Maansverduistering

  • 11

maan1Almal weet dit teen hierdie tyd tog seker al dat ’n maansverduistering na middernag op Maandag 28 September sal plaasvind. So een en ander oor dié verskynsel.

Die maan wentel 1 keer elke 27.3 dae in ’n elliptiese baan van Wes na Oos om die aarde waarvan die naaste punt aan die aarde (perihelion) ± 356 400 km en die verste punt (aphelion) ± 406 700 km is. Tydens die komende verduistering sal die afstand tussen die maan en die aarde 356 877 km wees.

Tydens ’n maansverduistering, wat natuurlik net tydens volmaan kan voorkom, beweeg die maan deur die skaduwee van die aarde. (Wanneer die aarde ’n maansverduistering beleef sal daar altyd op die maan ’n sonsverduistering ervaar word.) Die aarde se skaduwee bestaan uit die umbra en die penumbra soos in die skets aangedui. Indien Neil Armstrong op die maan in die umbra van die aarde se skaduwee sou staan sou hy ’n totale sonsverduistering waargeneem het en in die penumbra, slegs ’n gedeeltelike sonsverduistering.

Die aarde se atmosfeer word besoedel deur stof en ander partikels. Veral na vulkaniese aktiwiteite is die atmosfeer baie vuil en die son se strale wat deur die atmosfeer skyn word daardeur verkleur en buig hierdie gekleurde strale in maan2die umbra wat dan ’n dramatiese rooi effek op die oppervlakte van die maan tot gevolg het.

In die voorstelling dui ek van die fases met tussenposes van 30 minute aan.

’n Maansverduistering deur al die fases, (eerste tot laaste kontak) duur ongeveer tussen 3 en 4 uur. Afgesien van ’n totale verduistering vind daar soms ’n gedeeltelike verduistering of indien die verduisterings tydens aphelion plaasvind, ’n ringsverduistering, plaas.

Panda

  • 11

Kommentaar

  • Beste Panda,
    Dankie vir hierdie mooi verduideliking. Soos ek verstaan, sal dit ook "once in a blue moon" wees.
    Groete,
    Angus

    • Beste Angus,
      28 Sep sal nie ’n “Blue Moon” wees nie.
      Volmane vir die tweede helfte van 2015 het/sal op die volgende datums voor(ge)kom: 2 Jun, 2 Jul, 31 Jul, 29 Aug, 28 Sep, 27 Okt, 25 Nov en 25 Des. Daar was dus net in Julie 2 volmane.
      Dit neem vir die maan 27,3 dae om een omwenteling om ’n vaste punt te voltooi soos teen die agtergrond van ’n ster gemeet.. Die maan wentel egter nie om ’n vaste punt nie maar om die wentelende aarde wat in dié tyd ongeveer 45 miljoen km op sy wentelbaan om die son aangeskuif het en wat vir die maan 2,2 dae neem om op te vang en daarom duur ’n maansiklus (volmaan tot volmaan of nuwemaan tot nuwemaan) ± 29,5 dae.
      Daar kom dus min of meer een volmaan in elke kalendermaand of 3 volmane in elke seisoen voor en die verskil akkumuleer sodat daar in ’n siklus van 19 jaar: (19 x 12) + 7 dus 235 volmane voorkom. Seisoene duur drie maande en daar kom in die siklus van 19 jaar dus ook in 7 van die 76 seisoene, 4 volmane voor.
      Volmane vir elke maand het name in die volksmond van verskillende kulture. Die addisionele volmane skep natuurlik nou ’n probleem en word hulle om een of ander rede, waaroor daar nogal taamlik meningsverskil bestaan, ’n “Blue Moon” genoem.
      Daar bestaan twee definisies vir ’n ‘Blue Moon’ en ongelukkig verskil die uitkoms soms.
      • Volgens die ‘maande-reël’ is die tweede volmaan in die maand waar daar twee volmane voorkom die “Blue Moon”. Die volmaan op 31 Julie was dus volgens dié reël ’n “Blue Moon”.
      • Volgens die ‘seisoene reël’, is die derde volmaan in die seisoen waar daar 4 volmane voorkom die “Blue Moon”. Die volmaan op 31 Julie was dus ook die “Blue Moon”.
      Om sake verder te vererger is daar nog twee vertolkings vir seisoene. Volgens die WMO (World Meteorological Organisation) begin die seisoene onderskeidelik op die eerste dag van Mrt, Jun, Sep en Des. Die IAO (Internasionale Astronomiese Organisation) daarteenoor gebruik weer die deklinasie van die son om die aanvang van ’n nuwe seisoen te bepaal, d.w.s. datums vir dag- en nagewening en noordelike en suidelike sonnestilstand wat op 22 Mrt, 22 Jun, 22 Sep en 22 Des val.
      ’n ‘Blue Moon’ op Oujaarsaand volgens die maande-reël is nie ’n ongewone verskynsel nie en kom elke 19 jaar voor. So was dit die geval op 31 Desember 1990 en 2009 en so sal dit weer wees op 31 Desember 2028. Volgens die seisoene-reël kwalifiseer dit natuurlik nie as ’n “Blue Moon” nie.
      Groete
      Panda

  • Panda,
    Nee, het nie geweet nie. Hoe laat? Sal dit graag wil waarneem.
    SêNet het deesdae 'n droogte aan interessante skryfstukke (die oor Stellenbosch is vir my die ene groot gaap). Sal bly wees indien jy kans sien om meer oor die ruimte vir ons uit te brei, gesien jou kennis 'n wye dekking daaroor behels. Vir leke soos myself sien ek nie kans om daaroor akademies te wil oplees nie. Die akademiese taal bly vir my Grieks.

    • Jaco,
      Eerste kontak van die umbra sal Maandagoggend 28/09 so in die omgewing van eerste hoenderkraai om 02:15 wees. In Suid-Afrika sal ons nie die verskynsel end-uit kan waarneem nie omdat die son gaan inmeng.
      Ek sal my gedagte laat gaan oor jou voorstel/versoek. Hier is ongelukkig nog gene wat die geosentriese model aanhang en sulke snert kwytraak dat die aarde kwansuis sy swaartekrag opwek en dat Newton en Einstein nie swaartekrag verstaan het nie en dat Kepler se wette vir die beweging van planete onjuis is en dat Galileo gelieg het oor die Galileaanse mane wat hy kwansuis ontdek het. Punt is, ek is nie lus om in dispute oor sulke basiese aangeleenthede betrokke te raak nie.
      Groete
      Panda

  • Beste Panda

    In http://news.discovery.com/space/astronomy/moon-earth-wobble-tides-nemesis-130726.htm onder die opskrif 'When the Moon Becomes Earth's Nemesis Jul 26, 2013 word melding gemaak dat: 'As we know from Kepler’s laws of motion, when something is sped up in orbit, its orbital altitude will increase. In the case of the moon, it is moving away from us at a rate of 3.78 centimeters (1.5 inches) per year. In addition, the moon also exerts a tiny pull on the tidal bulge and because the moon is slightly behind the bulge, it slows the rotation of the Earth by about 4 hours every billion years!"

    Indien die maan teen toenemende spoed verder weg beweeg van die aarde ,hoe dink jy gaan dit maansverduistering beinvloed.

  • Panda

    Ek het my wekker gestel om die verduistering te sien, maar tot my teleurstelling was dit by ons dik bewolk geweees (Vanderbijlpark) dat die hemelruim nie sigbaar was nie. Hoe teleurstellend!

    • Ai tog Jaco — Jy moet net vasbyt en moed hou want die volgende soortgelyke gebeurtenis vir hierdie deel van die wêreld word vir 2033 voorspel.

  • Beste Panda

    Baie dankie vir jou antwoord.Dit sal gaaf wees as jy dalk verder kan uitbrei oor die gevolge vir planeet aarde en dus ook die mens en die natuur as die maan bly wegbeweeg?

    • Beste FC
      Jou vraag oor die implikasies vir die aarde na aanleiding van die maan wat besig is om weg te dryf , is uiters relevant maar dek ’n geweldige wye veld waarvoor ek vir seker nie opgewasse is om ’n betekenisvolle mening te gee nie.
      Van die belangrikste invloede vanuit ’n sterrekundige hoek gesien is dat die maan getye op die aarde veroorsaak en die helling (± 23,5º) waarteen die aarde se as teen die vlak van sy baan om die son gekantel is, stabiliseer. Die maan is ook verantwoordelik daarvoor dat die aarde se rotasiespoed afneem en die dag al langer word. Namate die maan wegdryf sal hierdie invloede sekerlik afneem. Wat die gevolge daarvan vir lewe en die mens en die natuur hier op aarde inhou, wil ek liewers nie bespiegel nie. Ek verwys jou liewers na die volgende webwerf vir ’n interessante artikel en kommentare.
      http://scienceblogs.com/startswithabang/2013/08/08/the-top-5-things-wed-miss-if-we-didnt-have-a-moon/
      Daar is ook oa die volgende video’s en talle ander op YouTube wat dit uit verskillende hoeke bekyk.
      https://www.youtube.com/watch?v=LygCTL6b7YU
      https://www.youtube.com/watch?v=IEsGndNE1yA
      https://www.youtube.com/watch?v=aQXNpZsfpd4
      https://www.youtube.com/watch?v=I1_TZqAO76A
      Ek wil net ’n regstelling op my vorige antwoord aan jou, maak. ’n Ringsverduistering het eintlik betrekking op sons- en nie op maansverduisterings nie. Tans is die skyf van die maan tydens perihelium effens groter as die van die son wat beteken dat ’n totale sonsverduistering moontlik is. Maar tydens aphelium is die skyf ’n raps kleiner as die van die son en wat ’n totale verduistering kon wees, is dan net ’n ringsverduistering. Wanneer die skyf van die maan as gevolg van sy wegdrywing selfs tydens perihelium kleiner sal wees as die skyf van die son, sal ’n totale sonsverduisterings geskiedenis wees en kan dit nooit weer voorkom nie.
      Die aarde se skaduwee is baie groter as die maan se skyf en totale maansverduisterings sal vir seker nog miljoene jare nog voorkom.

  • Beste Panda
    Baie dankie vir die skakels. Dit is beslis die moeite werd om dit te aktiveer.
    Dit kan met vrymoedigheid aanbeveel word vir elkeen wat in die onderwerp belangstel.
    Wat my opgeval het is die aantal kere wat wetenskaplikes die woord 'toevallig' (chance) gebruik. Die vraag wat enige mens of jy nou gelowig of ongelowig is hom/haarself moet vra, hoe klein/groot is die kans is dat alles toevallig net op die regte tyd ,teen die regte invalshoek, met die regte grootte, op die regte plek in die onmeetlike heelal plaasgevind wat tot die ontstaan van die aarde en maan en dus uiteindelik tot lewe op aarde gelei het.
    Bewys ek hiermee dat 'God' bestaan? Glad nie maar wel dat dit elke mens tot nadenke moet stem of alles wel net toevallig is en sigself dus moet afvra of daar nie dalk ander kragte tot dusver aan ons onbekend in werking was wat tot die Oerknal gelei het.
    Wonder waarom Kobus de Klerk die laaste tyd so stil is?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top