getuienisse omtrent die manne wat by die huis kom en metamorfose ondergaan het na so ’n saamtrek! Dat hulle uit nuuskierigheid die vrouekamp kom bywoon om te sien en ondervind wat met hul manne gebeur het. En ook opsoek is daarna? Min weet egter of sal dit so neerpen, dat die goue sleutel tot hierdie sukses gevind word in die werklike aanneming van Jesus Christus as Verlosser en Saligmaker, asook die gees van die mens wat wedergeboorte deelagtig word. Maw ’n nuwe mens met ’n nuwe gees. ’n Heel nuwe man voor God en natuurlik oor voor sy vrou.

Ek bevestig dus namens (die meeste) dames die volgende:

1. Vroue verkies dat die man die sterker een in hul huishouding moet wees. Die een wat die finale besluite kan neem.

2. Die vrou voel geborge onder ’n man wat leiding kan neem. So weet sy dat sy en die huisgesin op pad iewers heen is.

3. Vroue geniet dit as haar man galant optree, moedig is, positief bly en hoë standaard en morele waardes aanhang.

4. ’n Vrou wat haar man kan vertrou, sal haar alles aan hom oorgee. Sy wil nie onseker oor hom wees nie.

5. ’n Man wat sy vrou met sy lewe beskerm, sal ewig lof van haar ontvang, en dit ook so aan haar kinders oordra.

6. Ek stem saam Buchan dat indien ’n man wel sy manlikheid só uitleef, sal ’n vrou haar met graagte aan die man onderwerp.

7. Dat oortuigings oor bybelsgefundeerde gesinsverhoudinge stabiliteit, orde en dissipline in ’n huishouding inbou. Dit is dus nodig dat die man ’n voortgaande intieme verhouding met God sal hê.

Dit maak nie saak of hierdie beskouing van manlikheid en geslagsverhouding in die huisgesin as oud en konserwatief gesien word nie. Ek glo steeds aan die Bybelse voorskrif van orde in die familie, soos deur God voorgeskryf in Ef 5:22-33, wat ook die huislike pligte aanspreek in die huishouding.

Hoekom? Omrede dit ’n wenresep is vir enige huweliksprobleem. Menige vroue het al van hierdie kampe af beweeg, en hul manne se voete by die huis gaan was. Verskoning gevra dat hul die ‘broek’ in die huis oorgeneem het. Hul buite-egtelike verhoudings erken en bely. Besluit om ’n nuwe blaadjie om te slaan en hul huweliksbelofte weer ernstig op te neem.

Glo my, net soos Buchan die manne vasvat oor die dinge wat vroue nie van hou nie, so word die dames ook geleer dat die man nie hou van ’n ‘druppende kraan’ of ’n slordige onversorgde vrou en kinders wat nie respekte toon aan die vaderfiguur in die huishouding nie. Haar rol van onderdanigheid, bekleër van die man asook bystand word duidelik omskryf.

Sekere dames hou nie van hierdie idee van onderdanigheid nie. Soms dink ek ons verstaan dit heel verkeerd. Voor God is dit nóg man nóg vrou. In waarde staan ons gelyk voor God. Ons rolle in die huwelik verskil egter.

Sakkie Spangenberg lewer ook sy mening oor die artikel as volg: "In Buchan se teologie is daar nie ruimte vir bevraagtekening nie. Alles is klokhelder in die Bybel uitgespel. Daarom is daar ook nie ruimte vir ’n Margaret Thatcher, ’n Angela Merkel, of ’n Mamphela Ramphele nie. Dis vroue wat manlike rolle inneem en na regte teen die voorskrifte van die Bybel handel."

Ekself leef ’n rol uit as werker van God oor ’n gemeente en groepe, waar twee ander manlike leraars ook plaaslik betrokke is. My gesindheid teenoor hierdie manne van God was nog altyd ’n nederige en onderdanige gesindheid. Daarteenoor leef hul ’n gesindheid teenoor my uit van nederigheid asook respekte, soveel so dat ek soms dink ek dit nie verdien nie.

In my lewe as vrou, waar daar manlike agente onder my werksaam is, het ek nog nooit ’n probleem ondervind in my eie werksituasie nie. Verseker is daar ruimte vir ’n Margaret Thatcher of ’n Mamphela Ramphele. Solank jy Gods voorskrif uitleef van ‘respekte teenoor ALLE mense’ en die goue reël begryp van “wie homself verneder sal verhoog word” – soos in die Bybel voorgeskryf, sal jy ’n wenresep uitleef hier op aarde.

God haat hoogmoedigheid, ’n verharde hart en enige aanstellerigheid wat jy oor ander mense wil uitleef.

Oeps! Ek het punt nr 8 hierbo vergeet: “Vroue is mal daaroor wanneer hul wederhelf met sjokolade by die huis arriveer en ’n liefdeskaartjie wat tussen die rooi rose uitsteek ...”

Sterkte in jou huwelik.

Trienie Mahne

  • 7

Kommentaar

  • Chris Dippenaar

    Hello Trienie

    Daar moet seker maar meer as een goue reël wees. Jou “wie homself verneder sal verhoog word” is een wat ek al gehoor het, maar nie besef het dit is gemaak van goud. Wil jy nou meer, Nietzsche se slaafmentaliteit verhef tot 'n goue reël.

    Chris

  • Trienie, jy doen wanvoorstelling?

    Jy oortree die wet op gelykheid met jou teologie!!! Jy bevorder ook gesinsgeweld, want jou 'goue reëls' kom neer op oorkontrolerende gedrag! Dis waarmee res van gelowe se tradisies ook polisiemanne se lewe hel maak!

    Hans

  • Shame Trienie, so jy was/is in ongelukkige huwelik? Mens kwalifiseer jou eie stellinge en maak nie net veralgemings in openbare media nie! Onthou jou tent-fiasko, wat nes die Billy Graham revival gelyk het?

    Hans

  • Chris Dippenaar

    Hello Trienie

    Net om te wys dat ek nie met jou wil baklei nie:

    http://podacre.blogspot.com/search/label/Women

    Marc Goodacre is 'n historikus van die Nuwe Testament wat 'n paar idees het oor die rol van vroue in die NT wat jy dalk interessant mag vind.

    Sy benadering tot die Bybel verskil dalk baie van jou eie, maar hy is 'n regte 'gentleman', nie die buffel wat ek is nie. Ek dink dat dit dalk goed sal wees as jy 'n bietjie blootstelling kry aan wat gebeur in die akademiese veld van Bybelstudie.

    Chris

  • O, hierdie is vir my baie snaaks.   

     
    Dit is die 'vrou' wat moet onderwerp, maar die MANNE kerm oor Trienie se "goue reël"... en geen vrou lig haar opinie nie.   
     
    Ek het in my lewe een ding geleer... nee, twee. 
     1.        Die ou in rebellie wil nooit hoor dat hy in rebellie is nie en sal dit nooit aanvaar sou jy hom verwittig nie. 
     2.        Die ou wat in hoogmoed is, sal homself nooit verneder nie. Dit is net te veel gevra!   
     
    1 Kor. 11:17 praat dat die man die beeld en heerlikheid van God is; maar die vrou is die heerlikheid van die man. Dit was self maar vir my ’n seer les want ek wou heerlikheid tot God wees en nie tot ’n man nie. Ek het egter intussen geleer dat ’n vrou se heerlikheid tot God, deur haar man is.   
     
    Onderwerping is nie ’n Vloek nie. Dit is ’n Voorreg, want deur te onderwerp eer die vrou God se Skeppingsdoel, in haar eie heerlikheid, tot haar man. Hierin is diep ‘heerlikhede’ in opgesluit wat God behaag.  Die man of die vrou wat hierdie orde ontken en onteer... sal ooit die ‘heerlikhede’ van dit kan verstaan of daarin deel nie, want God gee dit slegs aan diegene, wie Hom in hierdie areas behaag. Net hulle wie onderwerp kan die heerlike vrug uit God se hart van tevredenheid pluk.   
     
    God deel nie Sy pêrels met varke nie. As jy dit nie waardig is nie, kry jy bloot nie die pêrel nie. Daar is pêrels in baie areas en onderwerping aan jou man is een so ’n area.   
     
    Wanneer die man God se liefde tot sy vrou uitleef en beoefen is daar op die aarde geen rede dat sy nie tot hom kan onderwerp nie. Dit is in totaliteit tot haar eie voordeel. Die ‘plesier’ op haar eie selfsugtige pad en in haar eie reg sal verseker nie so groot wees as die hemelse seëninge wat God op haar sal stort in haar gehoorsaamheid en eerbetoning aan Sy wil en wyse nie.   
     
    Hiermee stem ek met Trienie dat daar plek is vir vroue wat leiers-posisies inneem, maar nederigheid en onderwerping het nog nooit beteken dat mens op die grond moet rondkruip in ’n ‘askies-ek-lewe’ houding nie. Nederigheid en onderwerping is juis die plek waar God mens oplig, maar bitter min mense kan daardie plek bereik want hulle staan in eie reg, eiewaan, trots, hoogmoed en selfverheffing in hul self geskepte paradysies met hul self gevormde ‘god’ wat hulle aanpas na hul eie nukke en grille, giere en plesiere.   
     
    Hierdie selfverheffing en onderwerping dateer terug van die eerste dag af toe Eva, Satan se raad gevolg het en nie haar man eerstens in die saak geken het en hy op sy beurt God geken het nie. Groot gemors het gevolg! Wanneer gaan dit stop?  
     
    Laat my egter toe om ook te sê dat ek glo dat ’n vrou se onderwerping nie buite God se liefde moet geskied nie en dit is waar die skeiding tot die Polisie-probleme en Trienie se skrywe inkom. Dit is twee verskillende dinge en behoort nie in vergelyking gebring te word nie, want God se liefde van die eggenoot en God se onderwerping van die eggenote bring nie polisie-probleme voort nie, maar God se ongelooflike seën.   
     
    As jy dit nie het of ken nie, daag ek jou uit... gaan kyk of jy die pêrel kan kry.
     
  • Chris Dippenaar

    Hello Berdine

    Hier is iets wat snaaks is. Hoeveel keer het mens al gehoor dat Eva vir Adam verlei het reg aan die begin? Of soos jy dit stel: “Hierdie selfverheffing en onderwerping dateer terug van die eerste dag af toe Eva, Satan se raad gevolg het en nie haar man eerstens in die saak geken het en hy op sy beurt God geken het nie”.

    As jy Gen.3:6 lees lyk dit nie so seker nie: “Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy 'n lus was vir die oë, ja, 'n boom wat 'n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet”.

    Nou, vir my lyk dit asof Adam die hele gesprek tussen die slang en Eva gehoor het. Daar word nie vertel van 'n gesprek tussen die tweetjies nie. Adam was, net soos Eva, oortuig deur die slang se storie. Dit kan ook nie wees dat hy nie 'n woord gehoor het omdat hy al kwylend gestaan en staar het na Eva. Dis nie asof sy vir hom 'n ui kon aangee en dat hy dit sou kon eet omdat sy kop net op een plek is, as jy verstaan wat ek bedoel. Voor hy nie die vrug eet kom hy nie eens agter dat sy nie 'n draad klere aan het nie.

    Is daar nie 'n Afrikaanse gesegde wat sê die deler is net so skuldig as die steler? Is dit nie veral waar as die deler reg langs die steler staan en presies weet wat gaan vir wat?

    Onderhef jou aan jou man as jy dink die Bybel skryf dit voor vir jou, maar moenie vir Eva die skuld probeer gee nie. Dit maak in elk geval hierdie onderdanigheid 'n betaal van sonde, 'n straf vir die vrou omdat Eva so stout was. Is dit regtig wat jy probeer sê?

    Chris

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top