Hierdie is vir eers my laaste brief aan SêNet. Ek lees al so lank hier en het al lank genoeg van die kantlyn deelgeneem dat ek voel ek wil graag my besluit verduidelik.
Eerstens is ek verveeld met die inhoud. Al wat te lese is, is obskure aanhalings uit nog meer obskure boeke van twee skrywers wat, hoewel polities pole uit mekaar, blykbaar kyk wie die mees onsamehangend kan wees. Dan die alewige godsdienstige skrywers wat nie een n argument met ’n strooipop kan wen nie. En dan ook Jan Rap en kie wat steeds in die 80's lewe en daagliks op SêNet ’n dagboekinskrywing van daardie tyd opdis. En dit is al. Dit is wat SêNet geword het. Hakkelende huigelaars is al wat oor is, al wat ooit die oog van Maggie vang. Dit is verveligheid in die ergste graad. En wat erger is, is dat julle by SêNet dit weet.
Verder grief dit my dat die webmeester/s blykbaar dink hierdie snert enigsins interessant is of ooit kan wees. Hierdie klein groepie word elke keer boaan ’n korter wordende lysie deelnemers geplaas. Die werklik interessante skrywers word telkens iewers in die middel of teen die einde weggesteek. FW wat almal bedonnerd maak kom laaste. Maggie, hy skryf goed al stem jy nie met hom saam nie. Hans Richardt is nog so ’n geval. Hierdie man skryf in kort paragrawe van ’n lewe geleef. Hy skryf oor die pyn van ’n witman wees in Suid Afrika – en wat doen julle by SêNet daarmee? Sit dit konsekwent teen die einde. Daar waar alle bydraes gaan om nie gelees te word nie. Hy mag miskien ’n chauvinis wees, maar hy het idees.
My laaste grief is dat so baie van die beste deelnemers nou weg is agv bg redes en ander ook. Oester en Afrikaan word veral gemis.
Ongelukkig het die huidige redaksie ’n goeie idee gevat en dit befok. Jammer, maar dit is die waarheid. Gee die forum eerder ’n genadedood as om te aanhou kyk hoe dit wat eens goed was stadig uitmergel.
Vaarwel vir eers,
"koos sas"

