Madeliefies van staal deur Pat Stamatélos: ’n diep menslike roman

  • 0

Madeliefies van staal
Skrywer: Pat Stamatélos
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795704246

Koop Madeliefies van staal by Kalahari.net

Madeliefies van staal is, soos sy voorganger Vier begrafnisse en ’n troue, ’n diep menslike roman wat met werklike insig in die psige van die karakters geskryf is. Hoof- sowel as newekarakters word deurgaans met deernis en humor uitgebeeld, asook met meer as ’n tikkie ironie. Die lesers kry dikwels die gevoel dat hulle ’n treetjie kan terugstaan, na hulself en hulle sterk punte en swakhede kan kyk en so ’n bietjie vir hulleself lag.

Dis die verhaal van Cheryl en Lucy, onderskeidelik die dogter en skoondogter van die formidabele Dulcie, wat ons in Vier begrafnisse en ’n troue ontmoet het. In ’n groter verband is dit egter ook die verhaal van talle voorheen benadeelde mense wat kon voortbeweeg na beter finansiële omstandighede, maar steeds nie hulle wortels kan of wil vergeet nie.

Lucy kom uit die ingewikkelde en dikwels tragiese omstandighede van die arm Gumaville en word oënskynlik slegs op die werf geduld omdat sy die onkreukbare Ashwin se vrou is. Hoewel Ashwin ’n uitstekende stiefpa vir haar tienerdogter, Sheena, is, smag hulle albei na ’n baba van hulle eie. Ná herhaalde miskrame, waarvan sommige geheim gehou is vir die familie, is hulle om verstaanbare redes gespanne oor die huidige swangerskap.

Lucy se karakter toon twee uiterste pole: Sy laat haar deur haar skoonma intimideer, maar nie deur ’n lykshuis vol kadawers nie. Sy word geteken as ’n sensitiewe vrou, maar ook as iemand met genoeg innerlike krag om die gruwelikhede van haar beroep te hanteer. Genoemde gruwelikhede word dan ook by herhaling in detail beskryf. Sensitiewe lesers kan dit moontlik oordadig vind, maar dit is wel funksioneel in die sin dat dit die skoonheid van haar private en huwelikslewe teenoor die makabere werklikheid van haar beroep stel. Aan die een kant staan die gedrewe beroepsvrou wat niks anders as hierdie spesifieke beroep wil beoefen nie; aan die ander kant is daar die fynbesnaarde vrou wat toegewy is aan haar man en dogter, en lojaal teenoor haar familie, wat steeds worstel om te oorleef binne die sosio-ekonomiese omstandighede van die township.

’n Sterk spanningslyn word geskep deur die dood van Lucy se swaer Eddie Stamper,  die ondenkbare situasie waarin sy hierna deur haar broer Brighton geplaas word en die wyse waarop hy dreig om haar sussie, Baby-Jane, by te kom as sy nie saamwerk nie. Op hierdie vlak kan die boek as ’n spanningsverhaal beskou word wat begin met die misdaadtoneel waar Lucy in die eerste hoofstuk ’n liggaam moet gaan haal en eindig met ’n dramatiese skietgeveg waar Brighton  uiteindelik as ’n aweregse soort held sterf.

Lucy se liefde vir Brighton, maar ook haar insig in die verval van sy karakter, is een van die treffendste aspekte van die verhaal en werk mee om haar ’n werklik geronde en geloofwaardige karakter te maak. Haar man, Ashwin, word egter as te volmaak geteken om realisties te wees. As daar in ag geneem word dat hy uit haar oogpunt geteken word, is dit egter verstaanbaar, want dit is sy liefde en toewyding wat haar uit haar slegte omstandighede gelig het en nou haar lewe vul.

Brighton is die swartskaap van die familie, die een wat by bendebedrywighede betrokke is en nie huiwer om sy suster te dreig wanneer dit tot sy voordeel kan wees nie. Aan die ander kant bly die leser bewus van die onskuldige kind wat hy eens was en die klein bietjie goed wat iewers in hom verskuil gebly het. Sy laaste daad is dan ook een wat sy liefde en lojaliteit teenoor sy familie bevestig, al kon hy dit in die lewe nie toon nie.

Die jong en begaafde Baby-Jane kan gesien word as tekenend van die nuwe geslag voorheen benadeelde jongmense wat wel die kans kry om te studeer en hopelik as gevolg van ’n goeie kwalifikasie uit hul omstandighede sal kan ontsnap, maar dikwels in die proses geweldige probleme moet hanteer. Die lewe in Gumaville en die inwoners se stryd om in die omstandighede te oorleef, word deurgaans aan die bod gebring sonder om die leser se simpatie of selfs skuldgevoel doelbewus te probeer opwek: “Gumaville is ’n doodloopstraat, mense wíl doodgaan. Om die blou trein te ry, is ’n uitkoms, om aan ’n bende te behoort ’n broederskap, en die dood soos ’n mammie se bors.”

Al word daar baie aandag gegee aan die ontwikkeling van Lucy se belangstelling in die dooies, dien dit steeds nie as genoeg motivering vir die koppigheid waarmee sy met haar werk aanhou ten spyte van die ooglopende negatiewe invloed daarvan op haar swangerskappe nie. Die leser kan eintlik nie anders as om heimlik met haar skoonma, Dulcie, se mening hieroor saam te stem nie.

Dulcie self word in diepte beskryf deur die belewing van haar skoondogter. Die leser leer ken ’n komplekse vrou wat met ywer waak oor haar beeld na buite, maar in werklikheid haar familie bo alles liefhet en steeds die lot van minderbevoorregtes probeer verlig. Haar suster, Doll, se karakter vorm ’n kostelike en eg menslike teenpool vir haar beheptheid met beskaafde gedrag en wat andere van hulle sal dink:  “... die teenpool van haar suster met die handdoek in perfekte Hollywood-styl om haar kop gedraai. Doll se hare is in groot wit rollers wat sy nou een vir een uithaal en netjies op die tafelblad neerlê soos iemand wat daisies in ’n bak rangskik.”

Die wit hondjie, Hoenertjie, wat ná die dood van Shorty Present op die erf agtergebly het, vorm ’n skakel tussen al die uiteenlopende karakters en dien ook dikwels as humoristiese ligpunt in die soms makabere verhaal: “... staan ta tussen die geveerdes asof sy daar hoort. Vandaar die naam Hoenertjie.”

Die hondjie se naam is maar een van die talle voorbeelde van die informele spreektaal wat deur die meeste karakters gebruik word. Hierdie aspek is een van die sterk punte van die roman, want die taalgebruik bly lewensgetrou en werk mee om die karakters nie karikature te laat word nie. Talle juwele kan in die teks gevind word.

Teenoor Lucy staan die ander hoofkarakter, Cheryl Douglas, Dulcie se dogter. Cheryl is ’n enkelloper met haar oog op ’n goeie toekoms in haar beroep. Op die oog af kom sy oppervlakkig voor, maar onder die bling klop daar ’n warm hart wat onder meer getoon word deur haar passievolle betrokkenheid by ’n organisasie wat mishandelde diere versorg. Sy beweeg voortdurend tussen die twee pole van haar familia (Ma Dulcie se woord vir die uitgebreide familie) en haar privaat lewe, vol van die regte etikette en uithangplekke. Haar romantiese eskapades word skreeusnaaks maar ook met deernis aangebied: “... dat ’n vrou van amper dertig ’n beter kans staan om met ’n goudvis te trou as met ’n man.”Sy sou graag haar afkoms geheim wou hou (“Jy sit nie met jou stert in die botter en sleep Gumaville in die gesprek in nie. Jou adres van aankoms is immers belangriker as jou adres van vertrek.”), maar sy bly onlosmaaklik aan haar familie verbind.

Haar gedagtes ten aanskoue van die sexy Italianer in die bakkery is van die humoristiese hoogtepunte in die boek: “... ’n gedaante in wit gewaad. Engelagtig mooi. Droom sy? Hy word omhul deur wit lig en kom al hoe nader, wapperende vlerke en ’n wankelrige halo. [...] Is hy te koop? wonder sy.”Sy is egter straatwys en versigtig en laat haar nie sommer deur haar behoeftes meesleur nie. “Miskien moet sy liewer terugsit, bene reguit en kuis teen mekaar, mooi en calvinisties gekruis by die enkels. ’n Mens wil nie die duiwel uittart nie.” Die manier waarop haar Koreaanse vriendin Dae-Yung telkens met opset ’n potensiële liefdestoneel kom onderbreek, is aan die een kant skreeusnaaks, maar aan die ander kant kan dit dui op ’n dieperliggende jaloesie wat nooit dieper ontgin word nie.

Dae-Yung is ’n juweel en sorg vir vele ligte oomblikke. Hulle gesprekke is guitig en soms kru, maar altyd deurspek met ’n diep lojaliteit vir mekaar. Albei se mansvriende word klaarblyklik in detail bespreek: “Hy lyk na niks meer as ’n vienna in die bed nie – in vergelyking met ’n boerewors of ’n frankfurter of ’n russian.”Die presiese aard van die verhouding tussen die twee vriendinne is egter nooit heeltemal duidelik nie. Ten spyte van die kultuurverskille (“Kou-kou, bêre jou kos in jou kies, breek ’n windjie en verstik in jou tee”)en albei se verhoudings met verskillende mans is daar ’n sterk en blywende band tussen die twee. Die beoogde reis na Korea word egter nie die natuurlike afronding van die twee se verhaal wat dit kon gewees het nie, maar word aan die einde van die boek net vlugtig genoem. Die suggesties van ’n moontlike homoseksuele aantrekkingskrag tussen Cheryl en Dae-Yung, sowel as die beeldskone en skatryk Chevy-May, word nie verder gevoer nie en laat die karakters in ’n mate in die lug hang.

Oor die algemeen het Cheryl se verhaal nie soveel diepte as Lucy s’n nie en vind daar nie veel karakterontwikkeling by haar plaas nie. Lucy moet die pyn van haar broer se verraad en uiteindelike dood sowel as haar miskrame verwerk, maar kry ook meer insig in haar verhouding met haar dogter en haar skoonma. Daarteenoor beweeg Cheryl oënskynlik bloot aan na nuwe vriendskappe en nuwe verhoudings, terwyl ’n mens die gevoel kry dat sy die mislukkings met weinig meer as ’n ophaal van die skouer agterlaat. Hierdie mate van sinisme kan aan die ander kant ook lig werp op haar persoonlikheid en die feit dat sy moontlik te bang is om haarself werklik betrokke te laat raak.

Die titel slaan heel moontlik op die 1989-film Steel Magnolias, met sterre soos Shirley MacLaine, Dolly Parton en Julia Roberts. Soos die verhaal van hierdie groep vroue in die suide van Amerika, is  Lucy en Cheryl se verhaal ook ’n viering van die innerlike krag  wat vroue dikwels openbaar,  veral wanneer hulle dierbares in die gedrang kom. Die voorblad is treffend en uniek, maar hierdie leser voel die spesifieke toneel wat uitgebeeld word, is nie duidelik gemotiveer nie.

Madeliefies van staal vorm saam met werk soos dié van Pamela Jooste (Dans met armmansdogter en Môrester) en Chris van Wyk (Daar’s ’n hoender wat ’n eier nie kan lê) ’n kosbare kroniek van die bruin mense van Suid-Afrika binne verskillende tydvakke in die land se geskiedenis en verdien daarmee ’n ereplek in die Afrikaanse letterkunde.

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top