Maak ’n pyp en dans (’n Begeleide trippie op soek na die droom)

  • 2

(Luister met goeie oorfone of koppel jou rekenaar vir goeie klank aan jou hoëtroustel.)

Na wie se pype dans jy? Betrap jouself in ’n goeie bui met ’n massiewe klankstelsel en verloor beheer in die ekstase van ’n smerige Hammond- of pyporrelsolo wat disrespekvol en met minagting tot diép in die rooi in gespeel word. En as jy gedink het nét JS Bach of Saint Saëns gaan dit vir jou doen, luister eers hierna: kyk in die snit hier onder of jy die lekkerte van die Hammond-solo wat by 1:30 begin, enduit kan hanteer – dit kan jou mal maak. Vínnig en hárd. Die orrelsolo-klimaks skop eers na drie minute in. (Luister teen hoë volume – en verkieslik op volle vaart.)

Haal asem. Wat is dit omtrent groot orrelsolo’s wat mens laat opvlieg en wild laat dans en dirigeer? Dis hel om ’n bietjie bipolêr te wees; jis, dis lékker!

Ons almal se eerste blootstelling aan die groot klanke van die pyporrel was sekerlik JS Bach se Toccata in D mineur. Daardie dreunende waterval van diep en donker Dracula-musiek. So word dit gedoen op ’n ordentlike kerkorrel.

Aan die jazz- en blues-kant is daar die man met die gróót gróót hande wat alles oorheers. “The incredible” Jimmy Smith. Sy musiek is nommerpas wanneer jy die kombuis invaar om die munchies met taktiese kookkuns te uitoorlê. Die dubbele CD Got my Mojo Workin’ en Hoochie Coochie Man is net lank genoeg om ’n kleurvolle paella mooi tafelgereed te kry. Die klankopname van “Root Down” is uitstaande – gewaarborg om jou die garnaaldans te laat dans.

Daar was ’n tyd toe die eertydse SAUK se sensuurraad beeldskone orrelbegeleide musiek as ongewens verklaar en verban het. Die effek wat die ondergenoemde stukkie orrelmusiek op die sensuurraad se ringkoppe gehad het, kon nie deur hulle oorvertel word nie. Dit was vir hulle so verleidelik mooi dat dit terstond as onheilig verklaar en tot die brandstapel verban is. Wat kan mens meer sê van hierdie sensuele tema van Serge Gainsbourg en Jane Birkin? Je t’aime – Moi non plus (Ek’s lief vir jou – en ek ook nie.)

Dan is daar een van die meesters van die orrel in rock, Jon Lord van Deep Purple. In die laat ‘60’s en vroeë ‘70’s neem Jon deel aan ’n era waar al hoe meer van die underground se klank gedomineer word deur die Hammond-orrel, ingespan met ’n Leslie om met sy draaiende luidspreker se doppler-effek die klank teen hoë spoed die ruimte in te slinger. “Burn” is een van my gunsteling Deep Purple snitte. Eers vat Ritchie Blackmore die solo op kitaar, maar kyk uit vir Lord se Hammond-solo wat inskop op 3:56 Hierdie solo is onvergeetlik groot in my geheue ingebrand. Kyk uit vir die mees perfekte en opruiende meesterprogressie op 4:24. Daar is op aarde en oraloor niks mooier as dít nie. (Hierdie solo is een van die grótes en smeek verál vir maksimum spoed en gróót volume.)

Hier is die skakel na die geskiedkundige lewende weergawe van “Burn” tydens die 1974 Ontario Speedway-konsert. Die konsert eindig in anargie nadat Ritchie Blackmore sy humeur met die grootmenere van ABC-TV verloor en ’n TV-kamera met sy kitaar stukkend slaan. Daarna laat hy die Marshall Stack opgaan in rook en slinger dit dan stuk-stuk die gehoor in. Jon Lord oortref homself in hierdie optrede – hy wen die oorloggie loshande. Ian Gillian was op sy tyd nie te versmaai nie, maar hiérdie was die beste Deep Purple-samestelling ooit, met David Coverdale op lead vocals. En kyk net hoe vat die supertalentvolle Glenn Hughes (hierdie line-up se baskitaarspeler) die lead vocals oor vir ultra-effek.

Die arm man se Deep purple, Uriah Heep, vat dit verder met die Hammond-en-Leslie-kombinasie. David Byron is by verre dié beste voorsanger van sy tyd. Dié klong gooi hard en skerp en duidelik – met die Hammond wat onverpoosd voortgaan om ’n nuwe hemel te sien kom en te gaan loop oopspeel.

Uriah Heep se “Gypsy” is epies. Op 17 was dit die klankbaan van my dagdrome. Weer eens is daar die Hammond wat die pas aangee en sonder skroom als aanvat wat opdaag: luister veral na die radikale links- en regs-“panning” van die orrel en kitaar wat kenmerkend was van die produksiestyl van daardie tyd.

Dis nou nie asof die ‘70’s se underground eintlik alleen die krediet kan vat vir die gewildheid van die Hammond nie. Daar was ’n tyd lank lank gelede toe die Mellotron- (Beatles, Sergeant Pepper) en die Moog-sintetiseerder (Pink Floyd en Moody Blues) nog nie bestaan het nie, en toe die Hammond die mees aangewese en veelsydige musiekinstrument vir musiek se buitebreine was. Só het dit alles begin:

Kostelike oomblikke.

Elkeen van ons is lewenslank op soek na daardie droom van drome, die absolute psigedeliese pypdroom van alle tye. As Josef van ouds dit kon regkry, dan kan jy ook. Hier is die geheim: die antwoord sal jy kry in Procol Harum se “A Whiter Shade of Pale” (let wel: die weergawe sonder vocals). Só maak mens: jy parkeer jou hoëtroustel se luidsprekers weerskante van jou kopkussing, gaan lê met toe oë plat op jou rug en draai die volume op 11. Voel hoe jy lig word en wegdryf saam met die baskitaar. Jy styg op met die wolk van orrelakkoorde wat aanhou oplos en al malende wegdryf tot hoog in die verste buiteruimtes in. “The room was humming louder as the ceiling flew away.”

In Barcelona is ek en my vrou eendag op soek na die Picasso-museum. Toe ek reken ons is nou naby die plek, word ons aandag afgelei deur hemelse kerkorrelklanke wat weergalm tussen die geboue in die nou straatjies. Ons volg die klanke en kom af op hierdie man wat massiewe orrelklanke optower uit ’n ... akkordeon! Jare daarna soek ek na hom op YouTube, en siedaar, mét ’n straattoneel van hom in aksie.

Die grootste oomblik los ek vir laaste: ’n Ongewone en aangrypende kombinasie van kerkorrel en saksofoon – Duke Ellington se “Almighty God”, soos gespeel deur Gustaf Sjökvist op kerkorrel en Arne Domnerus op saksofoon.

Naskrif: Elkeen van ons koester sy eie voorkeur van orrel-oomblikke. Tydens die skryf hiervan het vriende vir my heelparty skakels van hul grootste orrel-oomblikke gestuur. Ek sluit die bestes hierby in:


Gustav Franzsen

Kerneels Breytenbach

Simon Orange

Bert van der Walt

Daar sal nog baie van jou eie grootstes wees – kap en pleister en deel die skakels met ons hier onder vir bespreking.

Lekker.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    CorneliusHenn

    En daar blaas ek nie net amper al my byte vir die maand nie, maar sommer die bure bo, onder en langs die kant uit ook ... dankie Albert, dis heerlik!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top