Maar Tintin in Tibet reis ver, maar ook binnetoe

  • 0

Titel: Maar Tintin in Tibet
Skrywer: Annelie Ferreira
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624063230

 
Koop Maar Tintin in Tibet by Kalahari.com.

 

Annelie Ferreira se Maar Tintin in Tibet het vroeër vanjaar by Tafelberg Uitgewers verskyn. Met die eerste optel van hierdie boek met so ’n ietwat vreemd-interessante titel, ’n verweerde ou speelgoed-Mercedes op die voorblad en ’n fopspeen, hart, verkeersteken en kruis op die agterblad, word die leser se nuuskierigheid dadelik geprikkel. In vyftien kort hoofstukke word jy dan ook saamgeneem op ’n reis in ’n Mercedes waarin kinders en ouers, die liefde, “rigting in die lewe” en godsdiens vir ’n boeiende en prettige leeservaring sorg. Die omslag stuur dus verskeie seine uit oor wat tussen die buiteblaaie verwag kan word sonder om te veel te verklap (soos die agterplatteks ook nie doen nie en ek ook nie in hierdie resensie sal doen nie). 

In essensie handel die boek oor ’n manstudent op Stellenbosch se reis saam met sy predikantpa in dié se Mercedes vanaf Stellenbosch na Beaufort-Wes. En pa en seun se verhoudings met die vroue in hulle lewens staan juis op hierdie oomblik voor besondere uitdagings. Ná hulle vertrek uit Stellenbosch maak hulle egter sekere ontdekkings omtrent die seun se meisie en ook die pa se vrou, wat hulle telkens na Stellenbosch laat terugdraai. Dit is dus eers ná die derde keer dat hulle uit Stellenbosch vertrek dat hulle nie weer terugdraai nie en dan slegs afdraai vir ’n verdere belangrike ontdekking. Die terugdraai en afdraai beteken dat hulle op Laingsburg moet oorslaap en dan eers die volgende oggend in Beaufort-Wes sal aankom. Elke omdraai, terugdraai en oorslaap dien egter die ontwikkeling van die verhaal sodat die verhaal soos die Merc deurentyd teen ’n gemaklike 130 km/h cruise.

Tydens die rit op die N1 is daar ’n voortgaande spanning wat tussen twee verskillende generasies uitspeel: dié van die dominee-pa en sy studenteseun, wat bedryfsielkunde studeer. Die wyse waarop dit gedoen word, is eg Suid-Afrikaans, met temas soos die Grensoorlog en die verskillende toe-eienings daarvan deur die onderskeie generasies, sowel as temas soos homoseksualiteit, liefde oor kleurgrense heen en seks. Daar is verskeie simbole wat tekenend is van elke generasie, byvoorbeeld RSG, Radio Kansel, die NG Kerk en Die Burger teenoor die seun se musiek, wat onder andere die Melktertkommissie en Bruno Mars insluit. En hierdie simbole en die Suid-Afrikaanse en hedendaagse werklikheid word goed ingespan om juis ook die karakterontwikkeling en transformasie wat by sekere karakters plaasvind, te dien. Victor Turner het al opgemerk dat indien ’n pelgrim ’n halwe toeris is, ’n toeris dan ’n halwe pelgrim is. In hierdie boek het ons dan ook met twee reisigers te make. Die doel van hulle reis is dat die pa ’n saak van moontlike okkulte in Beaufort-Wes gaan ondersoek, maar op pad daarheen raak pa sowel as seun tegelykertyd toeriste en pelgrims op ’n ontdekkingstog in die landskap van die Groot-Karoo, maar veel meer nog – ook in hulle eie innerlike landskap.

Die boek is dus myns insiens ’n klassieke voorbeeld van die gebruik van liminaliteit deurdat die twee karakters weggeneem word uit die alledaagse en in die liminale ruimte van die pa se Mercedes Benz geplaas word, waar ’n situasie van communitas onstaan sodat albei uiteindelik na afloop van hierdie drumpelbelewenis op ’n nuwe wyse in die samelewing geherintegreer word. In die proses vind transformasie plaas wat ek ’n soort genesing sal noem. Die skrywer van Readings in Ritual Studies, Ronald Grimes, skryf: “Cured you are fixed, healed you are reconnected.” Maar Tintin in Tibet is inderdaad ’n boek waarin wonderwerke plaasvind, maar die karakters word nie gefix nie – hulle word “geherkonnekteer” aan andere en ook aan hulself, en dit is presies daar waar die genesing lê. Dit is waar die genesende krag van godsdiens in elke geval lê, George Claassen (jy moet die boek lees om hierdie opmerking te waardeer). En, bygesê, die eintlike wonderwerk gebeur juis wanneer daar nie netwerkdekking is nie en die karakters iets soos die “fluistering van die windstilte” kan beleef.

In die gedig “Oorsig” in Balans skryf Elisabeth Eybers: “my vader was die dominee, / my moeder vlees en bloed.” Dit is ook waar van sommige van die karakters in hierdie boek, alhoewel die boek goddank nog ’n strofe by hierdie gedig byvoeg en die vader-dominee in hierdie oorgangsritueel ook iets meer van die betekenis van reïnkarnasie in die teologie leer. Hy ontdek dat Beaufort-Wes inderdaad beautiful is en dat niemand anders nie as Beaufort-Wes se Gert Vlok Nel aan Koos du Plessis en ons meedeel “maar Tintin in Tibet is die enigste boek waarin Tintin ooit gehuil het”. Ja, trane is die seep vir die siel en enige leser kan soos die skrywer van hierdie resensie (wat iets van die realiteit om ’n dominee-pa te wees, ken) met die lees van hierdie boek in die woorde van die agterplatteks “óf jou gat, óf ’n wonderwerk” sien.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top