
Foto: Unsplash.com
Mag die wêreld ons vergeet
Mag die wêreld vandag se digters vergeet
wat liewer skryf oor matrasse as leed
Die voorblad verklap dit gewigtig prontuit:
Nog ’n tannie gevind, vermoor in haar bed ...
Tog uit jongdigterspen gly geen greep of geluid
geen woede, geen angs, nie ’n tikkie verset
Mag die boeke vandag se digters verag
wat vinger noord-oos ons mense uitlag
Die owerheid bulder dit woedend en hard:
“Plaas nog wette daar wat Afrikaans sal druk!”
Tog swyg die jong digter oor sy mense se smart,
en lig die pinkie soos hy Sauvignon sluk
Mag die mense vandag se digters vervloek
wat weier om antwoorde vir vrae op te soek
Deur dekades en eeue is rigting gegee
uit begaafdes se penne en harte en monde:
Hou verby! Neem die hand! Of sommer net nee!
Maar vandag se digter bestel liewer nog ’n rondte
Mag die mense minagtend van ons digters praat
wat ons mense in beproewing bespot en verlaat.