Man-alleen

  • 0

Imagine hoe
alleen
dit moet wees om ’n man-man te wees.
’n Man-man, wie met kaal koue emosies
deur die lewe veg.
’n Man-man met ’n muur om hom gebou,
sodat niemand die sensitiewe sy van sy swaarbelaaide siel
kan filtreer nie,
nie eers ’n snel suspisie kry van ’n huilende hart nie.
’n Man-man en sy man-man vriende, wie se
hartseer en pyn dalk in ’n bar gedeel word,
soos kaarte onder ’n dowwe lig
verspeel word,
luidrugtig en vergiftig,
in besope gelag en dronk ego’s
groet,
sonder empatie of traan.

Imagine hoe
alleen
dit moet wees om ’n man-man te wees.
’n Man-man, soos my pa te wees.
Om
man-alleen
te staan in hierdie waardelose wêreld,
terwyl die enigste iets wat eintlik waarde het,
jou hart is,
dié hart
wat juis meer waarde kry as jy dit uitdeel,
soos brood,
onder jou geliefdes.

En eendag
word jy 60,
dalk met ’n duursame partytjie?
En êrens deur die aand van warm kampvure en geurige kos,
orkeste en versierings, geskenke en kleinkinders,
duursame wyn en  sjampanje,
staan jy op vir ’n heildronk…

met jou hart,
 
yskoud,

in jou hand,

(die trofee van jou lewe)

en jou gesin is die vreemde gesigte,
die weergalmde applous,

want jy staan vandag

man-alleen.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top