Mankolieke resepmatigheid hinder in Pieter Wagener se nuwe bundel

  • 0

Pieter Wagener: Mantrakolie
Pretoria: Protea Boekhuis (2007)
Slapband, 102 pp
ISBN 978 1 869 19 155 9

Die titel van Wagener se bundel kortverhale is ‘n samevoeging van die woorde mantra en melankolie. Volgens Geldart, in haar Buddhism Today (2002), is 'n mantra ‘n kort frase wat deur Boeddhiste  gedreunsing word tydens gebed of meditasie. Boeddhistiese leermeesters gee dikwels aan hul leerlinge 'n spesifieke mantra. Die bekendste mantra, wat ons trouens ook in Breyten Breytenbach se Lotus aantref, is “Om mani padme hum” – Geseënd is die Juweel in die Lotus.

Hierteenoor bedui melankolie 'n geestestoestand van swaarmoedigheid en is dit eintlik die voorloper van wat ons deesdae as depressie tipeer.

Uit die titel van die bundel lei ons dus af dat ons hier enersyds te doen het met die spirituele, die bepeinsende, en andersyds met 'n toestand van lewensmoegheid en swartgalligheid.

Reeds die openingsverhaal heet “Die fees van die mantras” (7) en handel oor die mense van 'n spesifieke gemeenskap wat op ‘n plaas byeenkom. Die sfeer wat opgeroep word, is dié van ‘n plattelandse basaar. Gou kom mens egter tot die besef dat dit hier 'n andersoortige tipe basaar en religieuse fees is, ter ere van die Somerson en van Aten, die ronde skyf van die son in die Egiptiese mitologie en een van die fasette van die songod Ra. Ook die slotverhaal, “Qabalah” (98), lyk op die oog af na enige akademiese prosessie aan enige universiteit, maar dan word dit ‘n tipe ritueel met die Meester aanwesig. In hierdie verhaal speel die mantra deurlopend ‘n belangrike rol en die karakters word vermaan dat “die wekroep van die Groot Mantra” (101) die bose sal verdryf.

In die tweede verhaal, “Die venster” (11), kry ons te make met ‘n kluisenaarsfiguur wat hom afsonder van die omgewing. Die omgewing waarin die meeste van die verhale gesitueer is, is in die Oos-Kaap en word as besonder verlate, afgesonder en triestig voorgestel. Ook die derde verhaal, “Die dorp” (17), speel, soos die titel suggereer, op so ‘n klein verlate plekkie af.

Die verhaal “Geld is nie alles nie” (20) word aangebied vanuit die perspektief van die kind en weer eens word die bekende gegewe, net soos in die metafisiese stories, omgekeer en is die pa-figuur verslaaf aan soetwyn en moet die kinders “by die volk bedel” (22) vir kos. Die ma word voorgestel as ‘n digteres (sy dwaal rond met “die swart oefeningboek met haar gedigte”) en die lotgevalle van haar kinders kan haar min skeel.

“Iets blywends” (23) speel ook op ‘n dorpie af, maar hierdie keer word die bekende gegewe aangevul met die aanwesigheid van ‘n afgetrede professor in wiskunde uit New York met wie die verteller kan praat oor onder meer fossielneerslae op sy plaas. Nadat die professor hom te pletter geval het in die berg op die plaas, praat die plaaslike inwoners van Professorskop.

‘n Verhaal soos “Die perskeboord” (29), wat in Barkley-Wes afspeel, het ‘n interessante wending aan die slot, maar die kontras in die verhaal word net te maklik uitgewerk, ‘n tipiese van-lompe-tot-luukse-verhaal.

“Gebruikte onderdele” (34) ondersoek die snobisme en hooghartigheid van die kleindorpse bestaan, terwyl “Die stoetteler” (45) kommentaar lewer op die eensaamheid na die afsterwe van ‘n geliefde en die gemeenskap se veroordeling van ‘n volksvreemde element soos Eva-Marie, wat haar besig hou met aromaterapie. Laasgenoemde is egter ook ‘n bekende tema in die landelike narratief en ek twyfel of Wagener iets nuuts tot die diskoers bydra.

Direk hierna verskuif Wagener sy fokus en van die verhale word gesitueer in Parys, Genève en Berlyn. In laasgenoemde geval kry die verteller vir die eerste keer met manlike prostitute te make en die volgende paragraaf spreek boekdele: “Soos die twee wegstap, wonder ek wat hulle gaan aanvang. Afrikaanse verhale het uitermate beskrywend omtrent dié dinge geword en ek wonder in watter mate fiksie met dié twee mans verwesenlik gaan word. Die gemak waarmee die beelde deur my kop flits, verontrus my, maar ek skryf dit toe aan my onvermoë om dié tyd van die oggend my gedagtes te beheer” (58). Hoekom dit enigsins noem? Hoekom jou beroep op die Afrikaanse verhale oor die onderwerp? Is dit verdringing wat hier plaasvind of verskuilde afkeer? Onmag van die skrywer?

Die verhaal “Invokasie” (62) handel oor ‘n tweegesprek tussen ‘n jong man en die duiwel en is ‘n bra afgewaterde eietydse weergawe van die Faustus-verhaal. Gaan lees maar weer Marlowe, Goethe, asook Johann de Lange se modernisering van die verhaal.

“Verkas” (69) is weer volgens die maklike resep geskryf wat in van die ander verhale voorkom: neem ‘n bekende scenario en dop dit dan om en laai dit met teenoorgestelde betekenisse. Byvoorbeeld, al die mans in hierdie verhaal is gay en die verteller kom dan agter dat hy meer van vroue hou. So ook die verhaal “Die tweegeveg” (82), waar dié daad met religieuse konnotasies gelaai word en die figuur van Prediker is die een wat die geveg reguleer.

“Ouma wil nie gaan swem nie” (88) het ‘n verrassende begin, maar die slot is weer so oop en onsamehangend dat dit die res van die verhaal bederf.

Terloops, is die gegewe in “Die muurskildery” (93) nie al ’n bietjie holrug gery nie? (Die aanwesigheid van die swart hond en die bewegings op skilderye.)

Een hinderlikheid wat ek ook in etlike verhale opgemerk het, is dat die jongmense altyd bruingebrand en aantreklik is en dikwels in wit geklee is.

In die geheel gesien vul die verhale my met ‘n gevoel van die melankoliese. Die verhale is soms te voorspelbaar of eindig net te skielik en is nie vir my volkome uitgewerk en afgerond nie. Soos reeds genoem, is van die verhale besonder resepmatig: op klein dorpe kom mense gewoonlik bymekaar vir kerkbyeenkomste, maar nou kom hulle bymekaar vir sonaanbidding. Miskien sou dit beter gewerk het as die skrywer ‘n element van die surrealisme hierby betrek of weer gaan kyk het hoe iemand soos Margaret Atwood te werk gaan in The handmaid’s tale.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top