
Foto: Canva.com
mal maalkolk
horlosie-arms snel tollend om en om
ek probeer verwoed bybly – verniet
my hande voel min, my spoed gebrekkig
hier vat en daar los word geëis, maar die pap val op die grond
ek besef ek is lief vir gewone, vervelige dae
die pas is rustiger
jy is hier
jy maak die dag gewoon, al is jy buitengewoon
vergete pizza skroei in die oond
wasgoed lê saamgekoek in die wasmasjien
’n kind skree in die agtergrond waar die tv blêr
die goed wat al moes gedoen gewees het kriewel oor die voorgrond van my gedagtes
ek onderskat jou hierwees
in die malle maalkolk verlang ek na jou
in die duister besef ek jou waarde
ek mis jou asem, jou gedagtes, jou koffie – selfs jou dosis aspris
jou hand is ongesiens op dinge
badwater, warmsakwater, gryswater, doopwater
die geiser, honger honde, kinders wat hul pond aandag soek
jy is my plus-een, sonder jou waai die winde woes

