Party van my beste vriende is Taalstryders.
Ek is oukei daarmee, maar heimlik is ek bang dat my dogter eendag met een van hulle wil trou.
Alle grappies op ’n stokkie. Ek praat natuurlik nou onsin.
Oukei, kom ons begin oor. Daar word deesdae baie onsin gepraat, nie net in en om die sg taalstryd nie, maar ook oor baie ander kwessies, werklik dringende kwessies wat die stabiliteit van ons land bedreig.
![]() |
|
Bonginkosi Emmanuel "Blade" Nzimande (foto: www.ufs.ac.za)
|
![]() |
|
Julius Malema (foto: Wikipedia)
|
![]() |
|
Piet Croukamp (foto: LitNet)
|
![]() |
|
Dozi (foto: www.dozi.co.za)
|
![]() |
|
Nelson Mandela (foto: Wikipedia)
|
Verlede maand lees ek met weersin en afgryse die inhoud van ’n toespraak wat Sy Edele Blade Nzimande voor die jongmense van die Kommunistiese Party afgesteek het.
Soos gewoonlik het Nzimande een of twee mooi dinge gesê en daarna die pad byster geraak.
Eerstens het hy die gebruik en onderrig van inheemse swart tale by opvoedingsinstansies bepleit. Dit volg kort op die hakke van Julius Malema se interessante uitspraak in die parlement nou die dag toe hy ’n beroep gedoen het op ministers om swart inheemse tale eerder as Engels te besig. (Ironies genoeg het Malema toe sy eie toespraak in Engels voortgesit. Nie alleen dit nie, maar toe iemand van die opposisie hom vra waarom hy self Engels praat, het hy die persoon van rassisme beskuldig. Die logika agter hierdie beskuldiging, indien daar so iets was, is vir my te diep, moet ek erken.)
Dit is verblydend dat daar deesdae stemme opgaan vir die handhaaf en behoud van tradisionele tale. Daar is blykbaar nou ook ’n radiostasie in die Noord-Kaap wat nuusbulletins in die Nama-taal wil uitsaai. Nadat die regering vir soveel jaar lank skynbaar argeloos gestaan het teenoor die behoud, in die praktyk, van ons elf nasionale tale, is dit verfrissend om te hoor dat daar eindelik erns hiermee gemaak word.
In die lig hiervan maak die SAUK se besluit om die Afrikaanse nuusbulletins te skuif na ’n kanaal met ’n veel kleiner kykerstal hoegenaamd geen sin nie. Waarom krap waar dit nie jeuk nie? Almal was gelukkig met die situasie soos wat dit tot onlangs was.
Ewenwel, terug na Nzimande se toespraak. Kort na die wekroep vir inheemse tale maak hy toe die volgende stelling: “Jongmense moet geleer word om neoliberalisme teen te staan, want die mark is nie die enigste waarde in ons samelewing nie.”
Nou ja, mens hoef nie Piet Croukamp te wees om dit te sien vir wat dit is nie: dieselfde ou holruggeryde revolusionêre skynretoriek wat al eintlik met Fidel Castro uitgesterf het, maar om die een of ander rede nog fanaties deur ’n groot persentasie plaaslike politici nagestreef word.
Dog om nou heeltemal eerlik te wees, ek het al soortgelyke histeriese geluide by party van ons Afrikaanse taalstryders gehoor.
Laat ek dit duidelik stel: ek glo in die bevordering van die Afrikaanse taal en al sy dialekte. Ek het niks teen die idee van ’n private Afrikaanse universiteit soos in die vooruitsig gestel deur Flip Buys nie. Maar om op hierdie stadium van die speletjie die horlosie te probeer terugdraai en die Matie-kampus uitsluitlik Afrikaans te maak, is eenvoudig onprakties en te laat. Daar is soveel uitnemende fakulteite aan hierdie universiteit, en soos by alle suksesvolle instansies is dit onvermydelik dat hulle deelname van alle kultuurgroepe en ook oorsee uitlok. Ek wil bitter graag hê dat Afrikaans vir ewig en altyd op die strate van Stellenbosch sal weerklink, maar ek het lankal aanvaar dit sal slegs in ’n kosmopolitiese konteks, te midde van ander tale, kan gebeur. Die universiteit het eenvoudig te groot geword en te populêr om homself kultureel te isoleer. En waar verskillende tale gebesig word, is die middeweg van ’n bruikbare lingua franca ’n noodsaaklike euwel. Dit is ’n onafwendbare feit dat, hoe graag ons ook al wil, ons eenvoudig nie Engels kan wegwens nie.
Stel jouself die Babelse verwarring voor waarin ons ons sou bevind het as die eerste swart president – Madiba self – sou besluit het op ’n beleid van “Praat Xhosa of hou jou bek.” Daar sou geen debat moontlik gewees het nie. Die meeste wit mense sou nie ’n woord verstaan het wat in die parlement gesê is nie.
Tog is daar nog steeds mense wat “Praat Afrikaans of hou jou bek” voorstaan!
Madiba se bereidwilligheid om uit die staanspoor Engels te praat was ’n toonbeeld van hoflikheid; dit was ’n gebaar van medemenslikheid en beskaafdheid. Op daardie stadium was kommunikasie, versoening en die oordrag van inligting belangriker as die behoud van kultuurgoedere.
Ek is bly ek het tweetalig grootgeword. My lewe word verryk deur wêreldliteratuur as gevolg hiervan. Om die waarheid te sê, ek wens ek het meer tale geken. Ek sou wat wou gee om Zoeloe te kan gooi soos Dozi. Maar ek kan nie. Helaas, die meeste mense wat ek in my vriendekring ken, kan nie.
En dis ons eie skuld. Daar was genoeg tyd tussen 1995 en nou om ’n swart taal aan te leer, maar ons het ons voete gesleep en in stede daarvan het sommige van ons net gesit en penniek oor Afrikaans ...
Gelukkig is dit nie te laat om te begin nie.
Dis ook nie te laat vir ’n totale kopskuif oor die hele idee van ’n sogenaamde taalstryd nie. Maar ons moet dit een stap op ’n slag neem.
Ons kan, en moet, hande vat met almal wat inheemse tale wil handhaaf en bevorder, insluitende Afrikaans. Maar ons moet besef ons kan slegs doen wat prakties moontlik is, een stap op ’n slag. Anders gaan al ons gebabbel wegwaai soos woorde in die wind; woorde wat niemand anders verstaan nie, en niks bydra tot enigiemand se kultuur nie.
Die “taalstryd” – of dan, die stryd om alle inheemse tale te bevorder en te behou – is inderdaad ’n baie edel ideaal om na te streef, en ons moet die here Nzimande en Malema ten minste krediet gee dat hulle hierdie saak opnuut op die agenda geplaas het.
Om ’n reël aan Engels te ontleen: It is probably an idea whose time has come.
Ek het die gevoel dat ons demokrasie gaan staan of val by ons vermoë om met mekaar onderlinge konsensus te bereik oor hoe ons hierdie gesamentlike ideaal op die grondvlak, in praktiese en uitvoerbare terme, sal kan realiseer.
Maar so iets kan nie in ’n lugleegte gebeur nie. Dit kort ’n oopmaak na buite, ’n reality check.
As ons ’n ware taalstryd wil begin, sal ons dit reg moet doen, anders word dit, soos soveel ander inter-Afrikaner-debatte, bloot nog ’n akademiese stokperdjie wat ons onder mekaar bedryf terwyl Rome brand.







Kommentaar
Koos slaan die spyker op die kop, dit is egter noodsaaklik dat sprekers van ander inheemse tale begin om hulle stem te laat hoor. Op die oomblik is dit meesal net Afrikaanses wat rumoer maak, en onmiddellik word dit 'n rassekwessie. Hoe ookal, sal nogal great wees as bv die Zoeloesprekende studente by Universiteit van KZN opruk en onderrig in Zoeloe eis - indien dit al gebeur het, het ek dit gemis.
Ek stem heelhartig saam met Koos. Bravo !
Nee Giep, Koos slaan NIE die spyker op die kop nie.
Swartes (party van hulle) wil hulle eie tale nou bevorder want a) dis die ding om te doen na uhuru, b) hulle sien die Afrikaner doen dit so hoekom kan hulle nie, c) daar is die vir wie dit werklik hulle erns is. Die verskil tussen die Afrikaansstryd en die swarttaalstryd is die swart tale moet BEVORDER word waar Afrikaans moet veg teen afgradering. Afrikaans is van kombuistaalstatus verhef tot volwaardige hof-, akademiese en letterkundetaal deur harde werk, bloed en sweet kan jy maar sê.
Die swartes het nie hulle tale is op sodanige manier ontwikkel nie hoofsaaklik omdat hulle vir hierdie soort taalfunksies Engels verkies, en omhels, het. Hulle het hulle tale verwaarloos.
Ons Afrikaanssprekendes, om polities korrek te probeer wees (is daar ooit 'n groter sonde in SA as om polities nie korrek te wees nie?) is nou besig om mee te doen aan die heksejag op Afrikaans en op die manier verwaarloos ons Afrikaans nou (tot vandag hoor ek op RSG 'n gas sê drankmisbruik laat jong meisies swanger word).
Koos is ook verkeerd waar hy sê daar was genoeg tyd vanaf '95 om 'n swart taal te leer. Die aanleer van 'n taal verg moeite en oefening en met wie gaan jy praat, want daar is swart kinders wat nie eers meer hulle eie taal kan praat nie. Die swartes is Engels; hulle ruk op by Afrikaanse opvoedingsinstansies en dring aan op Engels, nie Zoeloe of Venda of Sotho nie.
Nee wat, Koos sit die pot mis. Ovarb!
Jan Rap,
Afrikaans was vir n lang tyd een van die twee amptelike tale. Vir jaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaare lank is Afrikaans ampetelik uitgesonder bo al die ander inheemse tale en sodoende ook bevorder. So neem dit in ag as jy redes wil gee hoekom Afrikaans bevorder is. Wees bly dat Afrikaans vandag nog een van die ampetelike tale is.
Tertia
Dis mos wat ek vir jou sê, Afrikaans WAS 'n amptelike taal en nou nie meer nie; Engels is die amptelike taal. Die een wat dink daar is 11 amptelike tale moet haar kop laat lees (dis nou jy). Afrikaans is nou afgradeer na waar die ander inheemse tale is, en nog altyd was. Jy kan nie nou pê-wê-wê sê nie want die sprekers van hierdie ander tale is nie benadeel nie; dis juis hulle wat Engels verkies.
Jy beweer Afrikaans is amptelik bo al die ander inheemse tale bevorder, Dit is interessant dat jy die lydende vorm gebruik - wat sou die onderwerp wees as jy die bedrywende vorm gebruik? Die Afrikaners? Indien dit die geval, dan kan jy mos nie die Afrikaners daarvoor kwalik neem nie; van wanneer af is dit verkeerd om jou eie te bevorder? En hoekom het die Zoeloes dan nie Zoeloe, die Venda's Venda, die Tswana's Tswana ens bevorder nie? En wie sou jy sê is besig om Engels bo die ander 10 tale te bevorder?
Jan Rap