Mal Thysie

  • 4

Jy sal weet van mal Thysie as jy voorheen gelees het. Net: voorheen was hy nie mal Thysie nie, hy was net Thysie. Die benaming en hernaming het maar so met die tyd saam gekom. Dissie lat Thysie regtig mal is nie. Wel, nie meer as die deursnee ou op straat nie. Dis net dat hy maller as ek en jy lyk as jy hom beluister en eers leer ken.

Want Thysie het genadiglik die drank gelos. Vrou gevat en die goddelike opdrag loop uitvoer. Hy het vermeerder. Of sy gene het. Alte ordentlik kop regop geloop want hy het mos 'n vrou gevat wie se familie nie te onaansienlik is nie. Pa was poliesman en die wat nie poliesmanne in die familie is of was nie is spietkops. Baie gerieflik sou ek sê - en Thysie kry sommer, met inwonende skoonmoer sommer ook skoonmoer se ou Nissan Skyline soort van as trougeskenk. Ligblou. Want skoonmoeder is te oud om self te ry en het tog die woonstelletjie en die ander kinders het klaar families en mens wil mossie 'n las wees nie. En wie sit nou 'n ou moeder in die ouetehuis? Thysie en liefie sien dus maar om na skoonmoer. En Thysie ry die wêreld plat met die Nissan Skyline. Skoonmoer voorin en vroutjie agterin. Agterin vir die eenvoudige rede dat sy nie voorin kon of kan inpas nie.

Die jare vorder en die twee vermeerder soort van. En dis nie meer net die drie nie, dis nou meer. Snotneusies wat wil saamry KFC en Nando's en Spar toe. Want Thysie se vroutjie eetie kookkos nie. Sy wil winkelkos eet. Op 'n dag sien ek die Skyline het 'n nuwe bonnet. Swart. Hy se hy het 'n muur getref en die muur was harder as die bonnet. Ek sien hy pratie nonsense nie want die buffer het die merke dat hy half reggemaak is. Ek beduie vir hom dat hy sal moet plan sien want die boot gaan dit ook nie meer veel langer maak nie. Die soutwater is 'n bogger met yster en staal en jy kannie jou seegoete en oesters en aas alles sommer net in die boot of kattebak inlaai en verwag niks gaan gebeur nie. Hy het ver gekyk en 'n baie filosofiese antwoord gegee oor die lewe en karre en die see.

Tot die dag wat mammie net behoorlik haar sit agterin gekry het. En die arme Skyline net nie meer verder wou nie. Die mense blameer vir Nissan en swak bakwerk maar ek weet dat selfs 'n Nissan ook net soveel kan hou. Die arme ding het basies ingegee. Soos in letterlik ingegee. Thysie se dit was die gewig van die skulpgoete maar hy lieg. Jy kan mos nie van 'n voos geroeste ryding verwag om te hou nie?

Toe moes Thysie maar loop met die voet. See toe en terug. En almal kyk uit vir 'n ryding. Sterk ryding want ons weet wat en wie hy moet karwei. Dit wassie 'n week nie toe kom iemand vorendag met 'n Audi en Thysie kan hom afbetaal maandeliks. Ek is, sedert my dae en nagte met my ou Auto Union of DKW of Duitse Kakwa beslis geen Audi groupie nie ongeag wat die wyse of slim mense beduie. Ek hou bloot net nie van die kar nie, nuwe design ofte not. Nietemin: Die Audi het mooi ingepas. Wit kar met swart bonnet. Thysie het die eerste dag beduie dat hy hom/haar sal "respray". En familiekar was dit gewis, want die lekkergoed papiere en KFC en Mac Donalds leë chipspakkies het die vloere vol gelê. Ek het vir Thysie beduie van goed wat rondvlieg as mens ooit sou bots en hy beduie my dat hy net vanaand die klogoete op 'n streep gaan donner.

Die oggend is ek nog winddronk geslaap toe ek die oproep kry. Thysie. Hy moet gehaal word see toe. "Wat is fout, het die kar gebreek?" "Nee, 'n dronk donner het in my vasgery". en ek raak yskoud. "Nee," seg hy toe ek hom oplaai. "Die bliksem het weggejaag en die Boere wil hom nie vasvat nie." Beter so, dink ek, want Thysie het nie lisensie nie. lisensie om te bestuur. Hy steur hom nie aan vermanings en aanmanings nie want hy is skoonfamilie van al wat 'n spietkop is. Dissie dat Thysie nie kan bestuur nie. Dis net: hy worry bloot net nie om te gaan uitpasseer nie. Beskou dit as tyd en geld mors. Nou is Thysie weer op die voetganger stadium. Die Audi staan doer bo iewers by Mossgas in 'n stoor of 'n ding. Thysie se hy willie weer die ding sien nie want die gearbox het intussen ook ingegee en hy is in elk geval lankal gatvol vir die ding gewees.

Thysie het intussen weer beginne drink. Mammie stuur allerande boodskappies om hom terug te kry op die smal en doringbesaaide weg en ek wens dikwels ek is 'n vlieg teen hul kamermuur want ek weet wie die geveg sal wen as dit ooit handgemeen moet raak. Hy koop nou deesdae Clorets en Infinity kougom. Iets wat hy nooit vantevore gedoen het nie. Dalk is dit stres want hulle sê mos stres laat mens kou. Ek dink dis eerder die bottels Mokador wat altoos opgetel moet word. 'n Visserman verander soos 'n jakkals van haar, maar hy kom altyd terug na die ou pels en die ou snaar.

oester

  • 4

Kommentaar

  • Beste Oester

    Lekker om jou weer hier te lees. Ek hoop nog vele soos in vervroer dae 

    Jaco Fourie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top