
Foto: Unsplash.com
Manie se Bosveld-baobab
Ons wou nog één keer die Bosveldson se geel vir jou gaan wys
en “kelkiewyn” onder jou baobab
voor jou skemeruur se skadu’s nader
Ons wou die sand se spoed in jou uurglas
tot stilstand roep
– om jou langer by ons te hou.
Ons wens ons kon die pyn uit jou oë gaan haal
en die vrae in jou gemoed beantwoord
Ons wens ons kon jou trane opvang
in die tregter van ons omgee-hart
As ons kon, sou ons ons arms nog een keer plaas
om die kromming van jou rug,
jou optel,
sodat jy jou skuifelvoete
nooit weer hoef te stamp
Ons wou só graag die kettings van die monsters
vir jou stukkend breek
en pyn – jou ongenooide gas – saggies aan die slaap gaan sus.
Die siekte het jou van als vervreem,
hóé lank het ons nie begeer
om die Parkinson’s van sy vreemde mag te besweer?
Jou aardse beker is nou leeg
Jou uurglas uitgeloop ...
Jou tyd van lyding nou verby.
Saam deur die dal van doodskaduwee,
jou Skepper en jy.
Eendag breek ons saam ’n brood
en “kelkiewyn” onder jou Bosveld-baobab
hoog bo die aarde
hoog bo die see
by ons Heer
Goodbye, blue eyes
tot ons weer ontmoet
By die baobab.


Kommentaar
Baie mooi👏
'n Diepe en ware gedig wat so waardevol is vir die hele familie. Net soos Oupa kan jy met woorde die ware emosies na vore bring. Dankie, Michelle. Jy mag maar pen op papier plaas en doen dit gerus meer.
Ian (een van die kinders)
Ontsettend mooi! My hart so aangeraak deur die gedig.
Ontroerend mooi.
Wow! Met jou beskrywing en woorde het jy Manie se lewe en siekte so mooi opgesom. Baie dankie Michelle.
Boabab-groete,
Wilma (Manie se suster)
Baie fyn en sensitief voorgesit! Breekbaar en hierdie kant ¥
Baie dankie vir jul mooi kommentare op my "Manie se Bosveld-baobab"-gedig. Waardeer opreg.