
Foto: Canva
Ma is, Ma is
I
Die liggaam op die bed word smal van lank bestaan.
Van die kant gesien, sou jy ’n opskeplepel kon neem
en die organe uitskep in die slaap.
Dit sou kwalik ’n klein skottel vol maak,
lewensap sou nie daaruit lek nie.
Nouliks sou dit op orgaanroof neerkom,
want dor het dit geraak.
Die opruimwerk eenvoudig.
Sou jy die asemhaling aan die ritmiese
op en neer van die suurstofmasjien meet,
sou dit ’n meganiese deining wees,
asof uit die sinapse van ’n oergeheue.
Die voëls kondig immer die daeraad aan:
Kyk liggaam, die dag het gebreek.
Onder die witruis van buisligte is die nag soos dag,
ure afgetik met die dodelike presisie van skofwerkers,
die bedrywige insekte wat sekondewysers en polsslae vertrou.
II
Wanneer die skeletale geheue die spore van ’n plaaspad neem,
swel die afgeremde lyf uit van die oggendmis oor kaal vingers,
die geklingel van beesklokke, die reuk van somergras.
Die eens gebalsemde liggaam op die bed
word astraal deurdring,
elke orgaan gevul met bloed en vate,
spiere en senings uitgestrek na sterlig,
om weer in die niet terug te val.
Ma is, Ma is


Kommentaar
Deernisvol!
Celeste bly 'n Woordenaar!
Só mooi verwoord! Uitstekend.
So besonders.
Goeie gedig. Lief jou digwerk.
Hoe treffend! ’n Meesterlike skets van die laaste grens.
Jy bewys weer jy ken van woorde inspan vir dieper vlakke van betekenis, Celeste.
Baie dankie Lieb, Annatjie, Anna-Marie, Toeks, Zebulon, Louis en Ena vir jul tyd, leeswerk en terugvoer. Ek waardeer die moeite, en die empatie met die reis.