Maniere of opvoeding of gene?

  • 3

Soms verwonder ek my aan die Afrikaanssprekende mens veral die blanke Afrikaner se swak optrede.

Ek verdien my brood langs een van die hoof vakansieroetes by ’n baie besige en welbekende stilhouplek waar daar hordes mense hierdie tyd van die jaar stilhou vir brandstof en die natuur se roep. Ongelukkig is dit nie net motoriste nie, maar daagliks tussen 10 en 12 uur ook om en by 60 busse vol passasiers. Wat eerstens daartoe lei dat daar toue mense by die kassiere staan asook by die ingange en natuurlik by die toilette. Al beskik so ’n plek oor 100 toilette of kassiere is dit onmoontlik om genoeg toilette te hê vir al die mense en sal daar nogtans tou gestaan moet word.
Hoekom verwag die blanke Afrikaner voorkeur, is hulle so opgevoed of is dit in die gene?

Gister was ’n sprekende voorbeeld van ’n baie jong moeder, wat ’n ou swart dame uitskel omdat sy durf voor haar inloop by die groot deur en toe te stadig loop na haar sin. Die opmerking wat sy maak aan haar eie baie ouer ma was: “F****t, hulle is darem maar wit”, met verwysing na die swart dame. Ek wens ek kon haar vertel dat as sy eerder soos die swart dame opgetree het sy met respek behandel sou word. Dieselfde ou swart dame kon die ma van haar kinder-oppasser gewees het.

Dan is daar die geval van ’n ou Afrikaanse oom wat deur die petroljoggie aangespreek word heel beleef: “Middag oom waarmee kan ek u help?” net om toegesnou te word: “Ek is nie met jou f*****n antie getroud nie!”

Ek is reeds 66 en al die personeel spreek my aan as oom uit blote respek. Wat is dan fout daarmee?

Selfs as ’n mens na die kleredrag van die verskillende rasse kyk wonder ek wie is die beste opgevoed, die wit jong vrou met haar eina-broekie of kort rompie en kaal pens met borste wat vryelik rondhang of die swart ewe oue vrou met die netjiese drag waarby niks uitsteek of uithang nie.

Ek sal ons volk nooit ooit verstaan nie.
DJS

  • 3

Kommentaar

  • Daan, ek stem saam. Ek skaam my dood vir sulke mense. Net 'n enkele wysiging aan jou laaste sin: sulke mense is niks van my of jou volk nie.

  • Beste Daan. Ek lees en verstaan wat jy gesien het is nie reg nie. Dit steek my ook dwars in die krop. Dit is vir my 'n verleentheid wanneer ek so iets sien gebeur. Die ongeluk is dat die Blankes/wittes deur sulke optrede gebrandmerk word. Verstaan my mooi ek wil nie sulke optrede goedpraat of verskoon nie. Ongelukkig is die optrede gewoonlik net petrol op die vuur vir mense wat dit wil uitbuit en politieke myle daaruit wil kry. Ek weet nie of jy enigsins 'n etniese taal magtig is nie, maar jy sal op jou rug val as jy die aanmerkings aanhoor wat oor Blankes/wittes gemaak word. Ek is nie te gou om te oordeel nie, maar dit kom alles net neer op selfrespek en respek vir ander mense. Ek het as kind slae gekry as ek die werkers op die plaas nie met respek aangespreek het nie. Maar respek word verdien, nie sommer gekry nie. Die storie van "its my culture" is ook al holrug gery.

  • Ek het 'n paar dae gelede reageer maar die e-pos het skynbaar nie deurgegaan nie. Jy gooi 'n blinde oog vir Afrika? Of is dit 'n wonderlike omgewing waar net blankes rondbeweeg?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top