“Waarom is romans, kortverhale en gedigte oor stede vir my so boeiend?” vra iemand my dié week. My eenvoudige antwoord is dat letterkunde mens die verskillende maniere wys om deur kuns en deur taal na ’n stad of ’n plek te kyk.
Wanneer mens deur ’n stad loop, dink mens jy sien wat ander mense sien. Maar dit is glad nie die waarheid nie. Ons elkeen se emosionele en kulturele grondslag vorm ons interpretasies van ’n plek. Elke karakter in ’n roman of kortverhaal sal ’n plek anders sien. As Lina Spies byvoorbeeld ’n gedig oor Stellenbosch skryf, gaan dit nie oor die dorp Stellenbosch nie, maar oor die dorp soos sy dit sien. André P Brink se reisverhale van Parys kan nie as ’n toergids gelees word nie. Loftus Marais se Kaapstad is nie my Kaapstad nie. Letterkunde het dus die potensiaal om te wys hoe gekompliseerd geografie kan wees.
Verder is elke kunswerk (hetsy skildery, roman, essay of gedig) die skepping van ’n nuwe wêreld of ruimte. En hierdie ruimte moet van só ’n aard wees dat die leser of kyker hom- of haarself heeltemal daarin kan verloor. Om goeie lesers te word, moet ons dus leer om die wêreld wat die skrywer skep, van naderby te beskou. En dieselfde geld vir skrywers: wanneer jy ’n roman op ’n bepaalde plek wil laat afspeel, moet jy daardie ruimte van baie naby bestudeer. Dit beteken dat jy nie op veralgemeende idees van die stad of plek kan staatmaak nie. Ook as jy die ruimte wil verander of ’n fiksionele ruimte wil skep.
Ek gaan die voorbeeld noem van ’n gebou in Hillbrow waar ek onlangs was wat so ’n vreemde indruk op my gemaak het en wat ek aan die één kant dink die potensiaal het om as ruimte vir fiksie ingespan te word en aan die ánder kant as metafoor gebruik kan word vir wat ’n skrywer in sy of haar verhaal met ruimte kan doen.
Hoewel ek dit nog altyd ken as wesenlike deel van die Johannesburgse stadsprofiel, was ek nog nooit voorheen in Ponte City in Hillbrow nie. Dit is met sy 173 m die hoogste residensiële wolkekrabber in die suidelike halfrond. Meer as 60 verdiepings. Dit is in 1975 gebou as een van die mees luukse woonstelkomplekse in kosmopolitiese Johannesburg. Dit is silindries, met ’n yslike holte in die sentrum – wat bekend staan as “the core”.
In die 1980’s het Ponte City egter vir sy misdaad en bendes bekend begin word. Teen die 1990’s was dit een van die onveiligste plekke om in Johannesburg te woon. Dit het van die dwelms, misdaad en prostitusie gewemel. Dit het gestink, want die “core” was in ’n stadium tot op die sewende verdieping met vullis en puin gevul! Die eerste en tweede verdiepings was informele bordele, en die hysbakke het nie meer gewerk nie – wat veroorsaak het dat inwoners vanaf die 20ste verdieping gratis kon aanbly. In 1998 was dit so erg dat daar sprake was om dié wolkekrabber in ’n hoësekuriteitstronk te omskep.
Hoewel die gruwelike spoke van die verlede nog aan sy betonmure kleef, vertel Ponte City vanaf 2007 egter ’n heeltemal ander verhaal. Vandag is daar agt hysbakke wat goed werk, en streng sekuriteit. Die “core” is heeltemal skoongemaak, die woonstelle mooi gerestoureer en bekostigbaar, met ongelooflike uitsigte wat so ver as Pretoria strek. Dis nou as mens daarvan hou om in ’n betonbuis in die middestad toegesluit te word. Maar dit is weer my persoonlike persepsie.
Te danke aan Dlala Nje, ’n gemeenskapsorganisasie wat vanuit die onderste verdieping (die bodem) van Ponte City in Hillbrow werk, is ek ’n paar weke gelede uit my gekoesterde en gekloosterde bestaan in voorstedelike Johannesburg gehaal om nie net ’n begeleide toer deur die berugte Hillbrow te onderneem nie, maar ook hierdie fassinerende gebou van naderby te bekyk. Die twee ouens wat dit reël – Desire en Darren – woon albei in Ponte City. Hulle gemeenskapsorganisasie reël aktiwiteite vir die honderde kinders, afkomstig van oraloor in Afrika, wat in Ponte City woon. Om te keer dat die kinders te veel tyd op straat spandeer, én om kinders van die voorstede (soos ek) die strate van Hillbrow te laat sién. Indien jy dus ’n roman of kortverhaal in dié gebou of stadsdeel wil laat afspeel, is Dlala Nje ’n goeie organisasie om by te begin. Hulle ken die stad, die gebou en sy mense soos die palm van hulle moedige hande. Hulle ken die lingo, hulle dra die regte klere, hulle weet hoe om ontspanne in die middel van Pretoria straat te cruise.
Ek het lank nog nie genoeg informasie oor Ponte City om ’n verhaal daar te laat afspeel nie, maar nét genoeg om dit te gebruik as metafoor vir wat ’n goeie verhaal met ruimte moet doen. Soos Ponte City moet die ruimte van ’n roman lesers boei, fassineer, bang maak, vrae laat stel, laat wonder. Dit moet eindelose lae geskiedenis hê. Karakters van verskillende smake, kleure en geure moet dit bewoon; daar moet verskillende stemme wees wat eggo in die gange of die roman se hysbakke. Dit moet ’n ruimte wees wat spanning of atmosfeer genereer – dit moet tasbaar wees. Maak van die ruimte van jou roman of verhaal ’n wolkekrabber met ’n interessante geskiedenis. Let wel: ek bedoel dit metafories.
Volgende week vertel ek meer van ’n roman wat ek besig is om te lees wat ook afspeel in Hillbrow en iets tasbaar, gruwelik, fassinerend en geheimsinnig met die ruimte van Johannesburg, Hillbrow en ’n wolkekrabber maak. Met as hoofkarakter ’n fantasties dapper flaneur wat nie bang is om vrou-alleen die verskillende ruimtes te verken nie.

• Indien jy wel ’n roman in Hillbrow of Johannesburg wil laat afspeel, of net geïnteresseerd is in dié deel van die stad, kan ek dus ’n begeleide toer van Dlala Nje voorstel.
• Navorsing is van kardinale belang as mens geloofwaardige ruimtes wil skep. Begin miskien met The Joburg Book, deur Nechama Brodie saamgestel. Maar daar ook vele ander onlangse boeke oor die goudstad, hetsy fiksie of non-fiksie op hierdie blad te vinde.
Tot volgende week
Rentia
• Alle foto's in die rubriek, behalwe die boekomslag, is deur Stefan Arno Möhl geneem.


Kommentaar
Interessant, Rentia! Onthou dat ons een slag gesels oor al die Stellenbosche (wat sou jy sê is die meervoud van Stellenbosch ...?) in Theo Kemp se Skool ...
Kan jy nou meer!!! Ponte City was nog altyd vir my net 'n baken om my 'bearings' te hou vanaf die Oos-Rand stadtoe en terug. As ek nie daar langs verby ry nie, weet ek ek was verdwaal! Een keer in Sandton opgeland toe ek van Uncle Charlie's af by Ponte City wou uitkom om by die huis in Boksburg te kan kom. Ja, ek het toe nog nie al die paaie en verbypaaie en ompaaie van Joeys geken nie!!!
En ek weet ook van al die 'skinderstories' oor die gebou: Die straatvrouens en smokkelaars - net nie van die vuilgoed wat verdiepingshoog gelê het nie.
Vandag woon ek by die see en die oggend as daar tien motors op die Oostelike-verbypad is, is die toeloop net te erg!!! Waar's die dae...