Sondae eet ons op die stoep. Dis die enigste stoflose dag van die week. Dan gaan lê die verstikkende stof wat die veetrokke van Maandae tot Saterdae op pad na Lappies se slagpale uitry. Na kerk maak ons 'n brunch – sommer net tamatie-en-kaas-snackwiches en tee – en dan sit ons buite op die smal stoep. Ek en Ma.
Dis nie 'n pad wat gereeld besoekers bring nie; selfs nie op 'n Sondag nie. Tot vanoggend. Toe die stof van 'n U-draai laatoggend oor die tuinhek neersif, bly ons sit. Moontlik verkeerde adres, maar twee deure slaan toe.
“My aarde, ek glo dit nie!” roep my ma verbaas uit. “Barbara, sien jy wie is dit?”
Onseker kom hulle nader. Lanklaas se sien bring 'n behoedsaamheid tussen mense.
“Kom binne. Ek glo dit nie,” herhaal my ma, asof die herinnering aan sewentien jaar se saamleef slegs hierdie een emosie - ongeloof - in haar wek. “Ons sit sommer hier buite op die stoep.”
Sy lyk goed. Steeds die paar ekstra kilogramme, maar dit het die jare weggehou. Hy, aan die ander kant, is maer en onderdanig – soos ek hom onthou.
“Nee, kom in, kom in.” Ma hou die deur oop.
Ek sien die huiwering. Sy gaan sit op die rand van die stoel, soos iemand wat haastig is om 'n boodskap te los – en tog het hulle bykans twee honderd kilometer ver gery. Haar oë gly oor die wynrooi fluweelgordyne, die swarthout-eetkamerstel, die vleuelklavier. Dis asof die herkenning haar gerusstel.
“Vertel,” probeer my ma haar aan die praat kry. “Is julle nog op die plaas?”
Brokkies inligting, veilig gesif: “Die veld lyk mooi … goeie reëns gehad … Krummel het toe maar by ons kom bly … Te oud vir skaap aankeer geword … Laasjaar dood …”
Hy beaam alles met 'n effense kopknik.
“En die motor?” vra my ma.
Trots laat die maer lyf regopper sit: “Laaank gespaar.”
Ma kyk op haar horlosie. “Dis nog vroeg. Eet iets saam met ons … Barbara, sal jy? Spek en eiers. Rasperkaas. En skons … bak gou 'n paar skons.”
“Nee, ons het net vinnig …”
“Natuurlik gaan julle hier eet. Julle het ver gekom.”
Al wil die gesels nie vlot nie, wil Ma hulle nie laat gaan nie. Sewentien jaar is 'n lang tyd.
Ek haal die Noritaki-koppies uit die buffet. Sukkel. Die deur kan nie heeltemal oop nie. Alles is so ingeprop in die huurhuis. Ek dek die tafel: kningsblou doek onder; fyn gehekelde tafeldoek bo-oor. Ook dít moet sy onthou.
“Julle kan kom aansit,” nooi ek toe die maal gereed is.
Weer die huiwering: “Ons kan mos nooit …”
“Staan nader,” sê my ma en trek die stoel vir haar uit: “Laat my toe …”
Die besoeker vou die sjwesjwe-romp onder haar in voordat sy vir die eerste keer aansit by die tafel wat sy vir sewentien jaar lank gedek het.