
Foto: Canva.com
Mamma wag vir jou, my kind
(opgedra aan die verlorenes op straat)
Jy loop in die strate
jou klere en jou hart vol gate
al wat jy het is jou asem
’n rugsak vol ou spoke en geen drome.
So stap jy van hoek tot hoek
en bedel bakhand by vreemdes
waar het jy geslaap, my kind
het jy ’n bed en bietjie kos gehad
want jy stap al vroegoggend
in Lady Grey se stil straat af.
Ek wens ek kon jou huis toe vat
ek wens ek kon jou veilig in my arms vou
ek wens jy het geweet
hoe bitter, bitter lief is ek vir jou
ja, ek wens, ek wens
dat ek jou huis toe kon vat.
Ek wonder of jy weet, my kind
jou plekkie in my huis
is só leeg sonder jou
ek sien jou soms hustle
in Checkers se parking lot
jou hande is vuil en jou hare
hang in slierte oor jou skraal skouers.
Ek wens ek kon jou huis toe vat
ek wens ek kon jou veilig in my arms vou
ek wens jy het geweet
hoe bitter, bitter lief is ek vir jou
ja, ek wens, ek wens
dat ek jou huis toe kon vat.
Waar is jou wolwit kombersie
jou teddy en mamma se hand
of het tik en dagga dit ook saamgevat
saam met jou siel in ’n sesvoet-
lewende graf gestoot.
So sien ek jou in die strate stap
verlore, vol verwyte ’n vreemdeling vir jouself
selfs jou naam het verdwyn
jou spore brand gate in die grond, my kind
jou plekkie in my huis
is leeg sonder jou.
en ek wens, ja, ek wens
dat ek kon jou nou huis toe kon vat.


Kommentaar
dis diepmooi!
Treffend
Baie dankie, Anze en Lydia.