Lyk my ons is Engels

  • 4

Ons Boere, Afrikaners, Afrikaanses, Afrikaanssprekendes, is maar eintlik Engels.

Ek kom nou die dag op KykNet se Ontbytsake af en daar is die program Engels! So ’n swartkopvrou is Dawie Roodt se gas en hulle praat net Engels, op ’n Afrikaanse program en niemand vertaal nie! Teen die einde van die program vra Dawie haar om iets in Afrikaans te lees wat sy toe doen, hortend en stotend, en daar spring Dawie uit sy vel van blydskap; die vrou kon bietjie Afrikaans lees! Kan jy jou so iets op ’n Engelse kanaal voorstel; die programleier praat Afrikaans met ’n Afrikaanse gas en jubel as die Afrikaanse gas ’n stukkie in geradbraakte Engels lees? Nooit nie.

Luister maar waar mense inbel op die radio vir werk of om ietsie te verkwansel of ruil (Werksoek en Iets vir Iets). Al die terme is Engels! Boilermaker, gearbox, bumper ens.

Gaste op die radio, en partykeer omroepers self, sê dikwels “... ek weet nou nie wat die Afrikaans hiervoor is nie” of “... in Engels sê ons ...” of hulle sê bloot die Engelse woord en volg met die verskoning “as ek dit nou so kan noem”. Sal jy ooit ’n Engelsman hoor sê “I don’t know the English word for this ...” en dan sê hy die Afrikaanse woord? Of “... in Afrikaans we call it ...”? Nooit nie.

Predikante gedurende ’n preek sê partykeer “... die Engels sê dit vir my so mooi ...” en dan haal hy aan uit die Engelse Bybel. Of die predikant trek sommer los en sê ’n hele paar sinne in Engels. Sal ’n Engelse predikant ooit sê “... the Afrikaans word describes it so well ...”? Of sommer oorslaan in Afrikaans vir ’n ruk, of die gemeente in Afrikaans laat sing aan die einde van die preek? Nooit nie.

Afrikaanse mense begin welsynsorganisasies, besighede ens en gee die goed Engelse name alhoewel die gemeenskappe wat hulle dien, of hulle klandisie, hoofsaaklik Afrikaanssprekend is. Hoekom?

As Afrikaanssprekendes vreemde mense aanspreek doen hulle dit altyd in Engels alhoewel die statistiese kans dat die aangespreekte Afrikaans is baie groter is as wat hy Engels sou wees.

Afrikaanse skilders, beeldhouers en fotograwe gee hulle werk Engelse titels. Hoekom?

Daar is Afrikaanssprekendes wat kaas maak, bier brou, wyn maak ens maar die produkte kry altyd Engelse name. Hoekom?

Ons selfone is almal Engels en almal aanvaar dit sonder teëspraak. Hoekom?

Daar is Afrikaanse mense wat heeltemal bereid is om akkoord te gaan daarmee dat skoolonderrig voortaan maar in Engels moet wees. Sou Engels OOIT die magtige taal geword het wat hy nou is as sy sprekers daardie houding gehad het? Nooit nie.

Op fb is ons mense se spelling en taalgebruik huilenswekkend pateties en, sodra hulle daarop gewys word, raak hulle woedend of hulle dreig om Afrikaans te versaak en voortaan Engels te word. Afrikaans is nie meer ons erns nie.

Wat ’n verleentheid.

Jan Rap

  • 4

Kommentaar

  • Johnnes Comestor

    Jan, jou benadering is reg: Vergelyk hoe Afrikaans behandel word met hoe daar met Engels omgegaan word. 'n Voorbeeld ter aanvulling: Waarom word die voorletters van mense met Afrikaanse vanne soms/dikwels Engels uitgespreek, maar in Engels word die voorletters by Engelse vanne nie Afrikaans uitgespreek nie?

  • Ai Jan Rap, persoonlik dink ek Afrikaans sal beter vaar as daar nie so oordrewe daaraan adverteer word nie. Amper soos "The lady protests too much". Taal is 'n lewendige organisme - sal voortbestaan en die mense wat dit praat,sal dit laat groei. Om fanaties aan die suiwerheid vas te klou, doen meer kwaad as goed. Die stigma van die "taal van die onderdrukker" word nie regtig doodgeleef nie. Ons moet ons meer oor die skade bekommer van Afrikaanse mense wat mede-burgers nog steeds sonder respek behandel en so die taal in die voet skiet. Wie sal respek hê vir die taal as die gebruiker jou menswaardigheid skaad?

  • Die vraag is eerder: maak die taalstryd vir die meeste Afrikaners saak of is dit maar 'n elite-ding?

  • Joao, hoe kan dit nou 'n elite-ding wees? Om iets van ondergang te red is mos normaal, trouens, noodsaaklik of dit nou die reënwoud of die blouvlerkskoenlapper of 'n taal of wat ook al is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top